jouapplous

 

Die frats-vrou: seks- en studie-objek

 

Almal weet Khoena is die frats, maar niemand kan dit vir haar sê nie. Hoekom nie? Bang vir hulle eie gewelddadigheid? Chris Karsten se roman, Frats, neem dié en ander kwessies onder die loep.

 

Deur Karin Bain

 

Chris Karsten se roman, Frats, het in Augustus tydens die ATKV/Sanlam se Woordveertjietoekenning-kompetisie, die Prosaprys gewen.

 

Dit vertel die storie van 'n Khoi-vrou, Khoena, se strewe na vryheid. Nadat die stat waarin sy saam met haar familie gewoon het, afgebrand is, is sy as 'n jong kind weggeneem om op 'n plaas as slaaf diens te doen. Een van die eienaars van die plaas buit haar seksueel uit, waarna die ander eienaar haar oortuig om saam met hom na Engeland te gaan.

Hier begin sy om geld te verdien in vertonings: Eers as vertoonstuk vir mans, later ook as prostituut en dan die verskriklike: as studie-objek in Parys. Almal weet sy is die frats, maar niemand kan dit vir haar sê nie. Hoekom nie? Bang vir hulle eie gewelddadigheid?

Sy ontmoet vir Dolly, 'n vrou wat ook as kind seksueel misbruik is. Dolly en haar vriend, Simon, besluit om Khoena uit dié bose kringloop te red.

Intussen droom Khoena deurlopend daarvan om vryheid vir haar en haar broer te koop.

 

Frats is 'n roman waarvan die fiktiewe hoofkarakter, Khoena, se ervarings losweg op die lewe van die geskiedkundige Sarah Baartman gegrond is. Sy is die Khoi--vrou wat tydens die neëntiende eeu na Europa geneem is om aan die publiek as "frats" ten toon gestel, en deur wetenskaplikes bestudeer te word. Maar die roman delf ook dieper: die psige van die onderwêreld in Londen rondom die 1800's, asook die tradisies en mites van die Khoi, word kunstig by die storie ingeweef.

Nadat jy hierdie boek gelees het besef jy opnuut hoe belangrik 'n morele kode, 'n handves van menseregte of nog beter die uitleef van jou liefde tot jou naaste is.

 

Frats is verlede jaar deur Human & Rousseau uitgegee (ISBN: 9780798148801) in 'n 288-bladsy sagtebandformaat.

Bestel dié roman direk by kalahari.net hier.

 

Meer inligting oor die lewe van Saartjie Baartman, kan gekry word by

http://en.wikipedia.org/wiki/Saartjie_Baartman