jouapplous




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Sepietyd in Julie

Hoogtepunte dié maand in 7de Laan en Binneland Sub Judice

7de Laan @ 18:30 op SABC2
Binneland Sub Judice @ 18:00 op M-Net

7de Laan @ 18:30 op SABC2

Week 1: 1 – 2 Julie 2010

Matrone haal die strydbyl uit, sy gaan nie sommer aanvaar dat Hilda die kontrak gekry het nie. Emma is verskeurd en troebel as die baba roer en Isabelle hunker om deel te wees van die ervaring. Die Hillside Times-span beplan hul laaste uitgawe en Neville maak 'n groot besluit.

Neville vertel vir almal wat hy besluit het oor die Hillside Times. Vince kry vandag 'n nuwe assistent in die deli, met rampspoedige gevolge. Matrone maak planne om Hilda se kontrak te kelder. Xander en Vanessa hunker na mekaar, maar sal hulle toenadering soek?

Week 2: 5 – 9 Julie 2010

Matrone het slinkse planne om Hilda te beduiwel met haar Sakekamerete. Neville is vertwyfeld oor Tim se negatiewe reaksie op sy voorstel, sal Neville se passie Tim oortuig om sy besluit te steun? Isabelle vind uit waar Dawid is.

Hilda is paniekbevange oor die gesondheidsinspekteur se besoek en sy kry 'n plan. Ryno stem nie saam met Isabelle se plan ten opsigte van Dawid nie. Die Times-span is in rep en roer oor die eerste ‘Balmoral Gazette’-uitgawe. 'n Vorige liefde van Vanessa daag uit die bloute op.

Ryno en Isabelle is bekommerd as hulle sien wat met Emma gebeur. Vince sien swarigheid as hy sien wat Matrone beplan. Altus is bekommerd oor die geskiedenis van Vanessa en Amok se bemarkingsbestuurder.

Hoe gaan die Meintjies-huishouding reageer as hulle hoor Xander trek daar in? Matrone slaag daarin om Hilda te ontsenu en Vince kry snuf in die neus dat sy iets in die mou voer. Iemand daag op wat al Emma en Isabelle se planne omver kan gooi. 

Hoe gaan Vanessa reageer as Sheldon na haar probeer uitreik? Tim probeer alles om bewyse te kry vir hul moontlike voorbladstorie. Emma vertel vir Felicity hoe sy oor die baba voel. Hoe gaan Dawid reageer as hy uitvind Emma is swanger?

Week 3: 12 – 16 Julie 2010

Matrone is suur as sy sien haar planne werk nie en iemand hoor hoe sy met die Gesondheidsinspekteur praat. Charmaine waarsku Vanessa oor Sheldon en hy vind uit wat in haar liefdeslewe aangaan. Emma is verward en vertel vir Dawid 'n leuen. Zinzi vertel weereens 'n skinderstorie en dit help die Hillside Times-span om hul bewyse te kry.

Dawid is bekommerd as hy besef hy het te laat by Emma opgedaag. Charmaine waarsku Sheldon om nie weer Vanessa se lewe om te krap nie. Die Gesondheidsinspekteur daag op by Hilda en dinge lyk nie goed vir die Van Zyls nie. Matrone se agterbaksheid blaas in haar gesig op.

Die Balmoral Gazette se eerste uitgawe verskyn, maar is dit 'n sukses? Vince en Hilda stamp koppe oor die sakekamer se winsverdeling. Almal is opgewonde oor Wrestlerish vanaand in die klub en almal skarrel voor die optrede. Sheldon se lendene roer al meer in Vanessa se rigting en Xander hou hulle dop. Gita kry laatnag 'n ontstellende oproep.

Die Bruynwaves-span hoor hoe Amok voel oor die vorige aand se launch. Veeleisende Matrone laat Altus sweet en Alyce red sy bas. Charmaine waarsku Xander oor Sheldon en bevestig so sy ongegronde vermoedens. San-Mari het 'n ligte flirtasie met die ou wat die vorige aand in die klub was en hy sien vir Tim in Oppiekoffie. Dawid vra Emma uit oor die man in haar lewe.

Errol is opgewonde as hy Charmaine se arm kan draai om pelle die aand oor te nooi, maar gaan die aand weer rampspoedig eindig? Sheldon daag by Vanessa op en gee haar die ondersteuning wat sy nie by Xander kry nie. Die werk stroom in vir Bruynwaves en Altus stel nog 'n persoon tydelik aan. Herman is vies as Gita hom nie wil vertel waaroor sy so gespanne is nie. Bernard maak sy opwagting by sy pa.

Week 4: 19 – 23 Julie 2010

Tim is verskeurd oor sy seun wat nie wil rigting kry nie. San-Mari het 'n plan om nie oorgretig te lyk as Bernard haar uitneem vir 'n drankie nie. Wie gaan vir Vanessa opbeur as sy ontsteld is nadat sy vir Xander saam met 'n ander meisie gesien het. Mandla hoor ontstellende nuus oor die klub. Ryno hoor Dawid is in die Laan en hy voel hulle moet hom opspoor en sê wat aangaan. 'n Man maak sy opwagting by Gita.

Hoe gaan Tim reageer as Neville vooorstel dat hulle nog iemand by die Hillside Times aanstel? Gita is gespanne oor Clint as Zinzi daar opdaag en sy is ook ontsenu as Clint vir Ava ontmoet. Emma kan nie langer uithou nie en blerts 'n halwe waarheid teenoor Dawid uit. Sheldon daag by Vanessa op en hulle tango laat die lendene bewe.

Isabelle en Ryno sit effens vas oor wat hulle moet doen oor Dawid. Gaan Zinzi stilbly as Herman haar uitvra oor Gita? Tim nooi Bernard vir 'n braai en is verras as hy sien hoe Bernard hom gedra. Alyce is vies as Mandla 'n storie wil doen oor wat in die klub aangaan. Vanessa skop vas teen 'n ete met Sheldon en probeer uitreik na Xander, maar hoe gaan hy daarop reageer?

San-Mari voel sy en Bernard is besig om 'n item te word maar Bernard het iemand anders ook in die oog. Sheldon pleit dat Vanessa hom weer 'n kans moet gee en Xander maak dit duidelik hoe hy oor hul huwelik voel en wat hulle nou moet doen. Ryno sê hulle gaan nie voort met die aanneming tensy Emma oop kaarte met Dawid speel nie. 'n Bebloede Clint daag by Gita op en sak bewusteloos neer.

Gita soek kontant by Alan en probeer Clint afkoop. Clint raak eers aggressief en smeek haar om hom te help. Hoe gaan Sheldon reageer as hy hoor Xander wil van Vanessa skei? Errol maak planne vir 'n partytjie as Charmaine en Neville weg is en dinge ruk effe handuit. Emma bieg teenoor Dawid dat dit sy kind is, maar hy reageer nie soos wat sy gehoop het nie.

Week 5: 26 – 30 Julie 2010

Gaan Errol Oppiekoffie betyds skoonkry voor Charmaine daar opdaag? Tim verduidelik hoekom hy en Bernard nie so sterk band het nie. Dawid daag by Emma op en maak dit duidelik hoe hy oor die hele aangeleentheid voel. Clint herinner Gita aan hul kinderjare en speel op haar gevoel.

Gaan Gita 'n oortuigende storie hê as Herman agterdogtig raak en wil weet of iemand by haar is? Tim noem aan Isabelle wat hy sou doen as hy in Dawid se skoene was. San-Mari moet koelkop bly as Bernard met een van haar vriendinne dans tydens die Watershed-konsert. Gaan Mandla en Alyce die bewyse kry dat daar dwelms in die klub verkoop word?

Charmaine is in haar skik met die nuwe stoof en wil weet waar Errol die geld in die hande gekry het. Alyce wil die dwelmverkope in die klub so gou moontlik stopsit, maar Mandla het 'n ander plan.Die polisie daag by Gita se penthouse op en het 'n lasbrief om vir Clint daar te soek – gaan hulle iets onreëlmatigs by haar kry? Dawid daag weer by Emma op en verduidelik hoe hy voel.

Bernard het 'n blou oog en is sy blyplek kwyt, wie gaan tot sy redding kom? Xander maak dit duidelik aan Vince hoekom hy van Vanessa wil skei. Xander het snuf in die neus oor Errol se stories oor hoe hy geld vir 'n stoof in die hande gekry het. Gita is bekommerd dat sy nooit die geld vir Clint in die hande gaan kry nie. Isabelle vat Emma aan en is duidelik in 'n toestand oor wat Emma gaan besluit oor haar baba.

Xander konfronteer Errol oor waar hy die geld gekry het vir die stoof en neem aan dat dit 'n kroekspul was, maar sal die waarheid uitkom? Mandla is onrustig as hy hoor Neville wil nog 'n joernalis aanstel. Ryno takel Emma en waarsku haar dat Dawid haar lewe gaan verwoes en Dawid vertel haar dat hy 'n werksaanbod oorsee gekry het. Hoe gaan Clint reageer as hy hoor Gita se polis betaal eers volgende jaar uit?

Binneland Sub Judice @ 18:00 op M-Net

Week 1: 1 – 2 Julie 2010

Conrad waarsku Dylan dat hy in groot moeilikheid kan kom omdat hy Lucinda versteek het. Pat daag by Binneland op met 'n meswond. Leonora begin besef dat daar iets fisies met Matty fout is. Rebecca is woedend oor Michael se gekonkelry agter haar rug, en sy besluit om At se aanbod te aanvaar. Gary hou homself groot meneer voor die klerke, en Hannah is onseker oor Oliver.

Franz bevestig Leonora se vermoedens oor Matty, en Dylan probeer 'n skulderkentenis uit Pat te dwing. Hannah is agterdogtig oor Oliver se poging om haar te bederf.

Week 2:  5 – 9 Julie 2010

Pat stel sy eise aan Dylan en Conrad, en wanneer Lucinda kontak maak met Elise word die meisie forseer om haar vrese in die gesig te staar. Hannah verwag die ergste van Oliver wanneer hy met persoonlike sake worstel. Michael moet vrede maak met die feit dat Rebecca nou nog nader en nog 'n groter deel van sy lewe uitmaak. Matty gaan vir 'n MRI en moet 'n groot besluit neem.

Dylan het 'n wilde plan om die waarheid uit Pat te kry, terwyl Pat weer op sy beurt sy speletjie met Lucinda voortsit. Hannah beantwoord Oliver se selfoon, en dit lei tot 'n konfrontasie tussen die twee. Franz voel in 'n hoek gedryf, en Zoey dink Billy speel vuil.

Pat word vermoor, en Jennifer stuur Dylan huis toe na dié ontdekking. Faye ontmoet 'n Amerikaanse toeris wat haar knieë lam maak. Michael en Hannah aanvaar Lucinda as 'n kliënt, en Warrick probeer Lindani aan sy kant kry. Leonora probeer Franz oortuig om op Matty te opereer, en Zoey is ongeskik met Lindani. Emilio vertel vir Hannah van Oliver se werklike situasie. Conrad en Franz het slegte nuus vir Leonora.

Oliver wil slange vang as Hannah desperate pogings aanwend om Lucinda se vryheid te verseker. Zoey buig agteroor om reg te maak wat sy met Lindani verbrou het. As Faye nie opdaag vir ʼn afspraak met Beau nie, slaan Veronica toe. Matty is ontroosbaar wanneer sy slegte nuus ontvang.

Michael is bekommerd oor Lucinda, terwyl Rebecca vir hom 'n waarskuwing gee. Dit raak baie duidelik dat Billy en Dylan mekaar ken, en hulle konfronteer mekaar later. Matty word geopereer, en Toeks neem vir Leonora onder haar vlerk.

Week 3: 12 – 16 Julie 2010

Warrick is optimisties oor Matty se saak, maar Leonora voel skuldig omdat sy na Londen moet terugkeer. Faye hou Beau op 'n afstand en Toeks moet keer dat hy die hasepad kies. Zoey kan nie Lindani weerstaan nie, maar loop 'n bloutjie as sy hom vir ete nooi. Rebecca word in 'n moeilike posisie geplaas as Lindani aandring op Binneland se hulp. Elise vind uit van Dylan en Billy se geheime verlede. Hannah sukkel om Lucinda se emosies in toom te hou en ontstel Oliver as sy sy beginsels in twyfel trek. Veronica is smoorverlief en vind die idee dat Beau van Faye hou lagwekkend.

Franz oortuig Leonora sy moet vir Matty vertel Christine se ouers wil haar nie by die begrafnis hê nie. Lucinda val Oliver aan as sy hoor sy mag nie vir Rosemary sien nie. Veronica is in sak en as omdat sy niks van Beau hoor nie, terwyl Faye en Beau uitgaan tot groot onsteltenis van Gary. Emilio dring aan Billy moet so gou as moontlik 'n skei-saak aanhangig maak.

Oliver trap op tone wanneer hy betrokke raak by Lucinda se saak, en Billy doen haar bes om van haar man ontslae te raak. Leonora voel skuldig omdat sy Matty alleen moet agterlaat.

Oliver voel toenemend ongemaklik met Lucinda in die huis. Toeks maak 'n plan om Beau en Faye bymekaar uit te bring, en Stefanie voel Pippa skeep haar pligte as strooimeisie af.

Faye is tot oor die ore verlief op Beau, en wanneer hy haar uitboul met 'n groot verrassing besef Veronica uiteindelik dat hy nie in haar belangstel nie. Oliver raak al hoe meer ongemaklik met Lucinda in die huis, en Hannah erken dis tyd dat Lucinda moet gaan. Jennifer neem beheer om Dylan se skorsing op te skort, en 'n Binneland-werknemer word ernstig beseer.s

Week 4: 19 – 23 Julie 2010

Rian kom agter dat daar wrywing tussen Conrad en Stefanie is, en Conrad stel 'n ultimatum aan Stefanie. Dylan red Billy se lewe, en Joeke en Yvette raak haaks met mekaar. Elise besluit dat die waarheid moet uitkom, en die Knights groet Lucinda.

Dylan is bekommerd oor Billy, terwyl almal by Binneland opgewonde oor Stefanie se kombuistee is. Joeke gee vir Nadia 'n waarskuwing, en Rian bied aan om te help met die werknemersvergoeding-dilemma.

At sê vir Stefanie dat Binneland goeie publisiteit kort. Ulrich vra vir Emilio of hy 'n partytjie by die bistro kan hou. Oliver meng in met Warrick se Durban July-planne, terwyl Warrick vir Yvette saamnooi na die geleentheid. Quinton dwing Tertius om vir hom 'n verjaarsdagpartytjie te reël, en Dylan is desperaat om met Billy te praat. Stefanie ontmoet vir Brian, en Pippa sê saam met wie sy troue toe gaan. Joeke verbaas almal met 'n skenking, en Rian vertel vir Stefanie hy moet dalk weggaan.

Stefanie het finansiële probleme, terwyl Brian haar onder druk plaas. Dylan worstel met die feit dat hy heel moontlik iemand baie belangrik in sy lewe mag verloor, en daar is definitief romanse in die lug by RPK Ingelyf – maar dit mag dalk ook net eensydig wees. Ulrich se planne om Nadia te beindruk met 'n gesofistikeerde ete mag dalk in die wiele gery word deur Emilio en 'n Binneland partytjie. Stefanie moet haar demone op haar eie hanteer wanneer Rian uitvind dat hy wel op 'n besigheidsreis moet gaan.

Brian maak die lewe vir Stefanie moeilik en druk haar in 'n hoek met 'n onverwagse besoek aan At. Elise voel gebelgd omdat sy nog nie haar uitnodiging na die troue ontvang het nie. Joeke is ontsteld oor Yvette se trust en weier om dit te aanvaar. Ulrich ontmoet weer vir Daleen en is dadelik smoorverlief. Billy gee voor dat sy verlig is oor die egskeiding. Elise besluit om Quinton 'n les te leer by sy verjaarsdagpartytjie. Zoey vat Nadia vas oor haar houding.

Week 5: 26 – 30 Julie 2010

Stefanie wend desperate pogings aan om Brian af te skud en die raad te fnuik. Yvette is te pletter as almal aanneem sy was Hannes se minnares. Wêrelde bots wanneer twee funksies gelyktydig by die bistro plaasvind, en verrassings is aan die orde van die aand.

Warrick oortuig Hannah dat Hannes nie 'n verhouding met Yvette gehad het nie. Hannah probeer om met Joeke hieroor te praat, maar hulle het 'n hewige uitval. Billy en Dylan is in die sewende hemel, en Ulrich probeer Daleen om verskoning vra – Daleen wil egter niks met hom te doen hê nie. Elise hoor by Veronica dat sy vir Nathan gaan vra om haar te vergesel na die troue. Toeks weier dat Kallie Stefanie se aandele koop, en Rian probeer uitvind hoekom sy aanstaande bruid so ongelukkig is.

Warrick gaan alles in sy vermoë doen om seker te maak Yvette kry die geld wat haar toekom. Toeks is bekommerd oor Stefanie, en Brian raak ongeduldig omdat Stefanie haar voete sleep. Conrad betaal vir Coen om vir Brian te agtervolg. Nadia besluit om Ulrich weer te herinner hoekom hulle in die eerste plek verlief geraak het, en Ulrich wens die aarde kan hom insluk as hy hoor wat sy vir Daleen gesê het. Quinton is oorgehaal om kupido te speel.

Joeke stel Hannah voor 'n ontstellende ultimatum, en Elise is oortuig dat Conrad meer as bloot 'n vriend vir Pippa wil wees. Yvette word onkant gevang deur Oliver se afsydige houding.

Stefanie vertel Conrad dat sy afgepers word, en Quinton help Ulrich om sy verhouding met Nadia te beëindig. Kallie besef sy poging om te help veroorsaak net nog meer spanning vir Toeks.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?