|
Chris Karsten se roman, Frats, het in
Augustus tydens die ATKV/Sanlam se
Woordveertjietoekenning-kompetisie, die
Prosaprys gewen.
Dit vertel die storie van 'n Khoi-vrou, Khoena,
se strewe na vryheid. Nadat die stat waarin sy
saam met haar familie gewoon het, afgebrand is,
is sy as 'n jong kind weggeneem om op 'n plaas
as slaaf diens te doen. Een van die eienaars van
die plaas buit haar seksueel uit, waarna die
ander eienaar haar oortuig om saam met hom na
Engeland te gaan.
Hier begin sy om geld te verdien in vertonings:
Eers as vertoonstuk vir mans, later ook as
prostituut en dan die verskriklike: as
studie-objek in Parys. Almal weet sy is die
frats, maar niemand kan dit vir haar sê nie.
Hoekom nie? Bang vir hulle eie gewelddadigheid?
Sy ontmoet vir Dolly, 'n vrou wat ook as kind
seksueel misbruik is. Dolly en haar vriend,
Simon, besluit om Khoena uit dié bose kringloop
te red.
Intussen droom Khoena deurlopend daarvan om
vryheid vir haar en haar broer te koop.
Frats
is 'n roman waarvan die fiktiewe hoofkarakter,
Khoena, se ervarings losweg op die lewe van die
geskiedkundige Sarah Baartman gegrond is. Sy is
die Khoi--vrou wat tydens die neëntiende eeu na
Europa geneem is om aan die publiek as "frats"
ten toon gestel, en deur wetenskaplikes
bestudeer te word. Maar die roman delf ook
dieper: die psige van die onderwêreld in Londen
rondom die 1800's, asook die tradisies en mites
van die Khoi, word kunstig by die storie
ingeweef.
Nadat jy hierdie boek gelees het besef jy opnuut
hoe belangrik 'n morele kode, 'n handves van
menseregte of nog beter die uitleef van jou
liefde tot jou naaste is.
|