|
Hulle is terug! Die komediespan wat in 2008
duisende teatergangers laat krul het van die lag
met die weghol klugtreffer, Knypie oppie kant,
is nou gereed met die opvolg, Knypie 2 - 'n
Dubbeldosis, om ook 2009 op 'n hoogtepunt te
laat afskop. Dié produksie open op 7 Februarie
in die Staatsteater in Pretoria.
Met dieselfde bestanddele in 'n nuwe resep - die
gedugte komediepaar Tobie Cronjé en Hannes
Muller, die meester-komedieregisseur en –vertaler
Pierre van Pletzen, die vervaardigers van
kwaliteit-vermaak Packed House Productions en
nóg een van Ray Cooney se skreeusnaakse klugte -
kan jy jou regmaak vir wéér lag en méér lag!
In Knypie 2 - 'n Dubbeldosis, het De Waal
Combrink (Hannes Muller) weer stoute planne –
dié keer met sy seksie sekretaresse in die
hotelkamer reg langs hom. Alles verloop goed –
tot hy desperaat vir die onbeholpe Daantjie
Rossouw (Tobie Cronje) bel om te kom help met 'n
groot krisis of tien.
Wat het verkeerd geloop? Die feit dat
mevrou-dominee Hannah Papenfus weer op dieselfde
vloer bly, of dat die slinkse kelner snuf in die
neus kry?
Miskien dat die skelmpie se ex-boyfriend
opdaag – met moord en martel in sy hart? Of dat
De Waal se vrou skielik haar wulpse opwagting
maak, en dat die histeriese Daantjie haar en 'n
vryerige mevrou dominee "gelukkig" moet hou?
Dit alles ja – maar die grootste probleem is die
lyk wat De Waal in sy kamer ontdek!
Knypie 2 – 'n Dubbeldosis,
met die oorspronklike titel Out of Order
uit die pen van die briljante Ray Cooney, het
die Olivier Award for Comedy of the Year
in Londen gewen. Dit is die opvolg van Two
into one, wat in 2008 in Afrikaans opgevoer
is as Knypie oppie kant en wat as een van
sy snaaksste en slimste komedies beskou word.
Cooney word algemeen beskou as een van die beste
moderne Britse klugskrywers. Van sy ander klugte
wat ook in Afrikaans opgevoer is, is My vrou
se Man se Vrou, My Boetie se Sussie se Ou en
Kyk hoe hol hulle.
Die vertaling, verwerking en regie van Knypie
2 – 'n Dubbeldosis word weer gedoen deur
Pierre van Pletzen. Hoewel hy deesdae veral
bekend is as Oubaas in die TV-sepie 7de Laan,
is Pierre by uitstek een van die meesters van
die verhoog-komedie.
Die komedie-paar Tobie Cronje en Hannes Muller
staan gereed om die gehore weer te laat skater
met die nuwe manewales van Daantjie Rossouw en
De Waal Combrink. Hulle kan met reg die konings
van Afrikaanse komedie genoem word. Hannes
Muller trek steeds vol sale met sy
eenmanvertoning Groet die Grotman en
Tobie Cronje, wat onder andere ook in My vrou
se Man se Vrou, My Boetie se Sussie se Ou
gespeel het en gereeld in Janice Honeyman se
pantomimes gesien word, het geen bekendstelling
nodig nie.
Knypie 2 – 'n Dubbeldosis
word in Suid-Afrika deur Packed House
Productions op die planke gebring. Dié
maatskappy het homself al bewys as vervaardiger
van kwaliteit Afrikaanse vermaak, met die
onlangse musiekspel Ons vir jou as 'n
voorbeeld vars in die geheue.
"Soos Knypie oppie kant en Ons vir jou,
gaan Knypie 2 – 'n Dubbeldosis weereens
'n produksie van hoogstaande gehalte wees,"
belowe die vervaardiger, Deon Opperman.
Paul Berning, die Hoof Bedryfsamptenaar van
Packed House Productions, verduidelik: "Die
eerste Knypie Oppie Kant het die klug
teruggebring na Pretoria. Dit was 'n reuse
sukses en het bewys dat mense nodig het om te
lag. Packed House Productions het toe besluit om
te verseker dat die klug weer 'n jaarlikse
instelling word – daarom nou Knypie 2 - 'n
Dubbeldosis."
Die produksie sal vanaf 7 Februarie 2009 in die
Dramateater van die Staatsteater in Pretoria te
sien wees. Besprekings by Computicket. |