|
P.G.
du Plessis se nuutste roman, Fees van die
Ongenooides, is sekerlik die uitnemendste
toonbeeld van sy vertelkuns. Deur elkeen van die
karakters, soos die onvergeetlike Van Wyks en
hul bywoners, die Minters, dra hy 'n eie
persoonlike tragedie in by die wyer ellende van
die Boere-oorlog, en so word die oorloggegewe 'n
vervlegting van uiters intense menslike dramas,
onvergeetlike taferele van vergeefse liefde,
verydelde drome en die verbryseling van
menslikheid.
Dit
is die jaar 1901. Die son het gesak oor 'n
verskroeide landskap, en die landskap verwelkom
die duister. Die doringdraad en tent-rye van die
konsentrasiekamp is nog net 'n swart vlek op die
vlakte. En aan die rand hiervan gloei 'n tent
soos 'n lantern.
Diegene wat vanuit die duister na hiérdie tent
sou staar, sou teen die helder tentdoek die
silhoeët sien van 'n man wat oor die klawerbord
van 'n klavier buig. Die een wat vanuit die nag
sou kyk, sou ook op die kampbed die regop
gestalte van 'n sittende vrou kon uitmaak.
Diegene wat vanuit die kamp sou luister – hulle
wat nie reeds volledig deur die stryd tussen
lewe en dood ingeneem is nie – sou dalk agter
die onbeholpe klavierspel van die man die
vergeefse smagting hoor, agter die wankelende
note die stilte wat groter is as enige geluid.
Jare
later buig majoor Philip Brooks in 'n biblioteek
oor 'n vergeelde foto: hy probeer vasstel wat
dit is wat hy op daardie foto sien – hy probeer
onthou wat gebeur het.
Dit was hy in daardie tent. Die vrou op die bed
was die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het.
Die klavier het uit haar huis gekom, een van die
plaashuise wat sy soldate afgebrand het.
Nou probeer hy kyk met die oog van Joey Drew,
die skeeloog sukkelaar van Somerset, Engeland,
wat die foto's geneem het. Hy kyk na 'n foto van
'n vrou met 'n baba in haar arms. Hy weet wat
die pa van die kind nie geweet het toe hý die
foto gesien het nie – dat die kind dood was. Dat
hy een van die duisende slagoffers van die
konsentrasiekampe was. Hy kyk na 'n familiefoto
van die Van Wyks, en nog een keer, voordat die
vergetelheid so koud soos die graf self oor alle
geheue sak, probeer hy deur Joey se foto's die
verhaal van die Van Wyks agterhaal.
Sentraal is die verhaal van Daantjie en Magrieta
van Wyk, hy 'n Blink-Stefaans, en sy die
allerpragtigste vrou. Hulle twee oorleef die
oorlog, maar dan as draers en verteenwoordigers
van die uiterstes in die menslike aard wat deur
die oorlog op die spits gedryf is.
Ook die Engelse offisier Philip Brooks oorleef
die oorlog, en in sy bewussyn kry hierdie droewe
geskiedenis 'n nuwe relevansie. Du Plessis se
roman is weliswaar een van die heel grootste
werke oor die Boereoorlog, maar dit is ook 'n
werk wat in 'n hedendaagse idioom vrae vra oor
hoe ons onthou, wat ons onthou en wat die
implikasies is van vergeet. En stellig die mees
klinkklare antwoord op hiérdie vrae, is die feit
dat sy boek 'n onvergeetlike leeservaring is.
|