|
As jy moeg is vir geweld, kru taal,
oppervlakkige en onwerklike voorstellings of
soetsappige romanse, is hierdie fliek dalk net
waarna jy soek. Fireproof beeld die
huwelik en al die konflik, uitdagings en ander
fasette daarvan effektief en eg uit. In 'n tyd
waar egskeidingsyfers hoër as ooit tevore is,
kom herinner Fireproof aan die
kosbaarheid van die huwelik. Dit wys nie net die
sonskyndae nie, maar fokus aanvanklik juis op
die onweersdae wanneer dit lyk of daar geen hoop
is nie. Voordat jy besluit die fliek is nie vir
jou nie, gun jouself die geleentheid en kyk dit
– jy sal nie spyt wees nie. Daar is ook verskeie
aksietonele – een daarvan is die reddingspoging
van die kaptein in 'n huis wat afbrand. Die
verfilming van hierdie tonele is buitengewoon
goed en eg.
Erin Bethea speel die rol van Catherine, die
moedelose vrou wie se lui, onbeskofte man niks
goeds vir haar te sê het nie. Kirk Cameron
vertolk die rol van haar man, Caleb. Hy is die
kaptein by die brandweerstasie en baie van die
tonele speel by die brandweerstasie of by die
hospitaal (waar Catherine werk) af. Catherine en
Caleb se huwelik is aan flarde en albei is op
die punt om moed op te gee.
Caleb se pa gryp egter in en daag Caleb uit om
'n opdrag uit te voer wat hom 40 dae lank sou
neem. Teen sy sin, stem Caleb in en dan begin 'n
interessante 40 dae waarin hy elke dag 'n ander
taak het om uit te voer.
Die film is op 'n Christelike grondslag en veral
Caleb se pa deel baie waarhede uit die Bybel.
Dit pas goed in by die draaiboek sonder om "prekerig"
voor te kom. Voorstellings en gebeure is van so
'n aard dat mense maklik daarmee kan
identifiseer, ongeag in watter toestand jou
huwelik is.
Alhoewel die storie oor die huwelik gaan, is
daar soveel meer aan die film en kan enige
persoon dit geniet en iets daaruit kry.
Dit is vars en het heelwat verrassende elemente.
Een van die reëls by die brandweerstasie waar
Caleb werk, is dat hulle nooit hul maat in 'n
brandblussessie mag agterlaat nie. Hulle moet
altyd twee-twee bymekaar bly. Hierdie konsep
word deurgetrek na die huwelik van Catherine en
Caleb.
Fireproof
bring hoop en inspirasie en dien as aansporing
om in hopelose situasies moed te hou. |