|
Funky,
sexy, jonk, beeldskoon en briljant-bekwaam – dié
splinternuwe all-girl band is 'n
sprekende voorbeeld van elkeen van dié woorde.
En hul eerste CD, Luister, is pas op die
rakke.
Saarkie rock behoorlik – en hulle doen
dit met 'n eiesoortige styl en vibe wat
gatskop.
Die vyf talentvolle lede is Adéle Fouché (vocals
en kitaar), Lila Botha (dromme), Anna Steenkamp
(keyboard en vocals), Johané
Nieuwenhuizen (baskitaar) en Razz Kosterman (viool,
kitaar en vocals).
Individueel beïndruk die lede met hul
persoonlikheid en 'n passievolle energie vir dit
wat hulle doen, maar wanneer hulle as 'n groep
saamkom om musiek te maak, ontplof 'n seldsame
dinamika, sinergie en talent wat gehore arms in
die lug en op hul voete het. Hul musiek is
eerlik en oorspronklik: Vars alternatiewe pop
rock wat oortuig.
Hul groep se naam is uit nood gebore toe hulle
tydens die Rockspider-fees opgetree het en
skielik 'n naam moes uitdink. 'n Klein
spelfoutjie verder, en die naam Saarkie het
vasgesteek.
Hul debuut-CD – Luister – is saamgestel
uit 12 oorspronklike snitte. Vanaf die eerste
oomblik is die suiwer note van 'n enkele viool
reeds meesleurend – dan bars die ritme los en
energie vloei vrylik. Die album se titelsnit,
Luister, is hoendervleis mooi en noop jou om
presies dít te doen. Jy lúister – want die
subtiele intro gryp jou hart en siel en
hou jou vasgevang.
Spesiale melding moet gemaak word van die drie
Engelse snitte – ook uit eie pen – op die album.
Hiermee bewys hulle dat hulle stewig met hul
sexy bene in albei sfere van die musiekindustrie
hul man kan staan.
Wat hierdie CD uiters geslaagd maak, is dat hul
lirieke substansie het. Dit vertel stories en
deel ervarings sonder om soetsappig te wees.
Daar is tans geen Suid-Afrikaanse
all-girl-band wat vir elke aspek van die
musiek en uitvoering daarvan verantwoordelik is
nie. Ten opsigte van die instrumente bewys hulle
sonder enige twyfel dat hulle kundige musikante
is wat verstaan hoe om woord en klank te laat
saamwerk. Die vocals is suiwer en geslyp
sonder om daai lekker aangryp-kwaliteit te
verloor.
Terwyl vier van die lede saam op skool was en
die vyfde lid op Tukkies se kampus gewerf is, lê
deel van hulle sukses in die feit dat hulle
mekaar verstaan, aanvul en komplementeer.
Bewys van hulle sukses is dat hulle verlede jaar
tydens die Aardklop-fees as die beste nuwelinge
aangewys is.
Musikaal is hul hartsbegeerte om 'n bydrae tot
die Suid-Afrikaanse musiekindustrie te maak – en
hulle is volstoom oppad om dit te doen. Maar
hulle gee ook mildelik terug deur gratis vir
liefdadigheidsorganisasies op te tree.
By gigs is daar diegene wat dalk met 'n
skeptiese opmerking toekyk hoe die girls
hul eie instrumente op die verhoog dra, maar
raak summier stil wanneer die band begin speel.
Daarna val hulle oor hul voete om te help oppak!
|