|
|
 |
|
Met sy nuwe album bring Pieter
Smith nou die spoke tot binne sy
aanhangers se voorhuis! |
|
|
|
|
Pieter Smith se nuwe album, Spooknote, is
'n musikale reis wat die stories van Suid-Afrika
se bekendste spoke in liedjievorm vertel.
En hulle is álmal daar . . .
Pieter sing van die afkop Ruiter van
Skimmelperdpan, Jan van den Meer, en waarsku
dat daar geen plek vir 'n Christenmens in
dáárdie kloof is nie.
Hierdie is Pieter se toonsetting op die bekende
gelyknamige gedig van A.G. Visser.
Die Spook van David Rosenkrantz vertel
van 'n staptog wat deur die kerkhof gedraai het.
Daar was die vet en die maer spook, maar die
ergste was 'n honderd wasbleek spoke wat elk 'n
doodskis dra.
Hiérdie is sekerlik een van die mees klassieke
spookliedjies in Afrikaans, en is in die 1950's
vir die eerste keer deur die orkes van Hendrik
Susan opgeneem.
Kimberley is nie net bekend vir sy diamante nie:
ry bietjie in die nag saam met Pieter deur die
diep en donker strate van Kimberley en jy mag
dalk kennis maak met van dié stad se spoke. Dis
daar waar die meisie op Stockdalestraat verskyn
en dan weer in die ewigheid verdwyn.
|
 |
|
As jy fluister, jou oë toemaak en mooi luister,
hoor jy hoe Rudd in sy rystoel rondbaljaar en
miskien sien jy die gesneuwelde soldate wat by
Magersfontein ronddwaal. Kom die nag en die
stormweer steek op, sal jy die winde hoor huil
soos dié van verlore siele.
Pieter vertel dat nadat hy jare gelede op 'n
spooktoer deur Kimberley se strate geneem is, hy
"sonder twyfel dié pragtige ou stad verklaar het
as Suid-Afrika se spookhoofstad – met 'n
geskiedenis van besettings, slagvelde, diamante
en oorloë is daar talle rustelose siele wat nog
ronddwaal oor Kimberley se blink sypaadjies."
Blommetjie gedenk aan my
vertel die verhaal van die spookmeisie op
Uniondale. Dit is die hartseer verhaal van die
meisie wat in die 1960's net buite dié dorp in
'n motorongeluk gesterf het – en tot vandag toe
nog maak sy haar verskyning oor die Paasnaweek
waar sy langs die pad staan opsoek na 'n
geleentheid.
Dié liedjie is deur Anton Goosen geskryf en in
1978 was dit een van sy groot treffers.
|
 |
En natuurlik kan geen spookalbum volledig wees
sonder die verhaal van Daisy de Melker
nie. Sedert haar skuldigbevinding aan die moord
op twee van haar mans en haar eie seun, en haar
teregstelling in 1932, kon Daisy nog nie rus vir
haar siel kry nie. Haar spook is daarna talle
kere opgemerk op plekke waar sy gewerk, gewoon
en selfs waar sy as gevangene aangehou is.
"Toe skryf ek maar vir haar 'n liedjie," vertel
Pieter. "Dalk voel sy dan beter, jy weet . . ."
Die
spookgogga het Pieter op 'n vroeë ouderdom reeds
gebyt – op sy koffietafel lê daar verskeie
spookboeke en –musiek terwyl hy gedurig
navorsing oor dié rustelose siele se geskiedenis
doen.
"Hulle geskiedenis interesseer my baie. Ek het
hulle self nog nie gesien nie, maar het wel 'n
rillende ondervinding of twee gehad waar ek
hulle kon aanvoel," sê Pieter oor sy
spookfassinasie.
|
|
Maak seker dat jou huisie se deure dig
gesluit is, wanneer jy na dié album
luister. |
|
|
Pieter Smith se Spooknote is deur Ramkat
Musiek vervaardig en word deur Fantasiamusiek
versprei. Vir meer inligting oor dié album, of
om Pieter vir 'n vertoning te bespreek, stuur 'n
e-pos aan
tanya@fantasiamusiek.co.za
Besoek ook www.pietersmith.co.za |
|