|
Die legende van die Ses Snare leef voort! Na Mathys Roets se skok-motorfietsongeluk verlede jaar, het baie mense gedink dit was ook die einde van die musiek-teaterproduksie, Ses Snare. Maar Mathys het wonderbaarlik herstel en is nou weer saam met sy kollegas terug op die verhoog.

Giep van Zyl, bestuurder van die groep, vertel 'n bedrywige 2010 lê vir hulle voor met 'n hele paar landswye toere, asook konserte by verskeie teaters en feeste.
En dié maand, op 17 Maart, is dit ook die eerste keer dat hulle in Roodepoort, wes van Johannesburg, sal optree.
Ses Snare het bekend geraak vir die wyse waarop hulle ou treffers afstof, en met akoestiese kitaar en stem nuwe kleur aan bekende liedjies gee. Tussendeur is daar ook heelwat oorspronklike musiek wat deur die manne self geskryf is. Ses Snare se vertonings by feeste soos KKNK, Aardklop, Innibos en die Volksbladfees, was telkens uitverkoop en gehore kon nie uitgepraat raak oor dié opwindende groep nie. Met meester kitaarspelers soos Mel Botes en Blackie Swart; met Leon Ecroignard op die baskitaar; met Wouter van de Venter wat die lekker rockklank bring; en Mathys Roets en Thean Kotzé wat met hul uitsonderlike stemme die sesmanskap voltooi, kan gehore 'n konsert vol tonekrul lekker musiek verwag.
'n CD en DVD is ook verlede jaar uitgereik en is nou landswyd by musiekwinkels beskikbaar.
Volgens Giep van Zyl sal die Ses Snare vanjaar nie afwyk van hul suksesresep nie: “Ons gaan steeds bekende sowel as oorspronklike musiek in die nuwe program insluit, maar ons wil graag die vertoning na 'n hoër vlak neem. Ons gaan 'n paar musikaal uitdagende liedjies instudeer en nog meer gebruik maak van elke Snaar se besonderse talente, om op hiérdie manier ons repertorium uit te brei. Ons gaan steeds 'n paar van die vorige produksie se liedjies ook doen, maar daar wag 'n paar lekker verrassings op gehore wat Ses Snare vanjaar gaan sien.”
Die Ses Snare bestaan uit Mathys Roets, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotzé.
Hulle tree op 17 Maart 2010 in die Pro Musica Teater in Roodepoort op.
Besprekings by Computicket.
Vir navrae, skakel 011 674 1357/8
jougeskenke
3 Gelukkige lesers kan elkeen 'n dubbelkaartjie na die Ses Snare se vertoning dié maand in Roodepoort wen.
SMS die woorde JW SNARE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 15 Maart 2010.
Lees ook die kompetisiereëls.
|