|
Chris Barnard se nuutste skrywerswerk, die
bundel kortverhale Oulap se blou, is
verlede maand deur Umuzi-uitgewers uitgereik.
Oulap se blou
kom net mooi veertig jaar ná die verskyning van
sy eerste bundel kortverhale,
Duiwel-in-die-bos, wat, soos sy eweneens
vroeë roman Mahala, iets so definiërends
aan die Afrikaanse letterkunde gegee het dat
hulle vandag nog as gekanoniseerde werke staan.
In een opsig reik van die verhale en vertellings
in Oulap ook oor die dekades terug, selfs
verby die tyd toe Barnard saam met die ander
Sestigers soveel vars lug deur ons letterkunde
laat waai het. Dit is verhale waarin die
verlange van die oudag die verlange van die jeug
herken en daaraan ’n stem gee. Verlange na
verlange, in besoeke na ’n landelike
seunskindparadys wat, soos alle geluk, slegs
vlietend bestaan het. En ook nie slangloos was
nie.
Maar ten spyte van die bundel se lig
melancholiese toonaard, wat die Afrikaanse
uitdrukking “oulap se rooi” in die bundeltitel
blou laat word, is dit verhale wat selde
sonder die humor van selfironisering, of ’n oog
vir die absurde, of selfs vir die karnavaleske
bly. En dis ook lank nie alles heimwee nie. Daar
is trouens verhale uit vandag se werklikheid wat
as ’t ware ’n vooruit-nostalgie openbaar, met
glimpse van die beter dae wat moontlik is.
Barnard het hom bewys as ’n skrywer wat nie
versiering nodig het nie. Die vertellings in
hierdie bundel tel onder sy eenvoudigste werk,
en dalk is dit ook van sy ontroerendste. Maar
die eenvoud is bedrieglik.
Barnard se oeuvre strek nie net oor talle genres
– soos romans, jeugverhale, kortkuns, verhoog-
en radiospele, draaiboeke vir films en TV, selfs
lirieke – heen nie, maar reik ook reeds meer as
vier dekades terug. Tog is hy so vars soos
vandag se rubriek wat hy steeds in die tydskrif
Mooiloop skryf, of die ander
geleentheidstukke wat van tyd tot tyd uit sy pen
verskyn.
Chris Barnard – een van die mees bekroonde
skrywers in Afrikaans met die Hertzogprys twee
keer, en die CNA-prys drie keer – is in 1939 in
Nelspruit gebore. Hy was boekuitgewer, joernalis
en filmvervaardiger. Die film Paljas
onder regie van sy vrou, Katinka Heyns, is
genomineer vir die Oscar as beste buitelandse
film. Sy prosawerk is wyd vertaal. Hy is vandag
’n neuteboer in Mpumalanga.
Lees ook
prof. Willie Burger se bespreking van Oulap se blou
hier. |
|
jougeskenke
3lesers
kan elkeen 'n kopie van Chris Barnard se nuutste
bundel kortverhale, Oulap se blou, wen!
Om hiervoor in aanmerking te kom,
SMS eenvoudig die woorde JW OULAP, tesame
met jou naam en e-posadres, aan
34780.
Lees ook die kompetisie-reëls op
jougeskenke |