jouAPPLOUS

 

 

Herinnerings en verlange

 

Prof. Willie Joubert bespreek Chris Barnard se nuutste bundel kortverhale, Oulap se blou, wat verlede maand uitgereik is.

 

Deur Willie Joubert

willieb@uj.ac.za

 

Ons almal moes op skool begripstoetse doen – die begripstoets was  een van die pilare van taalonderrig. Hoewel ons almal onthou dát ons begripstoetse moes doen, kan ons meestal nie meer die spesifieke leesstukke waaroor ons vrae moes beantwoord onthou nie. In standerd 8 egter het Juffrou Oelofse vir ons 'n begripstoets gegee waarvan ek die eerste paragraaf tot vandag toe nog onthou:

“Daar is 'n soort stilte wat meer behels as die afwesigheid van geluid; 'n stilte sonder beweging; 'n stilte wat byna die dood self is. Die lug is stil, die blare en gras is stil, die voëls is ongelooflik stil. As die meide smiddae die mangopitte los en wegraak tussen die bome, dán kom dié stilte. Dis die uur sonder sonbesies – die dooie uur waarin 'n mens begin vermoed dat selfs die son iewers vasgesteek het.

In só 'n uur kom Kirst.”

 

Ek sal graag wil weet of ek die destydse Natalse Onderwysdepartement moet bedank, en of dié begripstoets deur juffrou Oelofse self opgestel is. Maar wie van hulle ook al daarvoor verantwoordelik was, dit het vir my ten minste drie wêrelde oopgemaak waarvan ek voorheen nie bewus was nie:

·          'n wêreld van taal waarin woorde mens oombliklik uit 'n klaskamer kon gryp;

·          'n wêreld van broeiende hitte met frangipani's en piesangs en mango's waarmee ek as Nataller kon identifiseer, en derdens;

·          'n wêreld waarin die dinge waaroor ek tot op daardie tydstip seker was, skielik in onsekerte gehul is.

 

Die gesiglose Natalse Onderwysdepartement, of Juffrou Oelofse wie se gesig ek ook al vergeet het, het in 'n voetnoot onderaan die eerste bladsy van die leesstuk gemeld dat dié kortverhaal, Bos, deur Chris Barnard geskryf is en dat dit later "uitgebrei is tot 'n roman", met die titel Mahala.

 

Die geheimsinnige Kirst wat opdaag of nie opdaag nie, wat met sy "klein swart Beretta"-pistool skielik net daar is, of nie nie daar is nie, in die hitte, die sweet, in daardie stilte wat meer behels as die afwesigheid van geluid, het my al die pouse nét na die begripstoets na die skoolbiblioteek gejaag. Miskien was dit daardie woorde van Kirst: "Dis jy…" wat my laat voel het die verhaal is vir my bedoel en daarom sal die roman ook vir my bedoel wees. Ek het net geweet dat as daar iewers meer van hierdie soort verhaal te lese is, ek dit wil lees. En sedertdien het Kirst uit Bos en Ritter uit Mahala my gejaag, oor myself laat dink, oor die wêreld laat dink. Daardie ronde gaatjie in die sifdraad van An se deur, een meter van die vloer af, en 'n gaatjie in die skewe muskietnet en die oor en weer skuif van tye en mense en plekke het my wêreld vir ewig ontstem; my bewusgemaak van die prekêre balans van die menslike psige, van die effek van die woorde waarmee ons wêreld gemaak word. En dit het, tot juffrou Oelofse se groot frustrasie, gelei tot die gebruik van talle kommapunte in my opstelle.

 

Die verskyning van Oulap se blou, 'n veertigtal vertellings deur Barnard, maak my byna dertig jaar na daardie eerste kennismaking met Bos opnuut opgewonde.

 

Tyd steel die hart uit alle dinge uit

 

Ek het begin met 'n herinnering aan Juffrou Oelofse se Afrikaanse klas – op die boonste verdieping van die skoolgebou vanwaar mens die see en die skepe wat voor die Durbanhawe wag, kon sien.

Soms, as die wind oos gewaai het, kon mens die sout in die klas ruik. Ek het nooit vir juffrou Oelofse dankie gesê vir alles wat sy vir my geleer het nie, en voel vandag skuldig dat ons haar "Ou Volstruis" genoem het.

 

Dit is nie om dowe neute dat ek met 'n herinnering begin het nie. Hierdie veertig vertellings van Chris Barnard in Oulap se blou staan telkens in die teken van herinnering. Die effens langer vertelling, Vallei van verlange, begin só:

“Het dit hoegenaamd iets met die plek te make, of dalk eerder met die verbyheid van alles? Op soek na die gekoesterde landskappe van 'n jeug loop jy jou sonder ophou vas teen die verlies. Alles is nog daar en niks daarvan het oorgebly nie.

Tyd steel die hart uit alle dinge uit.”

(p.123)

 

In Oulap se blou keer die vertellings telkens terug na hoedat tyd die hart uit alle dinge steel. In ons bestaan, wat gekenmerk word deur verlies, speel onthou 'n sentrale rol. Die "verbyheid van alles" is een van die dinge waarmee ons elke dag gekonfronteer word; die onmoontlikheid om vas te hou, om te herbeleef, om te kan aanhou leef. Uiteindelik is onthou ons enigste verweer teen hierdie voortdurende verlies. Maar die probleem van onthou, so word ons in vertelling na vertelling in hierdie bundel herinner, is dat ons onthou so onbetroubaar is. Ons onthou dieselfde dinge verskillend en kan mekaar later nie meer verstaan nie – soos 'n sewetal manne op 'n skoolreünie geleidelik agterkom.

 

Ons herinneringe vervaag.

 

As ons nie kan onthou nie, raak onsself weg

 

Ons onthou van talle somervakansies eintlik net een of twee momente wat instaan vir al die tye. Ons onthou ons jeug as 'n lang somer met volmaan elke aand.

 

En telkens sit elkeen met sy eie herinneringe – en dit is moeilik om die herinneringe met ander te deel. En daarom sit elkeen ook met sy eie eensaamheid – soos die tandemaker wat die eensaamheid probeer ophef deur mense in staat te stel om te glimlag en om dan die skewe tande gedurende die winter in sy kaggel te verbrand.

 

Die gevaar van so 'n bundel verhale wat neig na die blou gevoel, is dat die nostalgie naderhand so oorheersend kan word dat dit net te veel raak; dat die wending vol patos naby die slot van die vertelling kan lei tot 'n soetsappigheid. Talle van hierdie vertellings is oorspronklik geskryf as rubrieke vir tydskrifte. Die tipiese Afrikaanse rubriek word gekenmerk deur so 'n moment van patos, die roerende moment van insig, inkeer, herkenning van die regte pad.

 

Maar wanneer 'n verteller soos Chris Barnard aan die woord is, gebeur daar veel meer as 'n blote storietjie wat vertel word met die doel om die emosies te roer. Elke stuk skep die indruk van woorde wat moeiteloos presies reg gaan lê. Die herinnering, die verlies, word op 'n manier vertel dat dit telkens nie 'n verlange na die plek van die verlede, die huis, is nie, maar ook juis 'n nadenke oor nou. Die terugkyk lei telkens tot 'n verstaan van nou. Die ouma in Kiekies word paniekerig as sy nie meer kan onthou nie: "Agter Ouma se dik brilglase was haar oë wyd gesper en starend soos iemand s'n wat deur tyd probeer kyk." (133).

 

Ons is almal op 'n manier met wyd gesperde oë besig om deur tyd te probeer kyk, want as ons nie kan onthou nie, as ons die kontinuïteit van een oomblik na die volgende verloor, raak nie net daardie individuele herinnerings weg nie, ons raak self weg. As ons nie kan onthou nie, verdwyn ons.

 

'n Groot aantal van die vertellings het met die liefde te doen; veral met herinnerings aan die liefde. Geliefdes en liefdesteleurstellings word in herinnering geroep. Liefde in verskeie gedaantes: eerste liefde, die soektog na liefde, skelm liefde, durende liefde; liefde wat onuitgespreek bly en liefde wat verswelg word deur te veel woorde. En al hierdie ervarings van die liefde word eers met die terugskoue waardeer en selde met spyt opgeroep.

 

Op reis

 

Opvallend is dat so baie karakters in hierdie vertellings op reis is. Soms reis hulle om te vergeet – jaag hulle voort om van die eensaamheid af weg te kom. Soms reis hulle juis om te onthou, probeer weer die plekke van herinnering besoek om iets van die verbyheid van alles te weerstaan. Dikwels is die reisiger alleen omdat die verste reis wat 'n mens kan maak – soos Elsa Joubert geskryf het – van mens tot mens is.

 

Uiteindelik is dit natuurlik woorde wat die wal teen die groot vergeet moet gooi. En dit is met woorde wat Barnard die meester is. Hy skryf oor sy ma wat altyd gehunker het:

“Sulke dinge word nie maklik deur 'n kamera vasgevang nie, maar van die vier op die foto was Ma die een wat altyd gehunker het – die een dag ver vooruit, hemel toe, die volgende dag terug na 'n geïdealiseerde verlede. Die ontsnaproete was altyd deur teksverse en herinneringe en storieboeke. "Oh if only I could write!" was dikwels haar versugting. "I would have written my own beautiful version of How Green Was My Valley." Soms, in 'n onbewaakte oomblik, sou sy byvoeg: "I have often tried, but time and again it gets spoilt on the way out." Die een seun op die foto wat so hoopvol na die kameralens staar, sou dit later in sy lewe tot vervelens toe ervaar. (125)

 

In hierdie bundel het die vertel nie bederf geraak "op pad uit" nie. Ook nie in Barnard se ander werk nie. Ten spyte van sy eie oordeel. Dankie Chris.

 

Willie Burger is ‘n professor in Letterkunde van die Afrikaanse Departement van die Universiteit van Johannesburg.