Musiekkenners reken hulle was die band van 2009. En die beoordelaars van die MK- en Vonkmusiektoekennings stem saam: Die musiek wat die Straatligkinders maak is uniek en baie opwindend.
Dié jong manne van Potch het 'n opskudding in die musiekbedryf veroorsaak. Hul styl is harde rock, emo-punk, metal – alles in een. Maar luister jy na die lirieke tref dit jou: die ouenssing eintlik Christelike musiek! Daar is nie juis uitsluitsel oor watter soort musiekStraatligkinders nou eintlik maak nie, maar op hul MySpace-blad praat die bandvan“Potchcore” en “emokaans”.
“Ons sing maar rock. Goeie Afrikaanse rock met 'n catchy chorus,” verduidelik die hoofsanger Bouwer Bosch. Hy is ook verantwoordelik vir die meeste van die lirieke.
Die manne van die lig: Hein Kruger, Ruan Kruger, Bouwer Bosch en Bennie de Jager
Baie sou met die eerste luister na Straatligkinders, of SLK, nie kon dink dat die boodskap van dié luidrugtige musiek Christelik is nie, maar al vier lede van die groep – Bouwer (sanger en lirieke), die tweeling Hein (baskitaar) en Ruan Kruger (tromme) en Bennie de Jager (kitaar) – loop die pad saam met God.
“Dawid in die Bybel kon tien instrumente bespeel en ek is seker as hy vandag geleef het, sou hy beslis die elektriese kitaar probeer het of 'n bietjie in elektroniese musiek ingegaan het omdat hy so 'n passie vir musiek gehad het. In ons harte glo ons Christenskap is 'n leefstyl en nie 'n musiekstyl nie. Ons gebruik net ons musiek om die boodskap van God oor te dra.”
Hul lirieke is poëties, roerend en sny tot op die been. Wie sal dan nie met dié woorde van die song Neem my weg van die album Sweef soos 'n vuishou kan identifiseer nie?
Ek weet hoe dit is om kwaad te wees. Vir God, vir kerk en almal wat my wil kruisig, my wil kruisig. Ek weet hoe dit is om Sy hand te voel op my hart Want Sy liefde wen, liefde wen.
Ek weet hoe dit voel om alleen aan iets te dra. Ek weet hoe dit voel om met haat rond te loop. Ek weet hoe dit voel om alleen te wees. Ek weet hoe dit voel om te kan vergeef.
Hul boodskap vind aanklank by luisteraars sowel as musiekkenners, want tydens die 2009-Vonkmusiektoekennings is die groep met twee pryse bekroon: beste alternatiewe album én beste geestelike musiek-album. In laasgenoemde kategorie moes hulle met gesiene gospelsterre soos Willie Joubert en Ronéll Erasmus meeding.
Kampus-hits
Bloeisels, die band se eerste CD, is in 2007 uitgereik en was onmiddellik 'n groot hit onder die plaaslike studente en skoliere op hul tuisdorp, Potchefstroom. “Ons het al 'n paar ouer mense gekry wat ons musiek geniet, maar die meerderheid is maar jongmense,” sê Bouwer. Sedertdien tree hulle regoor Suid-Afrika op en die aanhangers staan tou om hulle in aksie te sien. Die energie stroom vanaf die verhoog en hulle vertel die kunstefeeste InniBos op Nelspruit, en natuurlik Aardklop op Potch, is van die lekkerste shows wat hulle al gedoen het.
SLK is maar een van vele kampusbands wat in die afgelope paar jaar die Afrikaanse musiekmilieu getref het. Sulke bands doen ongelooflik baie vir die opbloei en ontwikkeling van Afrikaanse musiek. Die ouens sê die ontploffing op die Afrikaanse rockscene is aan Afrikaanse mense se patriotisme te danke. “Ons mense is baie trots op hul taal en kunstenaars is nie meer skaam om hul stem dik te maak met musiek nie.”
Hulle dink ook MK en die Rockspaaider-kompetisie help beslis om die taal en Afrikaanse rockmusiek onder skoolkinders te bevorder.
Die vierspan het groot bewondering vir die Polisiekarre. “Ek was nog altyd 'n groot aanhanger van Hunter Kennedy se lirieke. Die belangrikste oomblik in my musiekloopbaan was toe ek Francois van Coke ontmoet het,” bieg Bouwer. “Hulle is amazing musikante. Ek stem nie altyd saam met wat hulle doen en sê nie, maar ons leer baie van hulle.”
Aanhangers van Fokofpolisiekar en hul splintergroep Van Coke Kartel, sou die Straatligkinders al 'n paar keer saam met dié bands sien optree het. “Ons is vriende met die groepe saam met wie ons toer. Baie van hulle het ook al deur die kerk seergekry, maar ons probeer anders wees as die prentjie wat hulle van die kerk en Christene het. Jy moet net vriende wees met iemand sonder om hom te wil bekeer,” verduidelik hulle.
Dis hiérdie beginsel wat van hulle sulke suksesvolle Christenkunstenaars maak. Hulle is dalk nie jou deursnit gospelsangers nie, maar hulle laat jongmense anders oor God en die Kerk dink.
Hul musiek gaan oor elke dag se ervarings: verhoudings, gebrokenheid, geluk en die geloof.“As ek skryf probeer ek die belangrikheid van God oorbring en hoe om Hom met jou hele lewe te eer. Daarom gebruik ek gewone situasies sodat mense kan sien God is oral teenwoordig, ditmaaknie saak wat jy deurgaan nie,” verduidelik Bouwer.
Skreeuende aanhangers, topverkoper-CD’s, musiektoekennings – hulle het dit alles. Wat is hulle suksesresep?
“You cannot make a difference if you are not different,”verduidelik Bouwer.“Ons leef volgens daardie motto. En natuurlik verg dit lang ure voor die rekenaar en baie harde werk om sukses te bereik.” En die pad vorentoe? “Ons is reeds besig met 'n nuwe CD. Dit gaan hopelik teen April vanjaar uit wees. Die album is ons beste nog en daar gaan 'n bonus-CD wees met 'n hele paar verrassinkies op,” sê die groep.