jouapplous

 

Steve doen Kris

 

Steve Hofmeyr se musikale ode aan Kris Kristofferson is nou op CD en DVD beskikbaar. Naas sy Toeka-projekte is die Kris Kristofferson-vertoning sy troetelprojek waarvan hy die CD-opname binne twee weke gedoen het – tussendeur twee massiewe operasies.

 

 

Steve Hofmeyr het nog altyd aan die liedjieskrywers en kunstenaars wat sy kreatiewe werk beïnvloed erkenning gegee: Dié keer bring hy musikale eer aan die kitaargenie Kris Kristofferson – die Amerikaanse ikoon van wie hy nog altyd 'n aanhanger was.

Die DVD, met die titel Help Me Make It Through The Night: Steve Hofmeyr Sings Kris Kristofferson, is 'n konsert-opname van sy vertoning by Emperor's Palace aan die Oos-Rand.

 

Wanneer iemand die woorde "why me, Lord" sê, vereenselwig mense dit onmiddellik met dié tydlose treffer van Kris Kristofferson, gesels Steve oor Kris se gewildheid wat oor dekades heen strek.

"Dit was egter 'n reuse uitdaging om 'n vertoning rondom dié enigmatiese kunstenaar te skep."

Steve sê, net soos met sy Neil Diamond-projek, was die moeilikste deel van die voorbereiding van die Kristofferson-huldeblyk nie om die liedjies te kies nie: "Die liedjies is daar, maar inligting oor dié kunstenaars is maar skaars. Ek moes 'n teks bou met slegs die karige biografiese materiaal wat daar beskikbaar is."

 

Soos die geval met sy vorige produksies, het Steve ook baie aandag aan detail aan sy Kris Kristofferson-produksie gegee. In dié proses is 'n unieke konsertervaring geskep: 'n kombinasie van Kristofferson se aura met Steve se eie benadering tot die gegewe.

 

Behalwe vir die liedjie Jesus was a carpenter, is daar baie min sneltempowerk in Kris se repertoire. "Hy bied eintlik rustige luistermusiek," verduidelik Steve.
Daarom het hy en sy vrou, Natasha Sutherland, vir die produksie 'n fees vir die oog geskep met agtergrondpanele en videoprojektors. Dié asemrowende visuele materiaal word as 'n ID-snit op die DVD ingesluit.

 

Hy weeg sy Neil Diamond en Kris Kristofferson-produksies só teen mekaar op: "Wanneer ek konsentreer, kan ek Diamond nogal getrou doen; maar wanneer ek ophou konsentreer, is ek Kris. Ons deel 'n golflengte: intellektueel en emosioneel. Dit help natuurlik dat ek 'n stoere bewonderaar van albei is. Met die Kristofferson-huldeblyk hou ek die musiek minimalisties en so na aan die oorspronklike klank as moontlik. Dit wil nogal gedoen wees met 'n metal band!"

 

Steve se musikale veelsydigheid, asook sy vaardigheid as akteur, is natuurlik 'n pluspunt in 'n vertoning van dié omvang.

 

"Naas my Toeka-projekte is die Kris Kristofferson-vertoning my troetelprojek. Ek het die opname binne twee weke gedoen, tussendeur twee massiewe operasies. Tydens die opnames het ek nog 'n kolostomie-sak gedra. Ek het intussen heeltemal herstel, maar ek moet erken, die ongemak tydens die opnames het die interpretasie aansienlik gehelp!"

 

Steve vertel hy geniet wat hy doen. Hy glo in die impak van musikale huldeblyke aan die wêreld, en Suid-Afrika, se beste en gewildste kunstenaars.

Self het hy al meer as 180 van sy eie liedjies op 19 albums opgeneem, en daarmee oor die twee miljoen CD's verkoop.

 

Vir volgende jaar beplan Steve Hofmeyr nóg 'n Neil Diamond-toer: Beautiful Noise Reunion 2009. Dié vertoning, en gepaardgaande opname, sal twintig liedjies uit dié ikoon se repertoire bevat – onder meer Cherry Cherry, Play Me, Morningside, Brooklyn Road en Crunchy Granola Suite.

 

  

Die CD en DVD Steve Hofmeyr Sings Kris Kristofferson, word deur EMI uitgegee en versprei. Dit is nou by jou naaste CD-winkel beskikbaar.

Dit kan ook direk by kalahari.net bestel word.

Vir meer inligting oor Steve Hofmeyr se albums, kontak vir Christien by christien@emimusic.co.za

Besoek ook www.stevehofmeyr.co.za.