jouapplous

Beatri Kotzé
Saamgestel deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Kyktyd op die wyedoek

Ontdek dié nuwe flieks wat in Julie in teaters landswyd uitgereik word.

The boys are back
I love you Phillip Morris
Pope Joan
Shrek 4 ever after 3D

The boys are back

The boys are back* Drama
* Met Clive Owen, Nicholas McAnulty, Laura Fraser en George MacKay
* Regisseur: Scott Hicks
* Open Vrydag 9 Julie

In hierdie sjarmante gesinsdrama ontmoet jy Joe Warr (Clive Owen) 'n slimjan-sportjoernalis met 'n astrante houding wat na die tragiese dood van sy jong vroutjie 'n paar van die lewe se harde realiteite in die gesig moet staar.

Joe woon en werk in Australië en het twee seuns, Artie, ses, en 'n rebelse tiener Harry, uit 'n vorige huwelik. As sy vrou Katy skielik sterf, besef hy dat hy en die kinders op 'n unieke manier 'n verhouding sal moet bou as hulle oor die dood van sy vrou wil kom. Van hier af sê Joe net ja vir alles en laat hy die seuns toe om te doen net wat hulle wil, maak nie saak hoe buitensporig of mal dit is nie. Dis nie lank nie of die lewe in die Warr-huishouding word deur dekadente en roekelose gedrag gekenmerk en die hele situasie stuur op 'n ramp af.

I love you Phillip Morris

I love you Phillip Morris* Komedie
* Met Jim Carrey, Ewan McGregor, Lesley Mann en Rodrigo Santoro
* Regisseurs: John Requa en Glenn Ficarra
* Open Vrydag 9 Julie

Hierdie swart komedie handel oor die onwaarskynlike, maar ware verhaal, van 'n uiters charismatiese swendelaar, Steven Russel (Jim Carrey), se reis van sakeman tot flambojante witboordjiemisdadiger.

Steven leef 'n doodnormale lewe. Hy is 'n orrelspeler en getroud met Debbie, 'n polisievrou. Dan beleef hy 'n oomblik van helderheid: hy is eintlik gay en van nou af gaan hy sy lewe vóluit leef, selfs al moet hy met die gereg bots om dit te doen. Om sy nuwe uitspattige lewenstyl te onderhou begin hy bedrog pleeg en mense uit hul geld swendel, maar word uiteindelik tronk toe gestuur waar hy die liefde van sy lewe ontmoet: die sensitiewe, saggeaarde Phllip Morris (Ewan Mcgregor).

Pope Joan

Pope Joan* Drama
* Met John Goodman, Johanna Wokalek, Iain Glen en David Wenham
* Regisseur: Sonke Wortmann
* Open Vrydag 16 Julie

Hierdie historiese rolprent is 'n samewerking tussen Duitse, Italiaanse, Britse en Spaanse rolprentmakers. Die film speel in die Middeleeue af en is op die Amerikaanse novellis Donna Woolfolk Cross se biografie / novelle met dieselfde naam gegrond.

Die storie is gegrond op 'n legende – een wat baie mense as waar aanvaar – van die enigste vrou wat die moeilike taak opgeneem het om 'n Katolieke pous te word. Vir 'n jong meisie in die 9de eeu is opvoeding amper 'n onmoontlike dinge, maar dis presies wat Joan die graagste wil hê. Sy moet vele struikelblokke oorkom, insluitend 'n persoonlike tragedie, en daarom besluit sy om haar as 'n seun te vermom om die Vatikaan se suksesleer te klim.

Shrek 4 ever after 3D

Shrek 4 ever after 3D

* Animasie
* Met die stemme van Mike Meyers, Eddie Murphy, Antonio Banderas, Cameon Diaz
* Regisseur: Mike Mitchell
* Open Vrydag 16 Julie

Die geliefde groen monster is terug vir 'n vierde rolprent. Saam met hom is sy getroue donkie, vroulief Fiona, en die bekkige gemmerkat, Puss in Boots. Shrek en Fiona leef nog rustig in die moeras, nou met hul drie kleinjies. Onder die oppervlak beleef Shrek egter 'n soort emosionele krisis. Hy ís mos 'n monster, maar wat is die punt daarvan om 'n monster te wees as niemand vir jou bang is nie? Hy gaan 'n ooreenkoms met die gladdebek Repelsteeltjie aan om sy oemf terug te kry en dis net hier waar die moeilikheid begin.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?