Januarie 2009
Jaargang 1 Uitgawe 6

 

 


  Voorspoedige Nuwejaar!

jouapplous
hoofinhoud
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel


deur
Jaco Hough-Coetzee
 

'n Paar bekendes uit die vermaaklikheidswêreld deel hul wense, vrese en voornemens. Hulle neem 2008 in oënskou en lig die sluier oor hul eie beplanning en doen en late vir 2009.


Leon van Nierop het 'n kleintjie dood aan nuwejaarsvoornemens, want hy voel 'n mens moet elke dag met 'n voorneme opstaan en dit dan uitvoer. Mari Michael se wens is dat Suid-Afrikaners meer geduld met mekaar sal hê. Dowwe Dolla se advies is kort en kragtig: moenie 'n wag voor jou mond plaas nie, praat! En dan wonder sy ook of Steve Hofmeyr ooit weer op Huisgenoot se voorblad sal pryk. Blackie Swart bid vir 'n draaipunt in sy musiekloopbaan, terwyl Amore Bekker geleer het dat stille tyd saam met jou lewensmaat belangrik is. Tiro hoop dat alle Suid-Afrikaners die verlede sal vergeet, en vir mekaar die hand sal gee. Tinus Esterhuizen wens dat alle musiekklone hul gesteelde talente sal gaan begrawe, terwyl CJ de Swart voel die meeste Afrikaanse vermaaklikheidsterre het nie maniere nie en ken nie die woord "dankie" nie.

Dié bekendes in die vermaaklikheidsbedryf speel oopkaarte oor lesse wat hulle in 2008 geleer het, en vertel wat die publiek in 2009 van hulle kan verwag.

Leon van Nierop (filmresensent, skrywer en radio-omroeper)
Mari Michael (sangeres, aktrise en TV-aanbieder)
Dowwe Dolla (sosiale kommentator en die alter-ego van die aktrise Margit Meyer-Rodenbeck)
Blackie Swart (sanger, musikant en liedjieskrywer)
Richard van der Westhuizen (akteur, liedjieskrywer en sanger)
Amore Bekker (RSG-omroeper)
Tiro (sanger)
Tinus Esterhuizen / Martin Lane (Musikant en musieksaamsteller by RSG)
CJ de Swardt (Vryskutjoernalis en musiekresensent vir Vrouekeur)

     Leon van Nierop (filmresensent, skrywer en radio-omroeper)
 

Ek het 'n kleintjie dood aan nuwejaarsvoornemens, want ek voel 'n mens moet elke dag van jou lewe met 'n voorneme opstaan en dit probeer uitvoer. Dis soos Valentynsdag. Jy kan mos nie net een dag per jaar vir jou geliefde laat verstaan hoe jy voel nie?
Daarom is my boodskap aan almal wat nou hiér lees: voer jou beloftes uit, bly weg van retoriek en vae antwoorde en probeer 'n verandering maak nie net in jou eie lewe nie, maar ook in die van die mense naby aan jou.
 
Ek hou daarvan om kanse te waag: sodra ek te gemaklik raak, of in 'n gemaksone terugval, bring ek 'n drastiese verandering teweeg. Daarom het ek die TUT verlaat as hoof van hul filmskool en voltyds terugbeweeg na die vermaaklikheidsbedryf toe. Ek is dié jaar medevervaardiger en regisseur van 'n nuwe tydskrifprogram op SABC 3, wat vir my ook 'n nuwe ervaring sal wees. Ek gaan dus nie net by die produksiekant betrokke wees nie, maar ook by die skryf van die program en soms as aanbieder. Verder beplan ek 'n TV-reeks, en sal ek steeds rolprentresensies doen vir al die publikasies en media waarvoor ek reeds jare lank skryf. Ek gaan ook weer rolprentresensies vir TV doen, en dan is daar moontlik 'n nuwe radioreeks. Ek lees steeds nuus en doen kontinuïteit op RSG, vir wie ek ook rolprentresensies doen.

My grootste begeerte vir Suid-Afrika is nie net dat demokrasie in ons land tot sy volle reg sal kom nie – want dit het nog nie – maar dat ons bure nuwe leierskap sal kry en hul probleme sal begin uitsorteer, want op die een of ander tyd gaan dit ons ook sodanig verswak dat ons nie weer sal herstel nie.
Ek begeer dat meer Afrikaanse rolprente sonder masturbasie- of kleinhuisiegrappe die lig sal sien – is ons dan regtig nog so onvolwasse?
'n Nuwe Afrikaanse komedie, Karate Kallie van Willem van der Merwe, word dié jaar uitgereik en ek sien reikhalsend daarna uit. Maar ons het ook ander plaaslike – ook ernstige – rolprente nodig en daarvoor moet die LOTTO wakker skrik en help. 

Die grootste les wat ek in 2008 geleer het, is om nooit té selftevrede en té gemaklik te raak nie. Jy moet altyd nuwe horisonne verken en nuwe uitdagings aanvat. Jy moet ook kyk hoe ver jy jouself kan dryf om aanhoudend te vernuwe en jouself aanhoudend te herskep.

My persoonlike hoogtepunt verlede jaar was om die kort films te sien wat vanaf die TUT-filmskool gekom het, en om my te verbeel dat ek dalk 'n klein positiewe bydrae tot dié studente se talent kon lewer. My laagtepunt was toe my huis in Hazyview in die Laeveld twee keer kort na mekaar vir vyf dae op 'n slag sonder water was – "omdat die kanale skoongemaak word". In beide gevalle het ek met 'n huis vol mense, maar geen water, gesit! Die probleem duur blykbaar dié jaar voort, maar ek het nou ten minste datums!

My boodskap vir Suid-Afrikaners is: moet nooit bang wees om jouself te herontdek en te herskep nie. Gemaklikheid en passiwiteit is die duiwel se oorkussing.

    Mari Michael (sangeres, aktrise en TV-aanbieder)

My nuwejaarsboodskap is dat almal net voorspoed in 2009 sal beleef, en mag al julle grootste drome waar word!
Ek hoop dat ons as Suid-Afrikaners in die nuwe jaar kan leer om mekaar liewer te hê, en meer geduld en simpatie vir mekaar te hê. Daar is te veel woede – mens sien dit elke dag op die nuus, elke dag op die pad en elke dag in die toue by die supermark. Suid-Afrikaners moet leer om tot 10 te tel.

Vir my persoonlik was 2008 'n jaar vol persoonlike hoogtepunte: ek het 'n nuwe album vrygestel en 'n fantastiese rol op 7de Laan gehad. Ek gaan die nuwe jaar egter vat soos dit kom.
Ek gaan met die nuwe album toer, ek sal steeds elke Sondag op Spirit of Praise te sien wees en so teen Mei sal daar 'n nuwe kleinding in my familie wees!

Ek het nie nuwejaarsvoornemens nie – wat is dit? Kan mens dit eet? Maar een van die grootste lesse wat ek geleer het en wat ek wel in die nuwejaar gaan toepas, is om op die Here te vertrou – Hy sal voorsien.
Ek probeer wegbly van vrees af. Dit is 'n slegte gewoonte.

    Dowwe Dolla (sosiale kommentator en die alter-ego van die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck)
 

2008 is 'n jaar wat weereens bewys het dat niks onmoontlik is nie: die withuis het 'n swart president gekry en Suid-Afrika het 'n swart president verloor en 'n beige politieke party bygekry. 
Zimbabwe verloor ongelukkig nie hul president nie maar wen 'n cholera-epidemie. Hulle is ook die eerste land waar daar geen rekenaarskerm groot genoeg is om al die nulle van die inflasiekoers aan te dui nie.  In fact, dis aansteeklik – dit is! Finansiële markte wêreldwyd stort ineen. Bankbase in Amerika en Europa staan met bordjies om hul nekke by die robots en verkoop hangers, terwyl hul meer uitgeslape Suid-Afrikaanse kollegas sigare rook op die wynplase geborg deur my en jou ATM-transaksiekoste. Luke Watson braak op die Springboktrui, maar sy pa word die baas van OP-rugby.

Dolla kan nie wag vir 2009 nie – hiérdie jaar moet groot dinge gebeur! Ons wag dat die sokkerstadions en die Gautrein moet klaar kom. Ons wag op krag van Eskom en van Bo. Ons wag op 'n verkiesing en 'n nuwe party. Ons wag op beter paaie. Ons wag op beter lirieke van die Campbells en Gerrie Pretorius. Ons wag om te sien wanneer Jurie en Hestrie weer gaan terugtrek Suid-Afrika toe. Ons wag om te sien of Julius Malema deel van Zumpies se kabinet gaan wees, ten spyte van sy dubbel G-simbool vir houtwerk. Ons wag vir dr. Manto Tshabalala-Ma-se-Mangels se bedanking. Ons wag om te sien of Steve weer op die Huisgenoot se voorblad sal verskyn.

Dowwe Dolla se voorneme is om in 2009 vir niks te wag nie, maar voluit te lewe. Moenie wag nie, doen! Moenie 'n wag voor jou mond sit nie, praat. Moenie net wag vir 2010 nie, leef 2009 as 'n bielie van 'n jaar!
Hit it Kotie!
     Blackie Swart (sanger, musikant en liedjieskrywer)

Ek hoop dat almal wat onseker is oor 2009, die Goddelike vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal ervaar en bietjie in hul eie vermoëns sal begin glo. Die Afrikaner is 'n sterk, trotse en intelligente nasie – ons is ystermanne en -vroue!

'n Hoogtepunt van 2008 was die stigting van 'n nuwe politieke party wat die ANC gaan pakgee – ek weet dit! 'n Laagtepunt was dieselfde ANC se patetiese poging om sy eerste resessie te probeer hanteer. 'n Ander hoogtepunt was die American Music Awards, waar ware musiek die eerste keer in jare weer die podium gevat het. Ek hoop dit waai oor na die res van die wêreld.
Ek hoop dat my boodskap vir die regering deur die "nuwe" party opgeneem sal word: 'n land is nie so sterk soos sy militêre mag nie, maar soos sy kinderkorps! Belê in jou kinders!

Op my eie musiekfront behoort 2009 die draaipunt tussen 'n day-job en 'n verdere musiekloopbaan te wees. Dis werklik 'n gebed-saak by my – ek moet vanjaar kies tussen populêre musiek en dít waar my hart lê.
My grootste les in 2008 was dat ek geleer het om myself as déél van die samelewing belangrik te ag.  Ek is 'n rolspeler in, en help bou aan, jongmense se loopbane en lewensideale. Ek wil graag sien dat my input 'n positiewe outcome het.

My nuwejaarsvoorneme is om nie enige te hê nie – dit plaas net onnodige druk op 'n mens!

     Richard van der Westhuizen (akteur, liedjieskrywer en sanger)
 

Neem uit die verlede wat goed is en bou daarop, sê die slim mense. Maar as ek só na 2008 kyk, dan lyk dit vir my dit is meer 'n geval van “neem uit die verlede wat goed is, en smyt dit weg.”
Nou hoekom sê ek dan so?

Ons wen die rugby-wêreldbeker met een van die beste afrigters ter wêreld. Wat doen ons? Smyt hom weg!
Ons eie Trevor Manuel hou ons op die rand van die emmer terwyl die res van die wêreld lustig indompel. Die rand val, maar ons bly bo. Wat doen ons? Nog nie, maar as mens só luister na (voornemende vise-president) Malema en die sanger van Mshini dan dan is dit net 'n kwessie van tyd voor hy ook weggesmyt word.


Ons het van die mooiste strande ter wêreld aan die wildekus. Wat doen ons? Smyt dit argeloos in die kloue van een of ander Australiese mynmaatskappy wat plegtig belowe om dit kamstig ongeskonde te laat as hulle dit klaar verkrag het. Elke minister het sy prys, bloedgeld vir 'n BMW.

En Steve Hofmeyr verneuk sy minnares met 'n danseres, sê dit was 'n kak jaar en smyt sy tee (uit die pram) oor Huisgenoot se hoofmeisie uit.

Wat doen ons? Smyt alle smaak by die venster uit en wag in spanning op die nuwe musical, “Dis hoe dit eintlik moes gewees het, seun van Steve, deel 1”.

En tog het ek lekker gelag in 2008. En nou lê 2009 en wag. Hoe gaan ek weer só lekker kan lag? Ek sal moet leer wegsmyt, lyk dit my. Veral leë bottels waarin daar lekker wyn was, afgevrete skaapribbetjies, leë vyekonfytbotteljies, ou stukkend gespeelde kitaarsnare en alle verkeerskaartjies.

Dan kan ek saam met al my dierbare vriende en vriendinne dapper onder die volmaan lag. Ek gaan probeer om in die nuwe jaar die perfekte roosterkoek te braai, klippe te leer kap met 'n beitel, en met 'n bietjie geluk en genade 'n klomp rumoerige songs te skryf terwyl ek kyk hoe my bome wat ek laasjaar geplant het groei.
Mag julle wêreld vol donderweer bly!

     Amore Bekker (RSG-omroeper)

My nuwejaarsvoorneme is om in 2009 nog mooier musiek te speel. Verder wil ek my middagskofprogram, Tjailatyd, meer "groen" maak – én ek gaan ongelooflike stories versamel. Ek gaan beslis ook meer groente eet!
My wens vir die nuwejaar is dat Suid-Afrikaners sal besef dat vrees en woede teenoor misdaad nie die probleem sal oplos nie, maar eerder 'n praktiese oplossing – soos om vir iemand wat arm is te sorg en te help om 'n droom te kry.
As ek op die politieke terrein terugkyk na 2008, was daar een groot teleurstelling (Jacob Zuma) en een groot hoogtepunt (Cope).
In my persoonlike lewe het ek geleer dat stille tyd met jou lewensmaat baie belangrik is – en dít gaan ek in 2009 beslis meer toepas. Ek het verder ook agtergekom dat gulsigheid 'n teken is "van niks gewoond".
Ek het geen vrese vir die toekoms nie – ek vrees net vrees!

    Tiro (sanger)
 

My nuwejaarsboodskap vir my ondersteuners is: baie dankie aan 'n ieder en elk van julle vir jul bydrae tot die sukses van my loopbaan – vir elke CD wat gekoop is en elke woord van bemoediging en ondersteuning, sonder julle sou ek dit nie kon doen nie. Mag 2009 vir julle vol Jesusvrede en vreugde wees.
My grootste begeerte vir Suid-Afrika en sy mense is dat ons mekaar die hand sal gee, die verlede sal vergeet en sal uitreik na ander in nood. Ten spyte van alles, bly Suid-Afrika steeds 'n wonderlike land om in te bly.

2008 voel vir my soos een groot hoogtepunt: daar het besondere goed met my gebeur, soos die 6-weke toer in Japan, die talle TV-optredes, my optrede by die Angus Buchan-byeenkoms in Johannesburg asook al die tydskrifartikels. En dan natuurlik die vrystelling van my debuut-album, Speak to Me.

'n Laagte punt was, soos vir die hele bevolking, die ekonomiese insinking – skielik het dit my baie meer gekos om by my optredes uit te kom!
Mag die regering in 2009 God se grootste gebod van liefde vir Hom en vir ons naaste uitleef – dít is die antwoord op al ons probleme.

My nuwejaarsvoorneme is om meer mense te bereik en 'n verskil in hul lewens deur my musiek te maak, 'n voorbeeld en aanmoediging vir jonk en oud te wees, en altyd positief te bly.
2008 het my geleer om nooit moed op te gee nie, te bly droom en hard te werk – my leuse vir 2009 is "aanhouer wen"!
Om te vrees oor wat die nuwe jaar vir my inhou, gaan my niks in die sak bring nie – ek weet dat my lewe in die hand van my Skepper is en dit gee my alle rede om elke dag positief te wees.

     Tinus Esterhuizen (Martin Lane)  (Musikant en musieksaamsteller by RSG)

My nuwejaarsboodskap is eenvoudig: Mag ons nie weer dieselfde foute as in die verlede maak nie, en mag Afrikaans nie as gevolg daarvan ly nie. Ons moet opstaan vir ons regte en altyd onthou dat die Oppergesag koning kraai.

My wens is vir 'n nog groter en beter oplewing in Afrikaans, veral op musiekgebied. Vernuwing is die "in"-woord.
Ek hoop ook dat al die musiekklone hul gesteelde – of geleende – talente tog vir ewig sal gaan begrawe. Mag daar asseblief weer 'n Anton Goosen of 'n Koos Kombuis sy verskyning maak. Mag die Afrikaanse liriek seëvier.
Vir die regering wil ek sê: wees meer paraat as ooit tevore – daar is nuwe rolspelers wat maklik kan inzoom op die foute wat reeds gemaak is.

Laagtepunte verlede jaar vir my was die kragprobleme, die petrolprys en Mugabe wat net nie weet wanneer om die handdoek in te gooi nie.
Maar 2008 het my ook geleer om eerder te fokus op die huidige, en om nie die to
ekoms te probeer voorspel nie.
My grootste vrees vir die nuwe jaar is
dat dinge erger kan raak – soos die ekonomie.

     CJ de Swardt (vryskutjoernalis en musiekresensent vir Vrouekeur)
 

'n Nuwejaarsboodskap (soos die sogenaamde voornemens wat 'n mens immers selde hou – ek ook) is sinneloos, want ek meen geen mens het só 'n sukses van sy lewe gemaak dat hy vir ander 'n toekomsboodskap kan bied nie. Maar 'n mens mag seker maar wens – én dankbaar wees.
Dus: ek is verheug dat Cope gebeur het. En ek hoop dat die DA en die OD met dié nuutgestigte party se bedreiging sal kan cope.

Mense moet ophou om, onder die dekmantel van droggodsdiens, te skuil vir redes vir die land se skynversoening. As ons almal mekaar aanvaar en verdra, kán álles beter word! Maar dan moet ons eers onsself bemin: die lyf en die siel. En dan sal God ons ook liefhê. En dan kan ons mekaar met hartstog omvou.

2008 het my onder meer geleer dat jy in die vermaakbedryf slegs 'n kraan is – en die veinsdorstiges sal jou leegsuip, self nóg beroemder en ryker raak en nie 'n moer vir jou omgee nie. Die meeste sterre het nie maniere nie en ken nie die woord dankie nie!

Die toekoms hou altyd vrese in, en soos elke ander vryskutskrywer, is jy altyd bang dat jy eendag 'n e-pos (wel, mense verbreek huweliksaansoeke per sms!) kry wat jou meedeel jou woorde is nie meer nodig nie – daarom hou 'n mens maar altyd die tuinslang gereed by jou motor se uitlaatpyp . . .

My eie voornemens? Ek wil regtig net probeer om 'n beter mens te wees: vir my diere, my familie, my vriende, my kollegas en 'n gehoorsamer kind van God.  Ek wil probeer om 'n beter joernalis te wees en my wens is om te kan skryf oor wie en wat ek wil – en nie omdat ek dit, as 'n woordhoer, móét doen nie. Daarom móét my boek in 2009 gebeur.

Ek droom steeds oor iemand wat my in liefde - en seks - sal versmoor. Daarom gaan ek elke denkbare kompetisie in koerante en tydskrifte invul en die een prys na die ander wen. Ek weet ek is 'n wenner en ek weet Jesus sal my seën met dit wat ek verdien!


Ek gaan behoorlik lééf! Ons moet net besin. Daar is áltyd 'n vars begin!

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 




 

 
 



Lees ons ander
uitgawes
2008
Augustus
September
Oktober
November
Desember
2009
Januarie
Februarie