CD's van Joe F (Vliegmasjien) en Duskant Ombliksem (Perspektief)
Ritme-note vir jou musikale genot
Flip a Coin – Rissikstraat 95
Joe F – Vliegmasjien
Duskant Ombliksem – Perspektief
Dié a cappella-groep se nuutste CD word deur meer oorspronklike musiek, variasies, risiko’s, verrassings en komedie gekenmerk. Sewe van die snitte is deur lede van die groep geskryf, terwyl Dewald Wasserfall, van die groep Wasserfall, ook vir hulle 'n liedjie geskryf het.
Die luisteraar kan 'n verskeidenheid musieksoorte verwag: daar is klassieke treffers soos Louis Armstrong se What a wonderful world, ligte musiek, soos hul verwerking van Jannie du Toit se Liedjie vir jou en selfs poprock in die vorm van The Black Eyed Peas se I got a feeling en Fall Out Boy se I don’t care.
Dan waag hulle 'n kans om die a cappella-grense te oorskry en 'n instrument by te voeg. Die perkussiekunstenaar, Graeme Wuth, voeg tromme by die vyf manne van Flip a Coin (Niekie, Stefan, Johan, Michael en Katlego) se verwerking van Bright Blue se 1987-treffer, Weeping. Genoeg om enige luisteraar hoendervleis te gee!
Daar is ook 'n verrassing in die vorm van 'n verwerking van hul eie liedjie, Jasmyn, wat op hul vorige CD Heads and tails verskyn het. Dit word opgeklits wanneer mede-Potchefstromers, soos Bouwer Bosch (Straaligkinders), Deon Meiring (Glaskas) en Dewald Pieters (Winterstasie) saamsing. En om jou te laat saamsing is daar hul Classic Medley: hier gooi die ouens ses van Suid-Afrika se topkunstenaars se treffers saam en die resultaat is 'n joligheid soos min. Eden se Knieë lam, Ray Dylan se Hokaai, stop die lorrie, Kurt Darren se Kaptein span die seile, Nicholis Louw se Net die een vir my, Lianie May se Jy soen my nie meer nie en Romanz se My hele hart kry genoegsame a cappella-politoer om van vooraf te blink.
- Rissikstraat 95 word deur Muzic uitgegee.
- Om Flip a Coin vir 'n vertoning te bespreek, kontak Theresa du Preez by 011 880 1027 of theresa@thesixthsense.co.za.
- Besoek ook www.flipacoin.co.za.
Joe F, bekend vir sy treffers Hou my vas, Onthou jy my? en Cherry pop cola, is 'n volronde kunstenaar wat nie net op ander se talent ry nie. Hy is 'n goeie kitaarspeler en ook die skrywer van treffers soos Skud jou biscuit vir Pieter Koen, Dink jy aan my vir Rudi Muller en Vier goed vir Zak van Niekerk. Hy het ook al liedjies vir DJ Ossewa, Wynand Strydom en Chereé geskryf.
Twaalf van die 14 snitte op sy nuwe CD, Vliegmasjien, het hy self geskryf, vier daarvan in Engels. Die dieptreffende snit, Standing up, het hy as ambassadeur van Reach for a Dream saam met Nico Janse van Rensburg opgeneem. Nico is intussen aan kanker oorlede, maar die liedjie wat spesiaal vir Nico se ouers geskryf is, sal nog lank vir hulle en die luisteraar 'n kleinood bly.
Joe is iemand wat glo dat musiek uit die hart moet kom. Daarom maak hy met passie musiek en steur hom nie aan die tendense van kommersiële musiek nie. Sy liedjies gaan oor volwasse emosies en is ver verwyderd van enige soetsappige rymwysies en sintetiese klanke wat net bedoel is om kitsroem te verkry. Luister veral na die snitte Kyk jy op, Soen jou nou tot later, Reën en Unloved.
- 3 Gelukkige lesers kan Joe F se Vliegmasjien wen. SMS die woorde JW JOE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 35570 voor 30 September 2010. SMS’e kos R3.00 elk. Lees ook die kompetisiereëls.
- Vliegmasjien word deur Vonk Musiek uitgegee.
- Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester by 011 475 2187 of lydiaw@mweb.co.za.
- Besoek ook www.joe-f.co.za.
Duskant ombliksem – Perspektief
Die vier manne in Duskant Ombliksem is Reinhardt van Zyl – kitaar en stem; Hannes van der Linde – voorsanger; Wanter de Boer – baskitaar en Dana Wheeler – tromme.
Dié groep uit Centurion, Gauteng is nie nuwelinge op die Suid-Afrikaanse musiektoneel nie. Die eerste musiekvideo, Doringboom, van hul debuut-CD Met persoonlikheid het almal in die Afrikaanse rockgemeenskap opgewonde gehad, en hulle is daarna vir 'n MK-toekenning in die FX/Animasie-kategorie benoem.
Op die nuwe CD, Perspektief, is agt pittige snitte. Hul getroue fans sal veral Rokster met die skree-stem en rap-aanslag à la Linkin Park geniet. Die band sê hulle fokus voortdurend daarop om hul gehore 'n humoristiese uitkyk op alledaagse probleme te gee. Dis sekerlik hierdie feit wat hul lewendige optredes so gewild by hul aanhangers maak.
Hulle maak opregte rockmusiek, maar hul snitte wissel van die melodieuse openingsnit, As die son sak, tot meer hard core rock, waarvan die laaste snit, Naamloos gehokte nasie, wat saam met die metal band Hikatori opgeneem is, bewys is.
As jy van bands soos Glaskas, Fokofpolisiekar en Zinkplaat hou, kan jy gerus dié vierstuks se musiek 'n kans gee.
- 3 Gelukkige lesers kan Duskant Ombliksem se CD Perspektief wen. SMS die woorde JW DOB, tesame met jou naam en e-posadres, aan 35570 voor 30 September 2010. SMS’e kos R3.00 elk. Lees ook die kompetisiereëls.
- Perspektief word deur Aardvark Records uitgegee.
- Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester by 011 475 2187 of lydiaw@mweb.co.za.
- Besoek ook www.myspace.com/duskantombliksem.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouapplous volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

