|
deur Willie Burger
Ons almal moes op skool begripstoetse doen – die
begripstoets was een van die pilare van
taalonderrig. Hoewel ons almal onthou dát ons
begripstoetse moes doen, kan ons meestal nie
meer die spesifieke leesstukke waaroor ons vrae
moes beantwoord onthou nie. In standerd 8 egter
het Juffrou Oelofse vir ons 'n begripstoets
gegee waarvan ek die eerste paragraaf tot vandag
toe nog onthou:
“Daar is 'n soort stilte wat
meer behels as die afwesigheid van geluid; 'n
stilte sonder beweging; 'n stilte wat byna die
dood self is. Die lug is stil, die blare en gras
is stil, die voëls is ongelooflik stil. As die
meide smiddae die mangopitte los en wegraak
tussen die bome, dán kom dié stilte. Dis die uur
sonder sonbesies – die dooie uur waarin 'n mens
begin vermoed dat selfs die son iewers
vasgesteek het.
In só 'n uur kom Kirst.”
Ek sal graag wil weet of ek die destydse Natalse
Onderwysdepartement moet bedank, en of dié
begripstoets deur juffrou Oelofse self opgestel
is. Maar wie van hulle ook al daarvoor
verantwoordelik was, dit het vir my ten minste
drie wêrelde oopgemaak waarvan ek voorheen nie
bewus was nie:
·
'n wêreld van taal waarin woorde mens oombliklik
uit 'n klaskamer kon gryp;
·
'n wêreld van broeiende hitte met frangipani's
en piesangs en mango's waarmee ek as Nataller
kon identifiseer, en derdens;
·
'n wêreld waarin die dinge waaroor ek tot op
daardie tydstip seker was, skielik in onsekerte
gehul is.
Die gesiglose Natalse Onderwysdepartement, of
Juffrou Oelofse wie se gesig ek ook al vergeet
het, het in 'n voetnoot onderaan die eerste
bladsy van die leesstuk gemeld dat dié
kortverhaal, Bos, deur Chris Barnard
geskryf is en dat dit later "uitgebrei is tot 'n
roman", met die titel Mahala.
Die geheimsinnige Kirst wat opdaag of nie opdaag
nie, wat met sy "klein swart Beretta"-pistool
skielik net daar is, of nie nie daar is nie, in
die hitte, die sweet, in daardie stilte wat meer
behels as die afwesigheid van geluid, het my al
die pouse nét na die begripstoets na die
skoolbiblioteek gejaag. Miskien was dit daardie
woorde van Kirst: "Dis jy…" wat my laat voel het
die verhaal is vir my bedoel en daarom sal die
roman ook vir my bedoel wees. Ek het net geweet
dat as daar iewers meer van hierdie soort
verhaal te lese is, ek dit wil lees. En
sedertdien het Kirst uit Bos en Ritter
uit Mahala my gejaag, oor myself laat
dink, oor die wêreld laat dink. Daardie ronde
gaatjie in die sifdraad van An se deur, een
meter van die vloer af, en 'n gaatjie in die
skewe muskietnet en die oor en weer skuif van
tye en mense en plekke het my wêreld vir ewig
ontstem; my bewusgemaak van die prekêre balans
van die menslike psige, van die effek van die
woorde waarmee ons wêreld gemaak word. En dit
het, tot juffrou Oelofse se groot frustrasie,
gelei tot die gebruik van talle kommapunte in my
opstelle.
Die verskyning van Oulap se blou,
'n veertigtal vertellings deur Barnard, maak my
byna dertig jaar na daardie eerste kennismaking
met Bos opnuut opgewonde.
Tyd steel die hart uit
alle dinge uit
Ek het begin met 'n herinnering aan Juffrou
Oelofse se Afrikaanse klas – op die boonste
verdieping van die skoolgebou vanwaar mens die
see en die skepe wat voor die Durbanhawe wag,
kon sien.
Soms, as die wind oos gewaai het, kon mens die
sout in die klas ruik. Ek het nooit vir juffrou
Oelofse dankie gesê vir alles wat sy vir my
geleer het nie, en voel vandag skuldig dat ons
haar "Ou Volstruis" genoem het.
Dit is nie om dowe neute dat ek met 'n
herinnering begin het nie. Hierdie veertig
vertellings van Chris Barnard in Oulap se
blou staan telkens in die teken van
herinnering. Die effens langer vertelling,
Vallei van verlange, begin só:
“Het dit hoegenaamd iets met die plek te make,
of dalk eerder met die verbyheid van alles? Op
soek na die gekoesterde landskappe van 'n jeug
loop jy jou sonder ophou vas teen die verlies.
Alles is nog daar en niks daarvan het oorgebly
nie.
Tyd steel die hart uit alle dinge uit.” (p.123)
In Oulap se blou keer die vertellings
telkens terug na hoedat tyd die hart uit alle
dinge steel. In ons bestaan, wat gekenmerk word
deur verlies, speel onthou 'n sentrale rol. Die
"verbyheid van alles" is een van die dinge
waarmee ons elke dag gekonfronteer word; die
onmoontlikheid om vas te hou, om te herbeleef,
om te kan aanhou leef. Uiteindelik is onthou ons
enigste verweer teen hierdie voortdurende
verlies. Maar die probleem van onthou, so word
ons in vertelling na vertelling in hierdie
bundel herinner, is dat ons onthou so
onbetroubaar is. Ons onthou dieselfde dinge
verskillend en kan mekaar later nie meer
verstaan nie – soos 'n sewetal manne op 'n
skoolreünie geleidelik agterkom.
Ons herinneringe vervaag.
As ons nie kan onthou nie,
raak onsself weg
Ons onthou van talle somervakansies eintlik net
een of twee momente wat instaan vir al die tye.
Ons onthou ons jeug as 'n lang somer met volmaan
elke aand.
En telkens sit elkeen met sy eie herinneringe –
en dit is moeilik om die herinneringe met ander
te deel. En daarom sit elkeen ook met sy eie
eensaamheid – soos die tandemaker wat die
eensaamheid probeer ophef deur mense in staat te
stel om te glimlag en om dan die skewe tande
gedurende die winter in sy kaggel te verbrand.
Die gevaar van so 'n bundel verhale wat neig na
die blou gevoel, is dat die nostalgie naderhand
so oorheersend kan word dat dit net te veel raak;
dat die wending vol patos naby die slot van die
vertelling kan lei tot 'n soetsappigheid. Talle
van hierdie vertellings is oorspronklik geskryf
as rubrieke vir tydskrifte. Die tipiese
Afrikaanse rubriek word gekenmerk deur so 'n
moment van patos, die roerende moment van insig,
inkeer, herkenning van die regte pad.
Maar wanneer 'n verteller soos Chris Barnard aan
die woord is, gebeur daar veel meer as 'n blote
storietjie wat vertel word met die doel om die
emosies te roer. Elke stuk skep die indruk van
woorde wat moeiteloos presies reg gaan lê. Die
herinnering, die verlies, word op 'n manier
vertel dat dit telkens nie 'n verlange na die
plek van die verlede, die huis, is nie, maar ook
juis 'n nadenke oor nou. Die terugkyk lei
telkens tot 'n verstaan van nou. Die ouma in
Kiekies word paniekerig as sy nie meer kan
onthou nie: "Agter Ouma se dik brilglase was
haar oë wyd gesper en starend soos iemand s'n
wat deur tyd probeer kyk." (133).
Ons is almal op 'n
manier met wyd gesperde oë besig om deur tyd te
probeer kyk, want as ons nie kan onthou nie, as
ons die kontinuïteit van een oomblik na die
volgende verloor, raak nie net daardie
individuele herinnerings weg nie, ons raak self
weg. As ons nie kan onthou nie, verdwyn ons.
'n Groot aantal van die vertellings het met die
liefde te doen; veral met herinnerings aan die
liefde. Geliefdes en liefdesteleurstellings word
in herinnering geroep. Liefde in verskeie
gedaantes: eerste liefde, die soektog na liefde,
skelm liefde, durende liefde; liefde wat
onuitgespreek bly en liefde wat verswelg word
deur te veel woorde. En al hierdie ervarings van
die liefde word eers met die terugskoue waardeer
en selde met spyt opgeroep.
Op reis
Opvallend is dat so baie karakters in hierdie
vertellings op reis is. Soms reis hulle om te
vergeet – jaag hulle voort om van die
eensaamheid af weg te kom. Soms reis hulle juis
om te onthou, probeer weer die plekke van
herinnering besoek om iets van die verbyheid van
alles te weerstaan. Dikwels is die reisiger
alleen omdat die verste reis wat 'n mens kan
maak – soos Elsa Joubert geskryf het –
van mens tot mens is.
Uiteindelik is dit natuurlik woorde wat die wal
teen die groot vergeet moet gooi. En dit is met
woorde wat Barnard die meester is. Hy skryf oor
sy ma wat altyd gehunker het:
“Sulke dinge word nie maklik deur 'n kamera
vasgevang nie, maar van die vier op die foto was
Ma die een wat altyd gehunker het – die een dag
ver vooruit, hemel toe, die volgende dag terug
na 'n geïdealiseerde verlede. Die ontsnaproete
was altyd deur teksverse en herinneringe en
storieboeke. "Oh if only I could write!" was
dikwels haar versugting. "I would have written
my own beautiful version of How Green Was My
Valley." Soms, in 'n onbewaakte oomblik, sou
sy byvoeg: "I have often tried, but time and
again it gets spoilt on the way out." Die een
seun op die foto wat so hoopvol na die
kameralens staar, sou dit later in sy lewe tot
vervelens toe ervaar. (125)
In hierdie bundel het die vertel nie bederf
geraak "op pad uit" nie. Ook nie in Barnard se
ander werk nie. Ten spyte van sy eie oordeel.
Dankie Chris. |