|
jouapplous
Pasop – sy is oppad! Die legendariese grotvrou is nie op haar bek geval nie – en nou kry Gautengers húl beurt.
Die Grotvrou gaan Gautengers dié maand 'n ding of twee oor mans – én vrouwees – leer. Na 'n landswye toer is Groet die Grotvrou nou in die Mardi Gras-teater, by Carnival City aan die Oos-Rand, te sien.
Na sewe jaar van internasionale sukses het Defending the Cavewoman dié jaar haar buiging op die Suid-Afrikaanse verhoog as Groet die Grotvrou gemaak. Die kreatiewe span agter die Grotvrou sluit in Koos Kombuis, wat die stuk in Afrikaans vertaal en verwerk het, met Vanessa Frost in die regisseurstoel en Karen Wessels op jag as die Grotvrou. Groet die Grotvrou is die prettige antwoord op Rob Becker se Broadway-treffer Defending the Caveman, wat ook in Afrikaans deur Koos Kombuis vertaal en verwerk is as Groet die Grotman, met Hannes Muller in die titelrol. Defending the Cavewoman het in 2001 in Johannesburg se Liberty Theatre on the Square geopen en is sedertdien 'n wegholsukses. Die produksie het voor vol sale in Europa, veral in lande soos Engeland en Duitsland, gespeel. Frans Swart, besturende
direkteur van Lefra Produksies, vervaardigers van Groet die Grotvrou
en die baie suksesvolle Groet die Grotman, sê dat hy baie
opgewonde is oor die kreatiewe span agter Groet die Grotvrou. Defending the
Cavewoman is
geskryf deur die bekroonde Vita-genomineerde dramaturg Emma Peirson.
Haar skreeusnaakse teks dwaal diep in die grotte van die vroulike psige
rond en keer die stereotipiese persepsies wat die manlike lede van hul
vroulike eweknieë koester, omver. Dit is geensins 'n vingerwysery nie;
eerder 'n komiese kykie na die giere en grille van die mensdom – beide
mans en vroue. Soos met die suksesvolle, Groet die Grotman, het Koos Kombuis Defending the Cavewoman in Afrikaans vertaal en verwerk. "Dit was groot pret, en terselfdertyd ook goeie terapie! Ek het soos met Grotman die stuk "vir-Afrikaans" en "ver-Suid-Afrikaans". Emma se werk is meesterlik saamgestel en sy draai die bekende en veilige onderstebo! Die grotvrou wat sy geskep het is 'n groter-as-groot-vrou waarmee daar goed rekening gehou moet word!" Regisseur Vanessa Frost is 'n Honneurs-graduent van AFDA (Die Suid-Afrikaanse Film-, Televisie- en Dramatiese Kunsteskool) in drama, produksie en regie. Sy was die oorpronklike cavewoman in Suid-Afrika en het ook hulpregie verleen aan die Duitse produksie. Sy sê: "Dit is wonderlik om lewe te gee aan die eienaardighede en gedrag van mans op die verhoog. Ons word daagliks deur ons ingebore verskille gekonfronteer . . . en vir my is dit 'n bron van komedie . . . die stryd wat niemand ooit wen nie!" Die bekroonde aktrise Karen Wessels is die Grotvrou. Sy is veral bekend vir haar televisierolle as Hester in Willie Esterhuize se Hester en Ester Bester en Casper de Vries se trefferprogramme Haak en Steek (as Orpa) en die Casper Rasper Show. Behalwe vir haar televisiewerk, is sy ook bekend as een van die "vyf grotes" van die a-capella groep Cutt Glas sedert 2005. Teaterwerk lê haar ook na aan die hart en is sy tans te sien in P.G. du Plessis se Sophia Mentz Beredder Haar Boedel. Kassie: Groet die Grotvrou word vanaf 29 Oktober tot 6 November, en dan weer vanaf 26 tot 30 November, in die Mardi Gras-teater by Carnival City aan die Oos-Rand deur Lefra-produksies aangebied en opgevoer. Besprekings kan gedoen word by Computicket. Skakel 083 915 8000 of besoek www.computicket.com. Groepe van 10 mense of meer kry afslag deur Cecile Kleyn te skakel by 011 815 3000 of 073 300 5525. Vir meer inligting, besoek www.lefra.co.za.
|