Hartseer stories van honger en seer



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Swart-en-wit foto’s vertel die hartseer stories van honger en seer ingeweef in drie tydperke van wanhoop en wit armoede in die geskiedenis van die Afrikaner in Suid-Afrika.

Die koffietafel-fotoboek, Gebroke Land, is deur Solidariteit Helpende Hand saamgestel, gepubliseer en uitgegee.
Swart-en-wit foto’s vertel die hartseer stories van honger en seer ingeweef in drie tydperke van wanhoop en wit armoede in die geskiedenis van die Afrikaner in Suid-Afrika. Gebroke Land is 'n lywige versamelstuk met foto’s deur die fotojoernalis Paul Alberts.

Dit vertel ondermeer die storie van oom Frederik Jacobus van Zyl (88) – met sy trotse, regop skouers en hartseer oë – wat genoop is om twee tydperke van Afrikaner-armoede in een leeftyd te beleef. Eers as kind van die Depressiejare, en weer vandag. Só word hulde gebring aan die Afrikaner, wat ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog van 1902 en weer ná die droogte van 1933 daarin geslaag het om, ten spyte van onsensitiewe regerings, die vernietigende armoede-siklus te verbreek.

Die boek lê verder klem op die veranderende denkraamwerk waardeur die nuwe Afrikaner-armoedevraagstuk tans deur Solidariteit Helpende Hand aangepak word.
Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en redakteur van Gebroke Land, is lyding onlosmaaklik met die Suid-Afrikaanse geskiedenis verweef, maar volgens hom is gedeelde lyding 'n krag wat positief gebruik kan word om vir alle landsburgers 'n beter toekoms te skep.
Gebroke Land verbreek dan ook die polities nie-korrekte stilte rondom wit armoede in 1994 en daarna, deur treffende statistiek bekend te stel. 'n Skokkende 2 miljoen Afrikaners leef tans onder die broodlyn, met werkloosheid wat sedert 1994 met sowat 150% toegeneem het.

Die boek bestaan uit 20 uiteenlopende artikels deur vooraanstaande akademici soos prof. Erna Prinsloo van die Universiteit van Suid-Afrika en mnr. Christo van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, wat doelbewus die fokus op die Afrikaanse armoedevraagstuk plaas. Die artikels word in drie afdelings ingedeel, naamlik die ekonomiese en maatskaplike herlewing ná die Anglo-Boereoorlog, die Carnegie-ondersoek en die invloed van die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939, asook die nuwe Afrikaner-armoede van 1994 en daarna.
Volgens Langner sal die ondersoek van die blanke-armoedevraagstuk in die toekoms op armoede in totaliteit fokus, en nie die bruinmense in Suid-Afrika uitsluit nie.

Gebroke Land is meer as 'n geskiedenisboek; dit is 'n erfstuk.

  • Paul Alberts is sedert 1975 'n vryskutjoernalis wat hom hoofsaaklik op sosiaal-dokumentêre fotografie toespits. Alberts is die eerste fotograaf in die geskiedenis wat 'n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het. Hy het die erepenning in Maart 2002 ontvang. Tot op hede is agt fotografieboeke met sy werk gepubliseer. Alberts het ook die waardevolle foto’s van die destydse Carnegie-kommissie opgespoor wat die armblankevraagstuk van 1929-1932 ondersoek het. Die foto’s, wat waarskynlik andersins verlore sou gegaan het, is gedokumenteer en in Gebroke Land gepubliseer.
  • Dr. Danie Langner, redakteur van Gebroke Land, behaal in 1994 sy BA-teologiegraad en in 1997 die graad B.Th. Hy verwerf dan ook sy meestersgraad in ekklesiologie in 2000 en later sy doktorsgraad in 2004, waarna hy die bediening betree as NG predikant in Bloemfontein en Klerksdorp-Oos. Langner sluit in 2008 by Solidariteit Helpende Hand aan, waar hy sedertdien die pos van uitvoerende direkteur beklee.

Bestel Gebroke Land by Solidariteit Helpende Hand by 012 644 4390 of e-pos diens@helpendehand.co.za.

jougeskenke
2 Gelukkige lesers kan elkeen 'n kopie van die koffietafelboek, Gebroke Land, wen. SMS die woorde JW GEBROKE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 28 Februarie 2010.

Lees ook die kompetisie-reëls.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend