April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

  Alle paaie lei na Oudtshoorn

jouapplous
hoofinhoud
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel



Die 15de jaarlikse KKNK-fees bied dié maand weereens iets vir elke kunste-connoisseur

 

kitsgids:
Ou gunstelinge
Nuwelinge
Klassieke Musiek
Beeldende Kuns
Kontemporêre musiekproduksies

Volgens die uitvoerende hoof van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn (KKNK), Brett Pyper, lê die klem op gehalte en inklusiwiteit in die genres waarvoor dié fees die bekendste is, wat 'n meer gefokusde en kenmerkende ervaring vir feesgangers sal bied.
Die 15de KKNK-fees vind dié maand vanaf 4 tot 11 April op Oudtshoorn plaas.

Soos van die eerste fees af, sentreer die 2009-program rondom teater en musiek, en op hul interaksie, asook 'n sterk aanbod van visuele kunste. Die buitelug karakter van die fees as 'n konteks vir die kunste word met verskeie inisiatiewe uitgebou - die fees posisioneer hom as 'n toonaangewende platform vir internasionale samewerking, en hy bied sy sterkste program ooit vir 'n jong volwasse gehoor aan.

Pyper wys daarop dat die konteks waarin die Absa KKNK sy program saamstel, oor die afgelope 15 jaar heelwat verander het. Waar Oudtshoorn vir etlike jare die enkele geleentheid gebied het om teater- en musiekproduksies van groter omvang in Afrikaans te kan bywoon, het die fees se sukses tot 'n nasionale kringloop van Afrikaanssprekende feeste, skouspele, en so meer gelei, wat vandag 'n verskeidenheid feesbestemmings aan feesgangers bied, dikwels nader aan die huis. Die Absa KKNK bly egter daartoe verbind om oorspronklike werk van omvang en gehalte voor gehore te help bring wat die ander feeste deur die res van die jaar bly voed, en pak dit toenemend in samewerking met mede-feeste en teaters aan.

Ou gunstelinge

'n Keur uit die room van die produksies wat reeds elders in Suid-Afrika en internasionaal te siene was, en wat dié maand 'n draai by die KKNK gaan maak, sluit in:
Blou uur, Reza de Wet se nuutste drama wat deur Kobus Burger as die perfekte Afrikaanse toneelstuk beskryf is; Schalk Schoombie se opspraakwekkende stuk Samoerai wat die grense tussen dramatiese fiksie, die werklikheid en die nuus fyn losmaak; David Kramer se Ballade van Koos Sas; Rachelle Greeff se Die Naaimasjien, wenner van die Nagtegaal-teksprys, met Sandra Prinsloo in die hoofrol; Deon Opperman se klassieke stuk Môre is 'n lang dag, wat 20 jaar na sy opening deur 'n geselskap wat Robbie Wessels en Sean Else insluit onder die regie van Albert Maritz herbesoek word; Every year, every day I am walking, die Magnet Theatre se ontroerende stuk fisieke teater wat in agt Afrika-lande en in Londen met lof ontvang is; Jericho!, 'n uitsonderlike musikale vertelling van die Bybelse verhaal met Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, André Howard en van ons voorste musikante saam met die Libertas-koor; en die bekroonde Nederlandse dansgeselskap Introdans, wat na meer as 'n dekade na Oudtshoorn terugkeer.

Bo en behalwe 'n aanbod wat connoisseurs tevrede sal stel, dien die Absa KKNK nog altyd as 'n samekoms vir die land se gewildste kunstenaars in hul onderskeie genres: onder solo-opvoerings en skerpskerts is dit Marion Holm, oftewel Sussie, in haar nuwe show Cheers!, Shaleen Surtie-Richards se geliefde Shirley Valentyn, wat 'n jaar na haar opening by die Absa KKNK en haar ontvangs van die Herrie gewildheidsprys terugkeer, Karen Wessels in Groet die Grotvrou, 'n vertaling van die internasionale treffer deur Koos Kombuis, Leon Kruger se Suurgat 2, en selfs 'n spesiale feesbesoek deur Leon Schuster.

Nuwelinge

Beslis aan die snykant van die uitvoerende kunste in Afrikaans is: Sakrament, 'n vindingryke en uitdagende nuwe teks deur Willem Anker met o.a. Neels Coetzee, Stian Bam, Laudo Liebenberg en Sophia Wessels onder regie van Marthinus Basson; en 2-21, 'n "musikale garage-skouspel wat worstel tussen Hamlet en MTV" waarin Francois van Coke die hoofrol in 'n toneelstuk speel, Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar die teks skryf, PH (Peach) van Pletzen van Yesterday's Pupil musiek verskaf, en in die woorde van regisseur Jaco Bouwer "'n techno-abattoir vir ons heilige koeie bied".

San sal die MK-Kaktus rock-sessies weer vanjaar tot laataand die grense van Suid-Afrikaanse musiek bly verskuif met bands soos Foto Na Dans, Straatligkinders, van Coke Kartel, AKing en vele ander.

Ander verhoogproduksies wat by die fees vir die eerste keer gesien word is: Ararat, 'n omgewingspesifieke toneelstuk wat deur 'n veelbesproke regisseur-en komponis-span van Nederland met 'n groep merkwaardige Suid-Afrikaanse akteurs geskep word; Malika Ndlovu se veel verwagte Sister Breyani, 'n skreeusnaakse en hartverskeurende intieme Suid-Afrikaanse verhoogverhaal; Hart van Sand, 'n keur uit Federico Lorca se gedigte wat deur Robert Jeffrey getoonset is, met sang en Flamenco-musiek en dans deur die La Rosa Spaanse Dansteater; Bloedbroers, 'n vertaling van Athol Fugard se The Blood Knot, geregisseer deur Zane Meas met Hennie Jacobs en Christo Davids wat in 7de Laan te siene is; Die Groen Ghoen, 'n inspirerende, omgewingsbewusmakende stuk fisieke teater met Gys de Villiers en Oscar Petersen; en Leon Kruger se verhoogverwerking van sy gewilde radiovervolgverhaal oor Stanley, Debora en Kniediep, Oupa en ouma sit op die stoep.

Vanjaar se program getuig ook van 'n opwindende samewerkingsooreenkoms met Europa se vooraanstaande fees van omgewingspesifieke kuns, die Oerol-fees op die eiland van Terschelling aan die Noord-See.

Pyper verduidelik: "Die pragtige Klein Karoo was nog altyd die agterdoek vir die fees, maar met my aankoms op Oudtshoorn was ek opnuut daarvan oortuig dat ons die uitsonderlike natuurlike en kulturele eienskappe van die Karoo as 'n letterlike verhoog en doek kan gebruik. My besoek aan Oerol verlede jaar het tot 'n uitgebreide gesprek gelei met praktisyns in die buiteland en Suid-Afrika wat in omgewingspesifieke installasies en opvoerings spesialiseer, en ons kondig met trots ons eie ekwivalent vir Terschelling Oerol, Oudtshoorn Oraloor, vanjaar aan. Hiermee komplimenteer ons die energie en die bekende vibe van die feeskern met venues wat stilte en uitsonderlike natuurskoon bied, alles as 'n unieke, Klein Karoo konteks vir 'n kuns-ervaring.”

Die Oudtshoorn Oraloor aspek van die program sluit in: Oudtshoorn Trace, 'n grootskaalse omgewingsinstallasie op 'n heuwel aan die rand van die dorp wat deur Marcus Neustetter en Bronwyn Lace opgerig sal word; Ararat, die koproduksie met die Toneelgroep De Appel, wat in 'n volstruiskamp langs die uitsonderlike gallery Moooi net buite Oudtshoorn teen skemertyd sal speel en daarna by vanjaar se Oerol-fees in Nederland; en twee buitelug-teaterstukke wat op Oerol bekendheid verwerf het: Onder Constructie, 'n skertsende en komediese aanbieding van die geselskap De Jongens, waarin 4 akteurs in 11 karakters verander en met 'n aansienlike hoeveelheid kombuistoestelle te werk gaan; en Salto Vitale, 'n skouspel wat met water en vuur tot 14 meter hoog in die lug afspeel en gehore na hul asem sal laat snak.

Klassieke Musiek

Die substansiële klassieke-musiekprogram, wat vanjaar 'n Mahler simfonie, uitsonderlike koormusiek, en kamermusiek insluit, sluit by die Outshoorn Oraloor-konsep aan, aangesien 'n aantal venues buite die dorp spesiaal vir konserte ingerig word. Sopraan Zanne Stapelberg, kitaarspeler James Grace en altviolis Minette du Toit-Pierce bied hul nuwe program Musiek uit die Suide (Canciones del Sur) in die De Hoop kerk aan, 'n pragtige sandsteengebou minder as tien minute se ry buite die dorp wat vanjaar sy eeufees vier, met 'n Klein Karoo-tuin aangeplant word, en 'n opheffingsprojek vir handwerkers bedryf. Die internasionaal bekroonde Pro Cantu Jeugkoor sing ook hier die Suid-Afrikaanse première van die Estoniese komponis Arvo Pärt se Passio (Johannes Passie) tydens die Paasnaweek, terwyl die besielende Libertas-koor vroeër die week ook daar optree.

'n Verdere juweel uit die klassieke musiek-aanbod wat genoem moet word is 'n konsert ter ere van Suid-Afrikaanse komponis Kevin Volans, wat ondanks sy vestiging in Europa jaarliks na Kruisrivier kom om te komponeer. Volans is internasionaal die bekendste Suid-Afrikaanse lewende komponis van sy generasie, en om sy 60ste verjaarsdag te vier, bied die Absa KKNK 'n reeks spesiale verjaarsdagkonserte op die plaas teen die hange van die Swartberge aan waar van die musiek geskryf is.

Beeldende Kuns

Die De Hoop kerk is op die pad na Kruisrivier, waar Hanneke Benade se kunsuitstalling verlede jaar uitverkoop en 'n Kanna-toekenning verwerf het, en waar sy weer vanjaar kurator is van 'n uitstalling met die landskapwerk van Walter Meyer en Albert Redelinghuys.

Nog 'n kunstenaar wat in die Klein Karoo skeppende werk doen en internasionale bekendheid verwerf het is ons feeskunstenaar vir visuele kuns, Hylton Nel, wie se guitige keramiekstukke in die buiteland gesogte versamelstukke is en vanjaar vir die eerste keer by die Absa KKNK te siene is. Deur die oog van ons nuwe kurator, Johan Myburg, ontdek feesgangers vanjaar 'n ryk verskeidenheid kunsvorme wat die geskakeerdheid van die Suid-Afrikaanse visuele kunste weerspieël.

Kontemporêre musiekproduksies

Onder kontemporêre musiekproduksies, is daar tussen die talle sterre Amanda Strydom (haar 15de KKNK), wat vanjaar saam met Lize Beekman optree, Anna Davel, André Schwartz, Chris Chameleon, Cutt Glas (ook hulle 15de KKNK), ddisselblom, die Gespanne Passasiers, Jaco Blomerus, Jak de Priester, Koos Kombuis, Laurinda Hofmeyr, Lucas Maree se welkom toetrede tot die verhoog, Navi Redd, Nianell, Ollie Viljoen, Schalk Joubert, Ses Snare, die briljante malkop span van Stok, Stef Bos, Steve Hofmeyr, Wouter Kellerman, en Zamar.

En dan het ons nog nie eers van die Huisgenoot Musiekplaas melding gemaak nie, wat vanjaar weer beide 'n dag- en 'n aandprogram op twee verhoë aanbied, Die Burger se Tongelos-tent, die SAB Hap 'n Tap Feeskasteel, die Klip-inni-Bos, die RSG, en 'n reeks ander buiteverhoë by die fees, waar ons vanjaar met ons borge en medewerkers gewerk het om 'n beter gehalte en wyer verskeidenheid van musiek as ooit tevore te bied. In besonder kan feesgangers uitsien na 'n aantreklike musikale gesprek tussen die talle tradisionele musiekstyle van die Kaapse platteland op die !Garob SABC2 verhoog, wat vanjaar by die amfiteater in die feeskern aangebied word. Hier sal verbygangers by tye van die dag boeremusiek, vastrap, rielmusiek, langarm, jazz en hip-hop teëkom, alles deel van die hedendaagse verkenning van die gedeelde oorspronge van Afrikaanse gemeenskapsmusiek.
 

Die Absa KKNK vind vanaf 4 tot 11 April 2009 in Oudtshoorn en omgewing plaas.
Besprekings by Computicket.
Meer inligting asook die volledige feesprogram by www.absakknk.co.za.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep