|
JouAPPLOUS
‘n Oulap se blou
In Chris Barnard se nuutste bundel kortverhale word die verlange van die oudag teenoor die verlange van die jeug gestel en daaraan ’n stem gee. Verlange na verlange, in besoeke na ’n landelike seunskindparadys wat, soos alle geluk, slegs vlietend bestaan het. En ook nie slangloos was nie.
Chris Barnard se nuutste skrywerswerk, die bundel kortverhale Oulap se blou, is verlede maand deur Umuzi-uitgewers uitgereik.
Oulap se blou kom net mooi veertig jaar ná die verskyning van sy eerste bundel kortverhale, Duiwel-in-die-bos, wat, soos sy eweneens vroeë roman Mahala, iets so definiërends aan die Afrikaanse letterkunde gegee het dat hulle vandag nog as gekanoniseerde werke staan.
In een opsig reik van die verhale en vertellings in Oulap ook oor die dekades terug, selfs verby die tyd toe Barnard saam met die ander Sestigers soveel vars lug deur ons letterkunde laat waai het. Dit is verhale waarin die verlange van die oudag die verlange van die jeug herken en daaraan ’n stem gee. Verlange na verlange, in besoeke na ’n landelike seunskindparadys wat, soos alle geluk, slegs vlietend bestaan het. En ook nie slangloos was nie.
Maar ten spyte van die bundel se lig melancholiese toonaard, wat die Afrikaanse uitdrukking “oulap se rooi” in die bundeltitel blou laat word, is dit verhale wat selde sonder die humor van selfironisering, of ’n oog vir die absurde, of selfs vir die karnavaleske bly. En dis ook lank nie alles heimwee nie. Daar is trouens verhale uit vandag se werklikheid wat as ’t ware ’n vooruit-nostalgie openbaar, met glimpse van die beter dae wat moontlik is. Barnard het hom bewys as ’n skrywer wat nie versiering nodig het nie. Die vertellings in hierdie bundel tel onder sy eenvoudigste werk, en dalk is dit ook van sy ontroerendste. Maar die eenvoud is bedrieglik.
Barnard se oeuvre strek nie net oor talle genres – soos romans, jeugverhale, kortkuns, verhoog- en radiospele, draaiboeke vir films en TV, selfs lirieke – heen nie, maar reik ook reeds meer as vier dekades terug. Tog is hy so vars soos vandag se rubriek wat hy steeds in die tydskrif Mooiloop skryf, of die ander geleentheidstukke wat van tyd tot tyd uit sy pen verskyn.
Chris Barnard – een van die mees bekroonde skrywers in Afrikaans met die Hertzogprys twee keer, en die CNA-prys drie keer – is in 1939 in Nelspruit gebore. Hy was boekuitgewer, joernalis en filmvervaardiger. Die film Paljas onder regie van sy vrou, Katinka Heyns, is genomineer vir die Oscar as beste buitelandse film. Sy prosawerk is wyd vertaal. Hy is vandag ’n neuteboer in Mpumalanga.
Jougeskenke
Oulap se blou, deur Chris Barnard, word uitgegee deur
Umuzi, ʼn druknaam van Random House Struik (Edms) Bpk, as
‘n 144 bladsye sagteband.
|