Noord en Suid se kuns
Cultivaria Kunstefees – Paarl
23 tot 26 September
Vermaakliefhebbers kan uitsien na 'n opwindende feeskalender tydens vanjaar se Cultivaria Kunstefees wanneer van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars by verskeie lokale regoor die Paarl optree.
Die hooffeesproduksie,Tydloos Encore,is een van die hoogtepunte as die musieksterre Rina Hugo, Arina de Wit, André Schwartz, Jannie Moolman en Kevin Leo gehore betower met gewilde silwerdoektreffers, romantiese ballades, kenwysies van musiekblyspele en selfs 'n paar ruk-en-rol-treffers. Immergroen wenners soos Unchained Melody, Music of the Night, Nessun Dorma en Phantom of the Opera vorm deel van die musieklys. Ongelukkig word daar slegs drie vertonings van hierdie treffer-produksie aangebied.
Ander gewilde kunstenaars wat vanjaar by Cultivaria optree, sluit in Chris Chameleon met sy vertoning Noot vir Brood. Kevin Leo, Danie Niehaus en Mathys Roets keer terug met 'n nuwe vertoning van Drie van die Bestes, terwyl Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Valiant Swart asook Nianell en Dozi ook hul buigings op die Cultivaria-verhoog gaan maak. In die trefferproduksie Afri-Frans met Myra Maud en Anna Davel kan gehore luister na die bekorende Franse weergawes van tradisionele Afrikaanse luisterliedjies. Van die land se heel beste musikante, soos Matthys Maree, Denny Lalouette, David Klassen en Mauritz Lotz, maak deel uit van hierdie produksie.
Feesgangers se lagspiere gaan geprikkel word deur van die land se top komediante: Dowwe Dolla 007 is in aksie met Geskud en nie gepluk nie, terwyl Casper de Vries saamspan met Shaleen Surtie-Richards vir Bloemers en Roemers en Rian van Heerden met sy nuwe satire, Bols, weereens die wenkbroue sal lig.
Tussen produksies kan besoekers gerus die Heinz Emporium by die Faure-stadium besoek vir wêreldklas wyne en heerlike versnaperinge of kosdemonstrasies in die Bokomo Kombuis. Die TV-aanbieder en kookboekskrywer Sonia Cabano span saam met die skrywer Johan Bakkes, joernalis Lize Beyers en kontreikoskenner Dine van Zyl, om heerlike geregte te demonstreer. Feesgangers kan ook hul gunsteling kunstenaars van nader leer ken wanneer Johan Bakkes saam met hulle kuier op die Tygerburger Heinz Feesonderhoud-Verhoog.
Die jongspan kan hul eie jeugprogram geniet met opvoerings, musiek en pret aktiwiteite in die Liqui-Fruit kinderteater. Toesig en streng sekuriteit word verskaf en ouers kan met geruste harte die produksies geniet, terwyl die kleinspan baljaar. Vanjaar se kinderteater spog ook met 'n fliekhoekie en WII-speletjies vir binnenshuise vermaak.
Kaartjies kan ook by die feeskantoor gekoop word.
Vir telefoniese navrae, skakel 021 872 9754.
Aardklop Nasionale Kunstefees – Potchefstroom
28 September tot 3 Oktober
Die Aardklop Nasionale Kunstefees bied vanjaar 'n program met meer as 70 produksies, vanaf opera en dans tot splinternuwe dramaproduksies van bekroonde skrywers. Gewilde produksies van ander feeste sal ook by Aardklop te sien wees, soos onder meer die bekroonde ruimtelike teaterproduksie Betésda.
Met Aardklop se fokus om nuwe produksies te ontwikkel, kan gehore uitsien na produksies van vier Hertzogpryswenners: Ingrid Winterbach debuteer met die drama Spyt wat beslis nie vir fyngevoeliges of preutses bedoel is nie; Marlene van Niekerk se literêre kabaret Die kortstondige raklewe van Anastasia W kan na uitgesien word, Deon Opperman keer terug met sy suksesvolle drama van 1999, Magspel, terwyl Pieter Fourie se gewilde klug Die proponentjie ook 'n draai by Aardklop maak.
Dan is daar ook die Dood van 'n verkoopsman, Arthur Miller se tydlose drama, wat in Afrikaans herleef met onder andere Ben Kruger en Bettie Kemp in die rolverdeling.
Ná die sukses van die opdrag-kortkomedies verlede jaar, is drie ander skrywers ingespan om die suksesresep voort te sit: Nico Luwes (Draaijakkalse!), Hélène Truter (Goeie Giel!) en Leon Kruger (Skollies).
'n Hoogtepunt op die klassieke program is die Britse violis Daniel Rowland wat saam met die Chamber Orchestra of South Africa 8 Seasons gaan uitvoer – 'n program met Antonio Vivaldi én Astor Piazzolla se Four Seasons wat oral met groot lof ontvang is. 'n Bonus is die uitvoering van die Nederlandse duo Toeac wat op twee akkordeons klassieke musiek optower.
Liefhebbers van ligte musiek sal beslis nie teleurgestel word nie. Daar is a cappella-groepe (onder meer Wishful Singing uit Nederland), die groot rock- en jazzkonserte,'n tikkie boeremusiek asook die gewilde daaglikse musiekprogramme van Huisgenoot.
Besprekings kan by Computicket gedoen word.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouapplous volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?
