|
Steve Hofmeyr het nog altyd aan die
liedjieskrywers en kunstenaars wat sy kreatiewe
werk beïnvloed erkenning gegee: Dié keer bring
hy musikale eer aan die kitaargenie Kris
Kristofferson – die Amerikaanse ikoon van wie hy
nog altyd 'n aanhanger was.
Die DVD, met die titel Help Me Make It
Through The Night: Steve Hofmeyr Sings Kris
Kristofferson, is 'n konsert-opname
van sy vertoning by Emperor's Palace aan die Oos-Rand.
Wanneer iemand die woorde "why me, Lord" sê,
vereenselwig mense dit onmiddellik met dié
tydlose treffer van Kris Kristofferson, gesels
Steve oor Kris se gewildheid wat oor dekades
heen strek.
"Dit was egter 'n reuse uitdaging om 'n
vertoning rondom dié enigmatiese kunstenaar te
skep."
Steve sê, net soos met sy Neil Diamond-projek,
was die moeilikste deel van die voorbereiding
van die Kristofferson-huldeblyk nie om die
liedjies te kies nie: "Die liedjies is daar,
maar inligting oor dié kunstenaars is maar
skaars. Ek moes 'n teks bou met slegs die karige
biografiese materiaal wat daar beskikbaar is."
Soos die geval met sy vorige produksies, het
Steve ook baie aandag aan detail aan sy Kris
Kristofferson-produksie gegee. In dié proses is
'n unieke konsertervaring geskep: 'n kombinasie
van Kristofferson se aura met Steve se eie
benadering tot die gegewe.
Behalwe vir die liedjie Jesus was a carpenter,
is daar baie min sneltempowerk in Kris se
repertoire. "Hy bied eintlik rustige
luistermusiek," verduidelik Steve.
Daarom het hy en sy vrou, Natasha Sutherland,
vir die produksie 'n fees vir die oog geskep met
agtergrondpanele en videoprojektors. Dié
asemrowende visuele materiaal word as 'n ID-snit
op die DVD ingesluit.
Hy weeg sy Neil Diamond en Kris Kristofferson-produksies
só teen mekaar op: "Wanneer ek konsentreer, kan
ek Diamond nogal getrou doen; maar wanneer ek
ophou konsentreer, is ek Kris. Ons deel 'n
golflengte: intellektueel en emosioneel. Dit
help natuurlik dat ek 'n stoere bewonderaar van
albei is. Met die Kristofferson-huldeblyk hou ek
die musiek minimalisties en so na aan die
oorspronklike klank as moontlik. Dit wil nogal
gedoen wees met 'n metal band!"
Steve se musikale veelsydigheid, asook sy
vaardigheid as akteur, is natuurlik 'n pluspunt
in 'n vertoning van dié omvang.
"Naas my Toeka-projekte is die Kris
Kristofferson-vertoning my troetelprojek. Ek het
die opname binne twee weke gedoen, tussendeur
twee massiewe operasies. Tydens die opnames het
ek nog 'n kolostomie-sak gedra. Ek het intussen
heeltemal herstel, maar ek moet erken, die
ongemak tydens die opnames het die interpretasie
aansienlik gehelp!"
Steve vertel hy geniet wat hy doen. Hy glo in
die impak van musikale huldeblyke aan die wêreld,
en Suid-Afrika, se beste en gewildste
kunstenaars.
Self het hy al meer as 180 van sy eie liedjies
op 19 albums opgeneem, en daarmee oor die twee
miljoen CD's verkoop.
Vir volgende jaar beplan Steve Hofmeyr nóg 'n
Neil Diamond-toer: Beautiful Noise Reunion
2009. Dié vertoning, en gepaardgaande opname,
sal twintig liedjies uit dié ikoon se repertoire
bevat – onder meer Cherry Cherry, Play
Me, Morningside, Brooklyn Road
en Crunchy Granola Suite.
|