|
Daar staan 'n RSGroentjie-toekenning vir die beste nuweling op sy rak. Ook sy tweede CD. Hy is sanger, liedjieskrywer, musikant en komponis – maar ook suksesvolle sakeman. Op 25-jarige ouderdom wil dit gedoen wees. Hy is ook die eerste wat erken dat sukses bloedsweet en toewyding kos. En jy moenie 'n groot kop kry nie, lag MD Greyling.
Maar hy mag maar trots wees op dit wat hy bereik het, want dié jong man met die oop en vriendelike gesig het al heelwat suksesse op sy kerfstok. Toe MD skaars 16 jaar oud was, skryf hy die liedjie Alleen sonder jou wat Theuns Jordaan op sy Tjailatyd-album opgeneem het.
MD is ook een van die komponiste wat gesorg het vir die musiek wat in die TV-reeks Amalia gebruik is.
Dan word sy liedjies verder deur sangers soos Mathys Roets, Thys die Bosveldklong en Hugo gesing en sy naam verskyn gereeld op Afrikaanse kompilasie-CD's.
Sukses het dus redelik vroeg vir die Pretorianer gekom, wat ook 'n gastehuis in Centurion besit en saam met sy pa 'n eiendomsagentskap beheer. Hy is egter uiters beskeie en praat soos 'n ervare sakeman oor dié aspek.
En hy is deesdae groot in aanvraag vir verhoog-optredes.
"Baie mense dink sukses in die musiekbedryf word net bepaal deur wie die mooiste sing. Inderwaarheid moet baie dinge saamjel: jy moet die regte songs sing, jou image moet reg wees, jou live shows moet die mense lok, jou PR-mense moet hul storie ken, ensovoorts, ensovoorts."
Na die sukses van sy debuut-CD Droomkasteel, wat die RSGroentjie-toekenning by die GMT's (voorheen die Geraas Musiek Toekennings) gewen het, het MD Greyling verlede jaar sy tweede album, Binne my, op die rakke gebring. Hierop kry die liefhebber van ligte musiek lekker Afrikaritmes en selfs 'n tikkie country.
MD, wat sy musiek as volwasse kontemporêre of sagte Afrikaanse musiek beskryf, het vyf van die liedjies op die nuwe CD geskryf. Die ander is deur musiekmanne soos Koos Kombuis (Langstraat), Anton Myburgh (Duisend bottels, Hello hello, Een dag), Valiant Swart (Die skoene moet jy dra) en Lucas Maree (Suikerbos) geskryf. Sommige musieksnobs sal hieroor frons: Dis mos nie iets wat 'n wenner van 'n gesogte musiekprys veronderstel is om met sy opvolg-album te doen nie?
MD verduidelik: "Dis moeilik om met net oorspronklike musiek 'n lewe te maak, hoewel dit my missie in die lewe is. Met Droomkasteel het ek net my eie liedjies opgeneem, maar met hierdie CD het ek 'n spesifieke klank in gedagte gehad en ek het dus die liedjies gekies om daarby te pas. Ek het by Johan Rautenbach (die regisseur van Binne my) aangeklop om daardie klank waarna ek opsoek was vir my te realiseer."
Menige kunstenaar wat die leer na roem en sukses wil klim sal kan getuig dit kos jare se bloedsweet en toewyding – én optredes in kroeë en klein teaters as jy bo wil uitkom en eendag jou eie musiek wil maak. Soms moet jy kompromieë aangaan. So sal Dozi, Theuns Jordaan en Kurt Darren vir jou kan sê dat in die beginjare van jou loopbaan die gehore by bogenoemde plekke nie altyd na die kunstenaar se eie musiek wil luister nie, maar na dit wat hulle reeds ken en geniet.
"Ek kyk maar na die gehoor en ek probeer opsom wat hulle graag wil hoor. Ek sing graag Neil Diamond, Cat Stevens en Creedence Clearwater Revival by my vertonings."
Goeie keuses sou ek sê, want wie hou nie van hierdie golden oldies nie? Dis ook waarom die (kom ons sê maar gewilde) treffer Suikerbos van Lucas Maree op Binne my te hoor is.
"Die gehoor hou altyd baie daarvanas ek dit op my gigs speel. Dis een van my gewildste liedjies. Party mense in die bedryf het my gewaarsku dat dit al te veel gesing is, maar so what? Dis geweldig lekker om dit te sing, veral met my band."
MD vertel hy het al heelwat lesse geleer vandat hy die bedryf in 2005 betree het: onder meer dat sekere dinge nie oornag gebeur nie. Van sy duurste lesse was dat musiek ook 'n finansiële kant het. So het hy in die begin van sy loopbaan 'n reuse toer met 'n volledige band na die Kaap onderneem, maar na die tyd agtergekom dit was teen 'n stewige verlies, sê hy en lag.
"Ek het ook intussen my verhoog-skills opgeknap en ek weet nou hoe om beter met die gehoor te kommunikeer. Veral in die teater waar die ruimte meer intiem is en die mense se aandag net op jou gefokus is, in teenstelling met 'n pub waar die mense maar hul eie ding doen terwyl jy speel."
Oor die druk om met elke nuwe album met iets beters vorendag te kom is hy oopkop. "Ja, die druk is beslis daar. Jy moet kyk wat die mark doen en wat verkoop, maar ek wil nie graag my styl aanpas om die mark en die massas te please nie."
Soos enige kunstenaar wat sy sout werd is, rus MD nie op sy louere nie. Daar is klaar 'n paar liedjies geskryf vir sy derde album. Hy vertel hy sal hopelik aan die begin van 2010 begin opneem en dié keer sal die liedjies meer up tempo wees. "Dalk gaan die musiek 'n popinslag hê, maar ek is nog nie seker nie. Ek sal eers moet dink."
Hy beplan ook 'n teaterproduksie saam met die liedjieskrywer, kitaarspeler en komediant Wouter van de Venter van Ses Snare-faam. Die vertoning sal op huidige Suid-Afrikaanse liedjieskrywers fokus en hy hoop dit sal by die meeste kunstefeeste te sien wees.
|