jouapplous

 

Persoonlike tragedie by die wyer ellende van die Boere-oorlog

 

P.G. du Plessis se nuutste roman, Fees van die ongenooides, is weliswaar een van die heel grootste werke oor die Boere-oorlog, maar dit is ook 'n werk wat in 'n hedendaagse idioom vrae vra oor hoe ons onthou, wat ons onthou en wat die implikasies van vergeet is. En stellig die mees klinkklare antwoord op hiérdie vrae, is die feit dat sy boek 'n onvergeetlike leeservaring is.

 

 

P.G. du Plessis se nuutste roman, Fees van die Ongenooides, is sekerlik die uitnemendste toonbeeld van sy vertelkuns. Deur elkeen van die karakters, soos die onvergeetlike Van Wyks en hul bywoners, die Minters, dra hy 'n eie persoonlike tragedie in by die wyer ellende van die Boere-oorlog, en so word die oorloggegewe 'n vervlegting van uiters intense menslike dramas, onvergeetlike taferele van vergeefse liefde, verydelde drome en die verbryseling van menslikheid.

 

Dit is die jaar 1901. Die son het gesak oor 'n verskroeide landskap, en die landskap verwelkom die duister. Die doringdraad en tent-rye van die konsentrasiekamp is nog net 'n swart vlek op die vlakte. En aan die rand hiervan gloei 'n tent soos 'n lantern.

Diegene wat vanuit die duister na hiérdie tent sou staar, sou teen die helder tentdoek die silhoeët sien van 'n man wat oor die klawerbord van 'n klavier buig. Die een wat vanuit die nag sou kyk, sou ook op die kampbed die regop gestalte van 'n sittende vrou kon uitmaak. Diegene wat vanuit die kamp sou luister – hulle wat nie reeds volledig deur die stryd tussen lewe en dood ingeneem is nie – sou dalk agter die onbeholpe klavierspel van die man die vergeefse smagting hoor, agter die wankelende note die stilte wat groter is as enige geluid.

 

Jare later buig majoor Philip Brooks in 'n biblioteek oor 'n vergeelde foto: hy probeer vasstel wat dit is wat hy op daardie foto sien – hy probeer onthou wat gebeur het.

Dit was hy in daardie tent. Die vrou op die bed was die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het. Die klavier het uit haar huis gekom, een van die plaashuise wat sy soldate afgebrand het.

Nou probeer hy kyk met die oog van Joey Drew, die skeeloog sukkelaar van Somerset, Engeland, wat die foto's geneem het. Hy kyk na 'n foto van 'n vrou met 'n baba in haar arms. Hy weet wat die pa van die kind nie geweet het toe hý die foto gesien het nie – dat die kind dood was. Dat hy een van die duisende slagoffers van die konsentrasiekampe was. Hy kyk na 'n familiefoto van die Van Wyks, en nog een keer, voordat die vergetelheid so koud soos die graf self oor alle geheue sak, probeer hy deur Joey se foto's die verhaal van die Van Wyks agterhaal.

 

Sentraal is die verhaal van Daantjie en Magrieta van Wyk, hy 'n Blink-Stefaans, en sy die allerpragtigste vrou. Hulle twee oorleef die oorlog, maar dan as draers en verteenwoordigers van die uiterstes in die menslike aard wat deur die oorlog op die spits gedryf is.

 

Ook die Engelse offisier Philip Brooks oorleef die oorlog, en in sy bewussyn kry hierdie droewe geskiedenis 'n nuwe relevansie. Du Plessis se roman is weliswaar een van die heel grootste werke oor die Boereoorlog, maar dit is ook 'n werk wat in 'n hedendaagse idioom vrae vra oor hoe ons onthou, wat ons onthou en wat die implikasies is van vergeet. En stellig die mees klinkklare antwoord op hiérdie vrae, is die feit dat sy boek 'n onvergeetlike leeservaring is.

 

jougeskenke

 

Drie lesers kan elkeen 'n kopie van PG du Plessis se nuutste roman, Fees van die Ongenooides, ontvang.

Om hiervoor in aanmerking te kom, SMS eenvoudig die woorde JW PG, tesame met jou naam en e-posadres, aan 34780.
Lees ook die kompetisie-reëls op jougeskenke

 

Kassie:

 

PG du Plessis se roman, Fees van die Ongenooides, word deur Tafelberg-Uitgewers uitgegee. Dié 408-bladsy-boek is nou landswyd teen R175.00 in sagteband-formaat beskikbaar (ISBN-10: 0-624-04687-7 en ISBN-13: 978-0-624-04687-5) met die balkkode (bar code) 9780624046875.

Jy kan ook dié boek hier direk by kalahari.net bestel.