Sy miljoene lê nie in geld
Christo du Plessis

deur Christa Jonker-Jordaan




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
As Lucas Maree moes kies tussen 'n miljoen rand of sy gesin, sou hy laasgenoemde gekies het. Hy is iemand wat wysheid, vrede en vriende najaag, tyd het vir die mense op sy pad en nog baie vir die lewe kan bied.

Op 'n koel Augustus-oggend ontmoet ek vir Lucas Maree vir ontbyt by Oliewenhuis in Bloemfontein – 'n plek waar hy graag kuier en selfs somtyds sit en skryf.
Dié sanger en liedjieskrywer woon saam met sy eie droomvrou, Ilse, en hul drie dogters – Linda, Monica en Carla – die afgelope 15 jaar in Bloemfontein. Sy enigste suster bly ook in die stad.
Lucas MareeHy het wel in Pretoria grootgeword waar hy ook vir Ilse ontmoet het, maar hy sê hy is jammer dat hy nie vroeër in sy lewe Bloemfontein toe gekom het nie. Want Bloemfontein het intussen sý plek geword. Na 'n paar uur saam met Lucas weet ek hy is die soort ou wat, as hy sou moes kies tussen 'n miljoen rand en sy droomvrou en gesin, hy laasgenoemde sou gekies het. Lucas is iemand wat wysheid, vrede en vriende najaag, tyd het vir die mense op sy pad en nog baie vir die lewe kan bied. Die waarde van so 'n gesindheid is soveel meer werd as 'n miljoen.
Oor 'n paar koppies koffie het ek hom beter leer ken:

Wanneer het jy besef jy wil sing?
My ma het gesê ek kon al sing voor ek kon praat. Ek sing vandat ek kan onthou.

Hoeveel instrumente kan jy bespeel?
'n Bietjie van alles: kitaar, klavier, orrel, mondfluitjie, fluit en saksofoon.

Hou oud was jy met jou eerste optrede?
Ek het op drie jaar die eerste keer vir geld opgetree. My oumagrootjie was bedlêend, ons het haar "Siek-ouma" genoem. As sy gaste gekry het, is ek geroep om te kom sing. Dan moes ek Hasie en Stoppie (Al Debbo-liedjies) vir hulle sing. Daarna het ouma 'n blik omgestuur waarin die gaste 'n sjieling moes gooi. Die blik is later posspaarbank toe en het uiteindelik vir my eerste kitaar betaal.

Jou nuutste CD is Lankverwag. Vanwaar die naam?
Om verskeie redes het daar 'n taamlike lang tyd verloop tussen die nuwe en vorige CD. Meeste was persoonlik: soos my pa se siekte, asook my eie.

Hoe lyk die liedjies op die nuwe CD?
So drie liedjies het ek self geskryf, maar die ander is van my vriende wie se liedjies ek graag sing. Dit was terugbetaaltyd. Daar is liedjies van Coenie de Villiers, Jannie du Toit, Jan Pohl, Koos du Plessis, Koos Kombuis, Nati Botes en Johan van der Walt op die CD.

Waar is dit te kry?
Dit is by alle musiekwinkels te kry, maar as iemand sukkel om dit te kry, kan dit direk by my op Facebook bestel word.

Waaraan werk jy nou ?
Ek skryf liedjies vir ander kunstenaars en werk aan kinderstories om op 'n CD te sit.

Wie se liedjies sing jy graag?
Die maklikste om te sing, is my eie. Ek sing maklik oor 'n belewenis waaroor ek self geskryf het.

Watter liedjie wat jy al gesing het, is jou persoonlike gunsteling?
Liedjies is soos kinders, jy het nie gunstelinge nie. Almal is eintlik gunstelinge.

Watter liedjie is die mees suksesvolle?
Definitief Droomvrou. Ek het nog nooit 'n konsert klaargemaak sonder dat ek eers Droomvrou moes sing nie.

Wat dink jy van die nuwe geslag Afrikaanse sangers?
Dit is vir my lekker om te sien dat die jeug in Afrikaans rebelleer. In my tyd moes ons dit in Engels doen. Dit was daardie jare net nie cool om in Afrikaans te sing nie. Die belangrikste is, hulle sing Afrikaans.

Waarna luister jy as jy sommer net ontspan?
Ek het 'n groot CD-versameling. Ek luister na wat ek daardie oomblik voor lus is. Boeremusiek, Rock, Klassieke musiek, ensovoorts. Laasgenoemde kalmeer my.

Het jy 'n gunsteling sanger?
Ek het baie! My eerste gewaarwording van sangers was Cliff Richard. Daardie dae was jy of 'n Elvis-aanhanger of 'n Cliff Richard-aanhanger. My pa het na Cliff geluister, maar my ma was anders, sy het van Jim Reeves gehou.

Wat dink jy van die Idols-kompetisies?
Ek kan my nie sterk genoeg teen dit uitspreek nie. Ek voel die borge misbruik die jongmense vir eie gewin. Hulle skep 'n vals hoop dat die kind 'n ster sal word. Sterre bestaan nie. Dit is 'n groot leuen! Na die kompetisie help hulle die jong mense glad nie verder met hul loopbane nie. Hulle kon dieselfde geld gebruik het om eerder 'n paar se loopbane te bevorder. Die program breek ook die deelnemers se selfbeeld af deur negatiewe kommentaar wat sommige kykers blykbaar amusant vind.

Wat doen jy met jou vryetyd?
Ek lees graag, speel met rekenaars en my passie is geskiedenis.

Hoe lyk 'n volmaakte dag in Lucas se oë?
'n Dag wat ek iets positief verrig het of ten minste probeer verrig het. Vroeër in my lewe sou ek gesê het 'n dag waarop ek baie geld gemaak het.

Saam met wie sing jy graag?
Saam met my vriende. Mathys Roets, Coenie de Villiers, Jannie du Toit . . .

Wat sou jy sê is jou beste en slegste karaktertrek?
Eintlik dink ek dit is dieselfde eienskap: Ek wil graag 'n ding op my eie manier doen. As ek skryf is dit goed. Sosiaal lei dit tot stramheid.

Is daar iets wat jou grensloos irriteer?
Ja: vooroordeel van mense en misbruik van ander vir eie gewin.

Wat is jou lewensmotto?
Wees net jouself, wat ander dink is nie belangrik nie. Voel goed oor jouself en betree elke dag so positief as moontlik.

Lucas Maree en sy vrou Lucas Maree
Lucas Maree en sy eie droomvrou, Ilse. Lucas sing die maklikste oor belewenisse waarvan hy self geskryf.
Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend