Dié Jan is geen alleman
Beatri Kotzé

deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Hanno van Heerden gesels openlik oor sy stryd teen kanker.

Hanno van Heerden"'n Mens is altyd sterker as wat jy dink."
Só sê Hanno van Heerden (29), voorsanger van die groep 'n man soos jan wat onlangs met 'n Vonk-musiektoekenning benoem is vir beste nuwelinge. Hanno ken van swaarkry: Hy is in Mei vanjaar vir die tweede keer met kanker gediagnoseer, maar van moed opgee en gaan lê is daar min kans.
Hanno ontvang tans chemoterapie om die testikulêre kanker, wat nou tot in sy buik versprei het, hok te slaan. Maar dié jongman bly positief – en dit is baie duidelik uit die musiek wat hy maak. Op sy album Die ritme van jou naam is daar heelwat humor, veral op die snit, Die Shakespeare song.
Vir Hanno is dit 'n geval van "humor is die beste medisyne," vertel hy. "Ek is absoluut mal daaroor om mense te laat lag; ek wil in die toekoms baie meer in dáárdie rigting skryf."
Maar hy beplan ook om sy ervaringe as kankerpasiënt vas te lê in van sy volgende musikale projekte. "Ek is baie seker hiérdie ondervinding gaan deurslaan in die liedjies op die volgende album – dis hoe ek ontslae raak van dit wat binne my is. Maar met my skryf vier ek ook dinge waaroor ek kan juig."

Dit was in 2006 dat Hanno sy B.A. Drama en Toneel-graad by Kovsies ontvang het. Maar dit was ook een van die ergste jare in sy lewe: dit was op sy verjaarsdag dat kanker by hom gediagnoseer is. En later daardie jaar sterf ook sy ma aan kanker. "Dit is sonder twyfel die grootste stuk hartseer wat ek nóg op een slag moes verwerk."
Danksy die ondersteuning van sy familie, en sy pa en broer – wat óók al die kankerstryd moes baklei – kon hy opstaan, die kanker beveg en sy eerste album aanpak.
"Party dae is ek ongelooflik bly dat 'n mens nie jou familie kan kies nie, want ek sou nie 'n beter keuse kon maak nie."
Iemand wat hy egter wel kon kies, is sy meisie, Karlien. Hanno vertel dat sy hom ten volle ondersteun en hom deur baie van die slegte tye dra.
"Dis nie aldag maklik nie, maar aanhouer wen!" verklaar Hanno soos 'n oorwinnaar. "Met positiwiteit, 'n grappie hier en daar en 'n bietjie geluk kan 'n mens alles oorwin en alles regkry."

Die musiek agter Jan Alleman

Hanno se groep, 'n man soos jan, het beslis nie 'n baie algemene naam nie.
"Ek en my goeie vriend Wilhelm van der Walt het in 2005 aan die ATKV Crescendo-kompetisie deelgeneem, maar kon nie besluit wat om onsself te noem nie," verduidelik Hanno. "Nadat ons ons bes probeer het om 'n deftige naam te kry, het ek vir Wilhelm gesê ons moet 'n meer alledaagse naam kies omrede ons maar doodgewone outjies is – soos Jan Publiek en Jan Alleman – maar met 'n passie vir musiek."
Wel, 'n man soos jan sou dit dus wees – gewóne ouens wat lief is vir musiekmaak!
Die tweemanskap se paaie het in 2006 geskei toe Hanno vanaf Bloemfontein na Pretoria getrek het om hom op sy sangloopbaan toe te spits, terwyl Wilhelm agtergebly het om sy studies voort te sit. Een aand het Hanno 'n vertoning met Ivan Zimmerman (van Egoli- en 7de Laan-faam) en JP van Schalkwyk op tromme bygewoon. Só het sy paaie met die toekomstige tromspeler van sy eie band gekruis. JP het hom aan Altus, die klavierspeler van 'n man soos jan voorgestel en Hanno het Hilton Oosthuizen deur dié se broer ontmoet. Hoewel Hilton ewe gemaklik agter die klavier en met die kitaar is, speel hy die kontrabas vir die groep.
Die groep se benoeming – vir beste nuwelinge by die 2009-Vonk-musiektoekennings – was vir hulle 'n groot verrassing. "Maar ook 'n ongelooflike eer," vertel Hanno. "Dit laat 'n ou tog trots voel om te weet jou nederige poging word ook raakgesien en beloon!"

Dié eer sal beslis opgevolg word, want Hanno spandeer dié vakansie om liedjies te skryf vir hul tweede album. Kitaar in die hand op sy familieplaas saam met sy vriende en familie.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend