Ritme-note vir jou musikale genot
Beatri Kotzé

deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Druk dié nuwe albums in jou CD-speler.

Quentin Prinsloo – Reën oor my
Andriëtte – Dink aan my
Dozi – Voel so reg

Quentin Prinsloo – Reën oor my

Die donkerkopsanger Nicholis Louw moet in sy pasoppens wees: hiér is kompetisie vir hom in die poprockgenre! Quentin Prinsloo se nuwe CD Reën oor my gaan beslis aanklank vind by almal wat na kunstenaars soos Kaptein Kurt, Gerhard Steyn en Ray Dylan luister.
Die snitte Gee dit vir my en Reën oor my behoort een van die dae die bogenoemde ouens opdraande te gee op nasionale trefferparades. As sokkie in jou are vloei en jy net wil dans, kry hierdie CD, want jy kan op die meeste van die 11 liedjies skoffel.

Een stukkie kritiek: Waarom die liedjie Koekie Koekeloekie op 'n andersins goeie popalbum sit? Dis heeltemal uit plek uit. Sover ek weet, is dit net Helen Zille (wat dit as haar amptelike liedjie tydens haar bemarkingsveldtog met die vorige verkiesing gebruik het) en die inwoners van die Kaapse Vlakte wat dink dit is oulik.

Quentin het 'n aangename stem en 'n mens sal hom met gemak in ander soorte musiekstyle kan voorstel. Die verskillende skakerings wat hy sy stem gee is veral verrassend en indrukwekkend. Die ou sing liedjies wat die mark tevrede stel en kan dit nog maak in die bedryf.

Quentin Prinsloo se CD, Reën oor my, is uitgereik deur Sting Music
Skakel 082 37436 41 of stuur 'n e-pos na info@musicmanagement.co.za om
Quentin vir 'n optrede te bespreek. Besoek www.quentinprinsloo.co.za.
terug na bo

Andriëtte – Dink aan my

Die Idols-ster Andriëtte Norman het verlede jaar 'n Vonktoekenning vir haar album Diamant gewen. En met reg ook. Sy het sekerlik een van die beste en mooiste vroulike stemme in Suid-Afrika. Haar opvolg-CD Dink aan my (Sony Music) stel haar talent pragtig ten toon, veral op die snit Songbird, 'n treffer van Eva Cassidy.

Die album bevat 12 snitte, waarvan nege in Afrikaans is. Die ander Engelse snitte is Stolen moment, geskryf deur Byron Kuntz en C Botha. Beide is bekende name in die musiekbedryf, sou jy die moeite doen om so bietjie deur die CD-boekies van Afrikaanse kunstenaars te blaai. Die liedjie is in die styl van nog 'n Idols-ster, Kelly Clarkson en waarskynlik by die album ingesluit om Andriëtte gewild onder die nasionale Engelse mark te maak. Sy sing ewe goed in Engels en Afrikaans en daar is geen uitspraakglipse nie.

Baie van die liedjies het 'n besliste moderne countryklank. Andriëtte doen dit uitstekend, veral daardie ritmiese ballades, soos die titelsnit Dink aan my, Rock my weer en Kom haal my. Die laer note is so verleidelik en sensueel en die hoër note suiwer en moeiteloos.

Luister veral na Andriëtte se duet saam met die Afrikaanse Idols-wenner Dewald Louw: Voor jy gaan slaap. In dié effens hartseer ballade vermeng hul stemme so goed hulle kan maar gerus oorweeg om ook 'n duetalbum uit te bring – soos die mode nou is.

Die CD sluit af met 'n Afrika-keurspel, waarby Mango Groove se Special star en Dance sum more asook Vusi ndlela en Jabulani ingesluit is. Die meisie kan maar net nie 'n voet verkeerd sit nie, want ook hierdie ietwat holruggeryde Suid-Afrikaanse skatte is foutloos gedoen. Dis heerlik nostalgies en die perfekte einde vir 'n CD wat van begin tot einde die luisteraar geboei hou.

Andriëtte se album Dink aan my is deur Sony Musiek uitgegee.
Besoek www.andriettenorman.co.za om haar vir 'n optrede te bespreek.

terug na bo
Dozi – Voel so reg

Een van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf doen met hierdie album die country-ding. Dis verrassend hoe aanpasbaar Dozi se stem is: van tradisionele Afrikamusiek, tot popduette saam met die suiwer sopraanstem van Nianell, en nou countrymusiek.

Op Voel so reg (Sony Music) het Dozi Afrikaanse lirieke geskryf vir bekende melodieë. Agt van die 14 liedjies op die CD is volgens hierdie resep opgeneem. Dis nie juis oorspronklik nie, maar wie kan nou 'n klip gooi, want die eindproduk is geslaagd en die groot man se aanhangers gaan beslis nie kla nie. Daar is ook vier Engelse liedjies: Always on my mind, Some beach, Grown men don’t cry en It’s a heartache. Dozi sou oorspronklik hiérdie treffer saam met Bonni Tyler opgeneem het, maar het tydens sy repetisies van Irene van Wyk gebruik gemaak. Hy was so geraak deur Irene se dood, dat hy daarna besluit het om eerder hul weergawe op die album in te sluit.

Dan sing Ray Dylan, Dozi se boesemvriend en countryster in eie reg, saam op As die son gaan sak. Dis 'n klassieke countryliedjie oor goeie tye en lekker kuier.

Dozi is ook patrioties op die snitte Vryheid vir my mense en Ossewa. Hierin sing hy oor geregtigheid, taal en geskiedenis. Die mars-ritme van Ossewa klink baie soos dit waarmee Bok van Blerk hom op sy CD Afrikanerhart besig hou. Dit blyk nou mode te wees om ten minste een opruiende call-to-arms-song op jou CD te hê, maar weereens kan jy nie kritiseer nie, want wie ken nie 'n liedjie soos De la Rey nie. Hierdie soort musiek het nou byna ons Afrikaanse kunstenaars se calling card geword. En die Afrikanermassas slurp dit noot vir noot op. 

As country egter jou gunsteling-genre is, kan jy gerus hierdie CD koop. Daar is nostalgie, opskopritmes, romantiese ballades, wense vir die toekoms en lekker stories.

Dozi se album, Voel so reg, word deur Sony Musiek uitgegee.
Bel Louis van Wyk by 012 991 4102, of stuur 'n e-pos na louis@musicprofile.co.za om Dozi vir 'n optrede te bespreek.
terug na bo

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend