jouapplous



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Sepietyd in September

Hoogtepunte dié maand in 7de Laan en Binneland Sub Judice.

7de Laan @ 18:30 op SABC2
Binneland Sub Judice @ 18:00 op M-Net

7de Laan @ 18:30 op SABC2

Week 1: 1 – 3  September

Felicity is oorgehaal om Emma se onskuld in die kroekspul te bewys. Sanjay sukkel om met iemand te praat by Jacobsville oor die siektes. 'n Gelukskoot tref Oubaas ten opsigte van 'n ryding. Gita is verlig as Len terugrapporteer oor Bright Star. Mandla breek skokkende nuus aan Alyce.

Hoe gaan Alyce reageer as Mandla noem dat hy moet weggaan vir sy nuwe werk? Matrone is afgehaal as Daan homself skielik uit die voete maak. Sal Annelie haar eerste werksdag by Dukes kan hanteer? Dit lyk of Oubaas 'n kat in die sak gekoop het met die bakkie. Gita verbleek as Len vir haar Sanjay se artikel oor Jacobsville wys.

Felicity is dankbaar as Xander aanbied om te help met die Rosie situasie. Clara en Matrone hoor van Kabelo se geheim – wat gaan hulle daaromtrent doen? Gita gee vir Len 'n opdrag wat stilgehou moet word. Linda is ontsteld oor die haglike omstandighede waarin die kinders by Jacobsville woon. Mandla het 'n besluit geneem oor die werk, maar Alyce laat hom van plan verander.Terug na bo

Week 2: 6 – 10 September

Mandla en Alyce breek die nuus aan hul pelle oor wat hulle ten opsigte van Mandla se werk besluit het. Van Coke Kartel moet saam met Alyce inspring om alles gedoen te kry voor hul optrede die aand in die klub. Linda vind uit wat in die water is wat die mense van Jacobsville so siek maak. Errol bring iets waardevols vir Oubaas wat hy in sy bakkie gekry het. Bernard is omgekrap as hy sien met wie San-Mari dans.

Sal Kabelo se wenk vir Matrone werk? Herman raak agterdogtig as Gita gespanne is tydens 'n oproep van Len. Bernard en Tim sit vas as Bernard noem wat hy wil studeer. Hoe gaan Herman reageer as hy sien waar Annelie in die aande werk?

Annelie pleit Herman om niks te noem van haar werkery nie, maar sal hy instem? Zinzi probeer Oubaas oorreed om die ring vir miljoene te verkoop, maar Oubaas het ander planne. Kabelo raak gespanne as Matrone 'n baie belangrike liefdeswenk by hom wil kry. Xander raai Linda aan om die waterbesoedeling-storie te los as hy noem wie die eienaar van Bright Star is.

Kabelo moet vinnig op sy voete dink as Matrone hom druk vir haar wenk. Linda maak 'n besluit oor die waterbesoedeling-storie. Annelie is in 'n moeilike situasie as een van haar Dukes kliënte by Oppiekoffie opdaag. Bernard probeer sy bes om vir San-Mari uit te neem. Gita gee vir Len 'n opdrag om alle bewyse van hul bydrae tot die besoedeling te vernietig.

Linda is oorgehaal om die nodige bewyse teen Gita te kry en klop by Tim aan vir hulp. T en T se rekenaar het 'n virus en Nico verduidelik wat die uiteinde daarvan is. Kabelo gaan probeer om liefdeswenke uit Oubaas te kry, maar sal dit slaag? Annelie is in 'n baie ongemaklike posisie by Dukes en Herman kom tot haar redding.

Week 3: 13 - 17 SeptemberTerug na bo

Die T en T-span wonder hoekom Herman die bestelling by die gholf-rep gekanselleer het. Kabelo deel vreemde liefdeswenke uit aan almal wat vra. Hoe gaan Gita reageer as Tim haar konfronteer oor die besoedeling by Jacobsville? Daan is nie wat hy voorgee om te wees nie. Nico voel vernederd as Bernard sy opwagting maak.

Tim konfronteer Linda oor haar aantygings teen Gita. Oubaas spoor die eienaar op van die ring, maar Maria is onseker of dit die regte persoon is. Matrone lok Daan na die boekwinkel toe om haar nuwe liefdeswenk op hom uit te toets. Felicity het 'n terugslag en sien nie meer kans vir die krukke nie. Nico is in 'n ongemaklike situasie as hy die aand by T en T opdaag.

Oubaas oorhandig die ring aan 'n man wat 'n lang storie het om te verduidelik dat dit sy ma se ring is. Linda konfronteer Gita, maar Gita neem die wind uit haar seile. Bernard draai sy ma se arm om iets uit haar te kry wat later 'n groot bakleiery veroorsaak. Annelie kry 'n tydelike ekstra werksgeleentheid. Sanjay gaan sien Len en kry snuf in die neus.

San-Mari vertel vir Nico hoe haar vorige aandjie saam met Bernard was. Hoe gaan Tim reageer as hy Sanjay se artikel oor Bright Star lees? Gita konfronteer Len oor hoe hy met die media werk. Altus se nuwe GPS is gesteel. Dit word duidelik wie Daan eintlik is, terwyl Matrone groot planne het. Herman en Annelie beland in 'n ongemaklike situasie.

Sanjay lees 'n berig in die Oggendblad wat sy storie oor Bright Star in die kiem smoor. Vanessa en San-Mari se goed is ook gesteel. Oubaas kry 'n brief van die man wat die ring kom haal het en dis glad nie wat hy verwag het nie. Felicity vertel vir Matrone die waarheid oor Daan. Annelie is onseker oor hoe sy voel as sy vir Herman en Gita saamsien. Bernard het 'n manier gevind om San-Mari op te kikker.

Week 4: 20 - 24 SeptemberTerug na bo

Len se sekretaresse wonder as sy 'n dokument sien en sy maak 'n drastiese besluit. Nico kom met 'n voorstel vir T en T se sekuriteitsprobleme. Matrone besef sy het 'n baie groot fout gemaak. Gita en Herman het 'n hewige uitval. Annelie werk alleen in T en T in die aand en iets gebeur wat vreesaanjaend is.

Matrone is op 'n missie om haar fout reg te stel, maar gaan dit werk? Oubaas hoor dat Hilda vandag land en hy is bang dat haar toorn nog nie bedaar het nie. Linda kry goeie nuus by Sanjay. San-Mari sien iets op T en T se sekuriteitskameras wat haar hart breek.

Bernard wil 'n verduideliking by San-Mari hê, maar sal sy een vir hom gee? Sanjay kry die uitslae van die water wat hy hoër op in die rivier laat toets het. Een van Oubaas se grootste liefdeswenke versprei deur die Laan. Gita vra Herman om verskoning, maar sal hy dit aanvaar? Lukas sien 'n nuwe kant van Bernard.

Bekommerde Oubaas vertel van iemand se terugslag. Alyce maak 'n plan om Felicity uit haar rolstoel te kry. Hilda raak agterdogtig as sy 'n sekere woord twee maal die dag hoor. Annelie moet noodgedwonge self vir Herman vertel wat gebeur het. Sanjay en Linda bespreek hul plan van aksie en albei word iets wyser.

Annelie maak oop oor haar verhouding met Pieter teenoor Herman. Dis duidelik dat dit nie net die T en T span is wat die sekuriteitskameras dophou nie. Hilda konfronteer die skuldiges oor die “Vlinder”. Sanjay en Linda maak 'n belangrike konneksie met hul feite. Gita kry 'n ontstellende oproep van Hemmingway. Iets gebeur wat San-Mari se ete saam met 'n nuwe ou versuur. Terug na bo

 

Week 5: 27 – 30 September

Oubaas trek al die stoppe uit om met Hilda te probeer versoen. Neville het 'n voorstel vir hoe hulle fondse kan insamel vir die ouetehuis se siekeboeg. Nico voel hy vorder met San-Mari as sy op sy knoppie druk. Len dreig sy sekretaresse  as hy hoor wat gebeur het en Gita gee vir Len 'n opdrag in verband met Linda. Wat gaan gebeur as Herman opdaag terwyl Annelie vir Ava oppas?

San-Mari is onseker oor wat vroegoggend buite haar woonstel aangaan. Herman is gefrustreerd as Annelie nie met hom wil praat nie. Hoe gaan die Hillsiders reageer op Neville se idee van 'n resepteboek? Die deli is volgende op Sanjay se lys vir sy restaurantresensie. Linda is laat vir ete en Bernard ontdek iets skokkend.

Gita hoor wat met Linda gebeur het. Annelie kry 'n boodskap van Pieter wat haar ontstel en sy stem in om later met Herman te praat. Gita steek onbewus 'n stokkie voor Yvette se planne. Linda het 'n besluit geneem oor die Bright Star-storie. Iemand hou San-Mari in haar woonstel ook dop.

San-Mari is bekommerd as iets van haar weg is uit haar woonstel. Hoe gaan die mense reageer op die resensie van die deli? Diederik moet Clara se Romeense disse proe wat sy wil inskryf vir die kookboek. Wat gaan Herman doen as Gita hom vir die aand nooi, maar hy klaar planne met Annelie het?Terug na bo

Binneland Sub Judice @ 18:00 op M-Net

Week 1: 1 – 3  September

Pippa is baie ontsteld oor die vreemde gebeure van die vorige aand en Conrad pleit At om Tyron te betaal. At moet meer as een lewensbelangrike besluit neem en Malan sorg vir 'n onheilspellende onthulling. Michael en Rebecca dryf mekaar teen die mure uit en Gary word teen wil en dank betrek. Joeke dring aan om verduidelikings oor Warrick se gedrag en Stefanie is Kallie baie verskuldig.

Pippa en Conrad besluit om mekaar in die geheim te sien. Emilio se niggie het probleme met die gereg, en Oliver word gevra om betrokke te raak. Michael vererg hom oor al die vrouens wat hom rondsê, en At beplan om nog meer druk op Warrick uit te oefen.

Guido Castignani stuur vir Oliver 'n onwelkome geskenk, en Rebecca besluit om uit haar woning te trek. Kallie weerhou belangrike inligting van Toeks, en Pippa wil nie Malan se gevoelens seermaak nie.Terug na bo

Week 2: 6 – 10 September

Daleen, Oliver en Conrad is nie gewillig om die waarheid te deel nie, en Warrick lig Oliver in van At se dreigemente. Hannah ontmoet Fabiana, en Franz koop vir iemand blomme – ten spyte van die feit dat Gys die gek skeer met hom daaroor. Emilio rig 'n waarskuwing aan 'n familielid, en At word gekonfronteer. Malan vind uiteindelik uit van Conrad en Pippa.

At probeer Conrad keer om die waarheid oor sy liefdeslewe met Malan te deel, en Stefanie probeer Toeks oorreed om Kallie nog 'n kans te gee. Elise laat Daleen twyfel in Malan se bedoelinge, en Joeke raai Oliver aan om Fabiana se saak te laat vaar. Michael se geluk is van korte duur wanneer hy van Rebecca en Franz se afspraak te hore kom. Fabiana draai Oliver om haar pinkie.

Oliver kry ontstellende nuus, maar weier om dit met Hannah te bespreek. Elise besluit om 'n stokkie voor Malan se plan met Daleen te steek, en Rian vind uit van Stefanie se oortrokke bankrekening.

Fabiana se trougeskenk skep onmin tussen Oliver en Hannah, en At ontvang baie slegte nuus. Pippa verras Malan en Daleen wanneer sy op hulle inloop na 'n aandjie uit.

Pippa is nie seker of sy haar nuus oor Malan met Daleen moet deel nie. At probeer inligting oor Tyron by Malan kry, maar Malan ontwyk sy vrae. Almal maak 'n ophef van Kallie, tot Toeks se onsteltenis. Rebecca kan nie glo sy is jaloers op Michael nie, en Joeke rig 'n waarskuwing aan Fabiana.Terug na bo

Week 3: 13 - 17 September

Pippa en Conrad is bekommerd oor Daleen en is vasberade om uit te vind wat tussen haar en Malan gebeur het. Oliver en Hannah se verhouding gaan deur diep waters, en Zoey sukkel met haar studies. Franz het 'n romantiese afspraak, en At het 'n bitter pil om te sluk.

Quintin is baie ontsteld as hy hoor wat Malan aan Daleen gedoen het. Conrad speel oop kaarte met Malan oor Pippa, en At konfronteer Malan oor Tyron. Oliver is geskok as hy uitvind wie Michael se nuwe kliënt is, en Michael is bekommerd oor Emma se vreemde gedrag.

Rebecca ontdek iemand wat sy ken op 'n pasmaat-webblad. Fabiana gebruik al haar sjarme om Michael te bewerk, en Gary is besorg as hy die tekens van Zoey se babelaas herken. Die vonke spat as Quinton en Malan koppe stamp oor Daleen. At vind op die harde manier uit dat alles in die lewe 'n prys het.

Stefanie onstel Rian deur met Malan besigheid te praat. Zoey sukkel om die druk van haar eksamen te hanteer, en Michael besef hoekom Emma so vreemd optree. Joeke se wantroue in Fabiana verdiep, terwyl Malan 'n ultimatum aan Conrad stel.

Fabiana wys Joeke haar ware kleure, en Michael en Rebecca hoor Emma is verlief. Zoey bieg oor haar eksamen, en Malan begin met 'n gevaarlike speletjie.Terug na bo

Week 4: 20 - 24 September

Gary wil nie vir 'n opvolg leukemia-ondersoek gaan nie. Malan speel poppemeester deur Stefanie se huwelik onder druk te plaas, en At te dwing om Pippa en Conrad se verhouding te kelder. Fabiana skimp dat Oliver die reg in eie hande moet neem, terwyl Joeke haar mes inhet vir die vrou. Jennifer, Rebecca en Michael raak betrokke by kuberafsprake.

Joeke verdink Fabiana van die inbraak by RPK, en At sê Stefanie moet met Rian vrede maak. Malan nooi Conrad, Pippa en Elise uit vir ete, terwyl Emilio uitvind waar Ulrich was. Emma en Gys maak planne om Franz en Rebecca bymekaar te kry, en Malan rig 'n waarskuwing aan At. Gary bieg dat hy bang is vir sy toetsuitslae, en Rian en Stefanie sukkel om die strydbyl te begrawe. Jennifer se afspraak verloop nie heeltemal seepglad nie, en Fabiana ontmoet Oliver na werk in sy kantoor. Michael hoor van Rebecca se ongeluk.

Michael is bekommerd oor Rebecca se toestand en daar is wendinge in die Fabiana-saak. Malan forseer At om homself te verneder en Gary kry sy toetsuitslae.

Rebecca is 'n moeilike pasiënt veral as sy onseker voel oor Michael se gedrag. Gys por vir Franz aan om tyd by Rebecca deur te bring, en Malan daag op tydens die aandeelhouersvergadering en maak 'n aankondiging wat almal onkant betrap. Oliver beland in die hospitaal net voor die aanvang van Fabiana se saak.

Gary is te bang om met die direkteure van RPK te praat oor sy gewaarwordingsveldtog. 'n Selfmoord skok Oliver, en Lindani hou RPK verantwoordelik. Ulrich wil niks meer met Fabiana te doen hê nie. Emma se gevoelens jeens Michael dwing hom om by Rebecca 'n draai te gaan maak.Terug na bo

Week 5: 27 – 30 September

At smeek Pippa om haar verhouding met Conrad te beeïndig. Gary moet die direkteure toespreek, en Lindani dreig om Oliver te vervolg.

Franz is nie seker hoe ernstig At beseer is nie. Stefanie glo nie Malan en Conrad se storie nie. Michael wonder of dit reg is dat Rebecca by hom bly, maar Emilio sê hy moet die kans gebruik. Warrick se hulp word ingeroep wanneer Billy iets in die koeverte ontdek. Dinge loop skeef wanneer Pippa vir Conrad wil troos. Fabiana konfronteer vir Oliver. Joeke en Kallie word onverwags vriende. Oliver en Hannah ontvang 'n dreigende boodskap.

Stefanie teister Malan steeds oor wat werklik gebeur het tussen Conrad en At. Veronica probeer meer uitvind oor Gary se verhoudings by Faye. Rebecca en Michael is albei uiters ongemaklik na die vorige aand, en Oliver en Billy maak 'n deurbraak met Fabiana. Franz gee die kinders slegte nuus rakende At se prognose. Pippa probeer Conrad help maar hy stoot haar weg. 

Die polisie ondervra Conrad as gevolg van 'n anonieme leidraad. Michael en Rebecca sukkel om hulle doen en late geheim te hou. Dinge loop skeef as Nadia vir Zoey aan Thabang probeer bemark. Fabiana kry die oorhand as Joeke haar hand oorspeel.Terug na bo

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?