|
jouapplous
Voorspoedige Nuwejaar!
Deur Jaco Hough-Coetzee
Leon van Nierop het 'n
kleintjie dood aan nuwejaarsvoornemens, want hy voel 'n mens moet elke
dag met 'n voorneme opstaan en dit dan uitvoer. Mari Michael se wens is
dat Suid-Afrikaners meer geduld met mekaar sal hê. Dowwe Dolla se advies
is kort en kragtig: moenie 'n wag voor jou mond plaas nie, praat! En dan
wonder sy ook of Steve Hofmeyr ooit weer op Huisgenoot se voorblad sal
pryk. Blackie Swart bid vir 'n draaipunt in sy musiekloopbaan, terwyl
Amore Bekker geleer het dat stille tyd saam met jou lewensmaat belangrik
is. Tiro hoop dat alle Suid-Afrikaners die verlede sal vergeet, en vir
mekaar die hand sal gee. Tinus Esterhuizen wens dat alle musiekklone hul
gesteelde talente sal gaan begrawe, terwyl CJ de Swart voel die meeste
Afrikaanse vermaaklikheidsterre het nie maniere nie en ken nie die woord
"dankie" nie.
Leon van Nierop (filmresensent, skrywer en radio-omroeper) Mari Michael (sangeres, aktrise en TV-aanbieder) Dowwe Dolla (sosiale kommentator en die alter-ego van die aktrise Margit Meyer-Rodenbeck) Blackie Swart (sanger, musikant en liedjieskrywer)
Richard van der
Westhuizen (akteur, liedjieskrywer en sanger) Tiro (sanger)
Tinus
Esterhuizen / Martin Lane (Musikant en musieksaamsteller by RSG)
Leon van Nierop (filmresensent, skrywer en radio-omroeper)
Ek het 'n kleintjie dood aan nuwejaarsvoornemens, want ek voel 'n mens moet elke dag van jou lewe met 'n voorneme opstaan en dit probeer uitvoer. Dis soos Valentynsdag. Jy kan mos nie net een dag per jaar vir jou geliefde laat verstaan hoe jy voel nie?
Daarom is my boodskap
aan almal wat nou hiér lees: voer jou beloftes uit, bly weg van retoriek
en vae antwoorde en probeer 'n verandering maak nie net in jou eie lewe
nie, maar ook in die van die mense naby aan jou.
Ek hou daarvan om kanse
te waag: sodra ek te gemaklik raak, of in 'n gemaksone terugval, bring
ek 'n drastiese verandering teweeg. Daarom het ek die TUT verlaat as
hoof van hul filmskool en voltyds terugbeweeg na die
vermaaklikheidsbedryf toe. Ek is dié jaar medevervaardiger en regisseur
van 'n nuwe tydskrifprogram op SABC 3, wat vir my ook 'n nuwe ervaring
sal wees. Ek gaan dus nie net by die produksiekant betrokke wees nie,
maar ook by die skryf van die program en soms as aanbieder. Verder
beplan ek 'n TV-reeks, en sal ek steeds rolprentresensies doen vir al
die publikasies en media waarvoor ek reeds jare lank skryf. Ek gaan ook
weer rolprentresensies vir TV doen, en dan is daar moontlik 'n nuwe
radioreeks. Ek lees steeds nuus en doen kontinuïteit op RSG, vir wie ek
ook rolprentresensies doen. My grootste begeerte vir Suid-Afrika is nie net dat demokrasie in ons land tot sy volle reg sal kom nie – want dit het nog nie – maar dat ons bure nuwe leierskap sal kry en hul probleme sal begin uitsorteer, want op die een of ander tyd gaan dit ons ook sodanig verswak dat ons nie weer sal herstel nie.
Ek begeer dat meer
Afrikaanse rolprente sonder masturbasie- of kleinhuisiegrappe die lig
sal sien – is ons dan regtig nog so onvolwasse?
My boodskap vir Suid-Afrikaners is: moet nooit bang wees om jouself te herontdek en te herskep nie. Gemaklikheid en passiwiteit is die duiwel se oorkussing.
Mari Michael (sangeres, aktrise en TV-aanbieder)
My nuwejaarsboodskap is dat almal net voorspoed in 2009 sal beleef, en mag al julle grootste drome waar word! Ek hoop dat ons as Suid-Afrikaners in die nuwe jaar kan leer om mekaar liewer te hê, en meer geduld en simpatie vir mekaar te hê. Daar is te veel woede – mens sien dit elke dag op die nuus, elke dag op die pad en elke dag in die toue by die supermark. Suid-Afrikaners moet leer om tot 10 te tel.
Vir my
persoonlik was 2008 'n jaar vol persoonlike hoogtepunte: ek het 'n nuwe
album vrygestel en 'n fantastiese rol op 7de Laan gehad. Ek
gaan die nuwe jaar egter vat soos dit kom.
Ek het nie nuwejaarsvoornemens nie – wat is dit? Kan mens dit eet? Maar een van die grootste lesse wat ek geleer het en wat ek wel in die nuwejaar gaan toepas, is om op die Here te vertrou – Hy sal voorsien. Ek probeer wegbly van vrees af. Dit is 'n slegte gewoonte.
Dowwe Dolla (sosiale kommentator en die alter-ego van die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck)
2008 is 'n
jaar wat weereens bewys het dat niks onmoontlik is nie: die withuis het
'n swart president gekry en Suid-Afrika het 'n swart president verloor
en 'n beige politieke party bygekry. Dolla kan nie wag vir 2009 nie – hiérdie jaar moet groot dinge gebeur! Ons wag dat die sokkerstadions en die Gautrein moet klaar kom. Ons wag op krag van Eskom en van Bo. Ons wag op 'n verkiesing en 'n nuwe party. Ons wag op beter paaie. Ons wag op beter lirieke van die Campbells en Gerrie Pretorius. Ons wag om te sien wanneer Jurie en Hestrie weer gaan terugtrek Suid-Afrika toe. Ons wag om te sien of Julius Malema deel van Zumpies se kabinet gaan wees, ten spyte van sy dubbel G-simbool vir houtwerk. Ons wag vir dr. Manto Tshabalala-Ma-se-Mangels se bedanking. Ons wag om te sien of Steve weer op die Huisgenoot se voorblad sal verskyn.
Dowwe
Dolla se voorneme is om in 2009 vir niks te wag nie, maar voluit te
lewe. Moenie wag nie, doen! Moenie 'n wag voor jou mond sit nie,
praat. Moenie net wag vir 2010 nie, leef 2009 as 'n bielie van 'n jaar!
Blackie Swart (sanger, musikant en liedjieskrywer)
Ek hoop
dat almal wat onseker is oor 2009, die Goddelike vrede wat alle verstand
te bowe gaan, sal ervaar en bietjie in hul eie vermoëns sal begin
glo. Die Afrikaner is 'n sterk, trotse en intelligente nasie – ons is
ystermanne en -vroue! 'n Hoogtepunt van 2008 was die stigting van 'n nuwe politieke party wat die ANC gaan pakgee – ek weet dit! 'n Laagtepunt was dieselfde ANC se patetiese poging om sy eerste resessie te probeer hanteer. 'n Ander hoogtepunt was die American Music Awards, waar ware musiek die eerste keer in jare weer die podium gevat het. Ek hoop dit waai oor na die res van die wêreld.
Ek hoop
dat my boodskap vir die regering deur die "nuwe" party opgeneem sal
word: 'n land is nie so sterk soos sy militêre mag nie, maar soos sy
kinderkorps! Belê in jou kinders! Op my eie musiekfront behoort 2009 die draaipunt tussen 'n day-job en 'n verdere musiekloopbaan te wees. Dis werklik 'n gebed-saak by my – ek moet vanjaar kies tussen populêre musiek en dít waar my hart lê. My grootste les in 2008 was dat ek geleer het om myself as déél van die samelewing belangrik te ag. Ek is 'n rolspeler in, en help bou aan, jongmense se loopbane en lewensideale. Ek wil graag sien dat my input 'n positiewe outcome het.
My nuwejaarsvoorneme is om nie enige te hê nie – dit plaas net onnodige druk op 'n mens!
Neem uit die verlede wat goed is en bou daarop, sê die slim mense. Maar as ek só na 2008 kyk, dan lyk dit vir my dit is meer 'n geval van “neem uit die verlede wat goed is, en smyt dit weg.” Nou hoekom sê ek dan so?
Ons wen die
rugby-wêreldbeker met een van die beste afrigters ter wêreld. Wat doen
ons? Smyt hom weg! Ons het van die mooiste strande ter wêreld aan die wildekus. Wat doen ons? Smyt dit argeloos in die kloue van een of ander Australiese mynmaatskappy wat plegtig belowe om dit kamstig ongeskonde te laat as hulle dit klaar verkrag het. Elke minister het sy prys, bloedgeld vir 'n BMW. En Steve Hofmeyr verneuk sy minnares met 'n danseres, sê dit was 'n kak jaar en smyt sy tee (uit die pram) oor Huisgenoot se hoofmeisie uit. Wat doen ons? Smyt alle smaak by die venster uit en wag in spanning op die nuwe musical, “Dis hoe dit eintlik moes gewees het, seun van Steve, deel 1”.
En tog het ek lekker gelag in 2008. En nou lê 2009 en wag. Hoe gaan ek weer só lekker kan lag? Ek sal moet leer wegsmyt, lyk dit my. Veral leë bottels waarin daar lekker wyn was, afgevrete skaapribbetjies, leë vyekonfytbotteljies, ou stukkend gespeelde kitaarsnare en alle verkeerskaartjies.
Dan kan ek saam met al my dierbare vriende en vriendinne dapper onder die volmaan lag. Ek gaan probeer om in die nuwe jaar die perfekte roosterkoek te braai, klippe te leer kap met 'n beitel, en met 'n bietjie geluk en genade 'n klomp rumoerige songs te skryf terwyl ek kyk hoe my bome wat ek laasjaar geplant het groei. Mag julle wêreld vol donderweer bly!
Amore
Bekker (RSG-omroeper)
My
nuwejaarsvoorneme is om in 2009 nog mooier musiek te speel. Verder wil
ek my middagskofprogram, Tjailatyd, meer "groen" maak – én ek gaan
ongelooflike stories versamel. Ek gaan beslis ook meer groente eet!
Tiro (sanger)
My nuwejaarsboodskap
vir my ondersteuners is: baie dankie aan 'n ieder en elk van julle vir
jul bydrae tot die sukses van my loopbaan – vir elke CD wat gekoop is en
elke woord van bemoediging en ondersteuning, sonder julle sou ek dit nie
kon doen nie. Mag 2009 vir julle vol Jesusvrede en vreugde wees.
2008 voel vir my soos
een groot hoogtepunt: daar het besondere goed met my gebeur, soos die
6-weke toer in Japan, die talle TV-optredes, my optrede by die Angus
Buchan-byeenkoms in Johannesburg asook al die tydskrifartikels. En dan
natuurlik die vrystelling van my debuut-album, Speak to Me.
Mag die regering in
2009 God se grootste gebod van liefde vir Hom en vir ons naaste uitleef
– dít is die antwoord op al ons probleme.
My nuwejaarsvoorneme is
om meer mense te bereik en 'n verskil in hul lewens deur my musiek te
maak, 'n voorbeeld en aanmoediging vir jonk en oud te wees, en altyd
positief te bly.
Tinus Esterhuizen (Martin Lane) – Musikant en musieksaamsteller by RSG
My
nuwejaarsboodskap is eenvoudig: Mag ons nie weer dieselfde foute as in
die verlede maak nie, en mag Afrikaans nie as gevolg daarvan ly nie. Ons
moet opstaan vir ons regte en altyd onthou dat die Oppergesag koning
kraai.
Laagtepunte verlede jaar vir my was die kragprobleme, die petrolprys en Mugabe wat net nie weet wanneer om die mas in te gooi nie.
Maar 2008
het my ook geleer om eerder te fokus op die huidige, en om nie die toekoms
te probeer voorspel nie.
CJ de Swart (vryskutjoernalis en musiekresensent vir Vrouekeur)
'n Nuwejaarsboodskap (soos die sogenaamde voornemens wat 'n mens immers selde hou – ek ook) is sinneloos, want ek meen geen mens het só 'n sukses van sy lewe gemaak dat hy vir ander 'n toekomsboodskap kan bied nie. Maar 'n mens mag seker maar wens – én dankbaar wees. Dus: ek is verheug dat Cope gebeur het. En ek hoop dat die DA en die OD met dié nuutgestigte party se bedreiging sal kan cope.
Mense moet ophou om, onder die dekmantel van droggodsdiens, te skuil vir redes vir die land se skynversoening. As ons almal mekaar aanvaar en verdra, kán álles beter word! Maar dan moet ons eers onsself bemin: die lyf en die siel. En dan sal God ons ook liefhê. En dan kan ons mekaar met hartstog omvou.
2008 het my onder meer geleer dat jy in die vermaakbedryf slegs 'n kraan is – en die veinsdorstiges sal jou leegsuip, self nóg beroemder en ryker raak en nie 'n moer vir jou omgee nie. Die meeste sterre het nie maniere nie en ken nie die woord dankie nie!
Die toekoms hou altyd vrese in, en soos elke ander vryskutskrywer, is jy altyd bang dat jy eendag 'n e-pos (wel, mense verbreek huweliksaansoeke per sms!) kry wat jou meedeel jou woorde is nie meer nodig nie – daarom hou 'n mens maar altyd die tuinslang gereed by jou motor se uitlaatpyp . . .
My eie
voornemens? Ek wil regtig net probeer om 'n beter mens te wees: vir my
diere, my familie, my vriende, my kollegas en 'n gehoorsamer kind van
God. Ek wil probeer om 'n beter joernalis te wees en my wens is om te
kan skryf oor wie en wat ek wil – en nie omdat ek dit, as 'n woordhoer,
móét doen nie. Daarom móét my boek in 2009 gebeur.
Ek droom
steeds oor iemand wat my in liefde - en seks - sal versmoor. Daarom gaan
ek elke denkbare kompetisie in koerante en tydskrifte invul en die een
prys na die ander wen. Ek weet ek is 'n wenner en ek weet Jesus sal my
seën met dit wat ek verdien!
|