|
Die Grotvrou gaan Gautengers dié maand 'n ding
of twee oor mans – én vrouwees – leer. Na 'n
landswye toer is Groet die Grotvrou nou
in die Mardi Gras-teater, by Carnival City aan
die Oos-Rand, te sien.
Na sewe jaar van internasionale sukses het
Defending the Cavewoman dié jaar haar
buiging op die Suid-Afrikaanse verhoog as
Groet die Grotvrou gemaak.
Die kreatiewe span agter die Grotvrou
sluit in Koos Kombuis, wat die stuk in Afrikaans
vertaal en verwerk het, met Vanessa Frost in die
regisseurstoel en Karen Wessels op jag as die
Grotvrou.
Groet die Grotvrou
is die prettige antwoord op Rob Becker se
Broadway-treffer Defending the Caveman,
wat ook in Afrikaans deur Koos Kombuis
vertaal en verwerk is as Groet die Grotman,
met Hannes Muller in die titelrol.
Defending the Cavewoman
het in 2001 in Johannesburg se Liberty Theatre
on the Square geopen en is sedertdien 'n
wegholsukses.
Die produksie het voor vol sale in Europa, veral
in lande soos Engeland en Duitsland, gespeel.
Frans Swart, besturende direkteur van Lefra
Produksies, vervaardigers van Groet die
Grotvrou en die baie suksesvolle Groet
die Grotman, sê dat hy baie opgewonde is oor
die kreatiewe span agter Groet die Grotvrou.
"Grotman is steeds so 'n totale wegholsukses dat
ons glo dat die Grotvrou beslis haar vrou, of is
dit nou MAN , gaan volstaan. Groet die
Grotvrou is 'n produksie in eie reg en
beskou die man uit 'n vroulike perspektief, maar
het beslis lekker lagwekkende oomblikke vir
vrouens én mans. Dit is beslis vir Lefra
Produksies 'n pluimpie dat ons ook die oorsese
regte van Defending the Cavewoman verkry
het om ook hierdie lekker stuk in Afrikaans na
die publiek van Suid-Afrika te bring."
Defending the Cavewoman
is geskryf deur die bekroonde Vita-genomineerde
dramaturg Emma Peirson. Haar skreeusnaakse teks
dwaal diep in die grotte van die vroulike psige
rond en keer die stereotipiese persepsies wat
die manlike lede van hul vroulike eweknieë
koester, omver. Dit is geensins 'n vingerwysery
nie; eerder 'n komiese kykie na die giere en
grille van die mensdom – beide mans en vroue.
Wie sal nou nie die swakhede van mans en vroue
herken nie? Van die tipiese bui-veranderinge van
vroue en hul nimmereindige soeke na die perfekte
lyf, tot die grotman se bier-swaaiende,
rugby-kykende afstandbeheer-oorloë nie?
Soos met die suksesvolle, Groet die Grotman,
het Koos Kombuis Defending the Cavewoman
in Afrikaans vertaal en verwerk. "Dit was groot
pret, en terselfdertyd ook goeie terapie! Ek het
soos met Grotman die stuk "vir-Afrikaans"
en "ver-Suid-Afrikaans". Emma se werk is
meesterlik saamgestel en sy draai die bekende en
veilige onderstebo! Die grotvrou wat sy geskep
het is 'n groter-as-groot-vrou waarmee daar goed
rekening gehou moet word!"
Regisseur Vanessa Frost is 'n Honneurs-graduent
van AFDA (Die Suid-Afrikaanse Film-, Televisie-
en Dramatiese Kunsteskool) in drama, produksie
en regie. Sy was die oorpronklike cavewoman
in Suid-Afrika en het ook hulpregie
verleen aan die Duitse produksie. Sy sê: "Dit is
wonderlik om lewe te gee aan die eienaardighede
en gedrag van mans op die verhoog. Ons word
daagliks deur ons ingebore verskille
gekonfronteer . . . en vir my is dit 'n bron van
komedie . . . die stryd wat niemand ooit wen
nie!"
Die bekroonde aktrise Karen Wessels is die
Grotvrou. Sy is veral bekend vir haar
televisierolle as Hester in Willie Esterhuize se
Hester en Ester Bester en Casper de Vries
se trefferprogramme Haak en Steek (as
Orpa) en die Casper Rasper Show. Behalwe
vir haar televisiewerk, is sy ook bekend as een
van die "vyf grotes" van die a-capella groep
Cutt Glas sedert 2005. Teaterwerk lê haar ook na
aan die hart en is sy tans te sien in P.G. du
Plessis se Sophia Mentz Beredder Haar Boedel.
|