wen
'n DVD van die Ses Snare. Skryf só in.

Agter die skerms met die Ses Snare
Beatri Kotzé

deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Wanneer hulle regmaak vir hul vertoning, is daar deurgans 'n speelse element tussen die kunstenaars teenwoordig terwyl hulle sukkel om die musiek saam te laat vloei. Maar wanneer hulle op die verhoog gaan, word die gehoor meegevoer met hul musikale professionaliteit.
Die Ses Snare-vertoning het drie jaar gelede bekend geword vir die wyse waarop dié ses talentvolle musikante ou treffers afstof, en met akoestiese kitaar en stem nuwe kleur aan bekende liedjies gee.
Tussendeur is daar ook heelwat oorspronklike musiek wat deur die manne self – Mathys Roets, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotzé – geskryf is.
Hul vertonings by feeste soos KKNK, Aardklop, Innibos en die Volksbladfees, was telkens uitverkoop en gehore kon nie uitgepraat raak oor dié opwindende groep nie.
Nou het hul 2010-seisoen, met 'n nuwe repertoire, afgeskop met hul heel eerste vertoning aan die Wes-Rand.
jouwêreld het voor die vertoning agter die skerms gaan inloer en gekyk hoe dié manne voorberei . . .
Ses Snare

Dit is drie ure voordat die Ses Snare se eerste vertoning in die Wes-Rand by die Roodepoort Stadskouburg moet begin, maar Blackie Swart se wit toerbussie staan reeds langs die teater geparkeer. Wouter van de Venter leun teen die kant van die bussie – kaalvoet, sigaret in die een hand, selfoon teen die oor. Met 'n pienkvoet by die huis moet jy gereeld inloer om te kyk of als nog oukei is, al is dit dan nou net oor die telefoon, verduidelik hy.

Die donkerte van die kunstenaaringang, agter die teater, omvou 'n mens soos 'n jas met die reuk van hout en stof in die neus. Skielik is daar lig en jy is op die verhoog. Voor die verhoog verskyn die rooi teaterstoele in 'n koninklike atmosfeer: 'n Heel gepaste venue vir die Ses Snare se optrede, want hulle kan beslis die kitaarkonings van Suid-Afrika genoem word.
Blackie werskaf op die verhoog; dan groet hy vriendelik en vertel hy is baie opgewonde oor hul eerste optrede hier in die weste van Johannesburg.
Hy spring van die verhoog af en demonstreer die wonderlike akoestiek van die teater: “Hoe-ha-ha-ha-haaaaaa!” kom sy beste villain-lag.
Regdeur die aand is hiérdie speelse element tussen die kunstenaars deurgaans teenwoordig.
Grappe, 'n oor en weer draakstekery en impersonations van Tolla en Casper maak alles deel uit van die voorbereiding by 'n Ses Snare-vertoning.

Maar wanneer kom die ander twee-derdes van die groep dan?
“So laat as moontlik,” antwoord Blackie laggend. “Sodat hulle nie hoef te help opstel nie!”
Dan word die vrolike gefluit van Thean Kotzé gehoor: “Howzit, howzit!” groet hy. “Sjoe, maar dis 'n lekker venue dié,” sê hy as hy na die ouditorium kyk. “Lekker akoestiek!”
Hy loop sleepvoet. Sy plakkies, driekwartbroek en los T-hemp is sprekend van sy ontspanne uitkyk op die lewe.
Wouter sluit ook by hulle aan en die een helfte van die sesstuks begin hul kitare instel terwyl Frikkie, die groep se getroue klankman, rondspring om al die bedrading reg te kry.
Die verhoog is 'n deurmekaarspul van kitaartasse, drade, mikrofone, luidsprekers en Wouter se hemp, wat hy tydens die vertoning wil dra, wat aan 'n musiekstander hang.

Al drie tokkel lukraak 'n paar akkoorde. Blackie se een hand is in 'n stut maar dit belemmer nie sy vermoë om te speel nie. Professionaliteit is iets wat hy, sowel as die res van die ses, hoog op prys stel.
Of soos hy dit stel: As jy nie speel nie, doen jy nie jou werk nie.
Thean se foon lui en hy spring dadelik op. Wouter en Blackie lag.
“Ek was nie eers so opgewonde oor my eerste kar soos wat Thean oor daai foon van hom is nie!” spot Blackie.
“Hallo julle!” kom Leon Ecroignard, die kontrabas- en baskitaarspeler, se groetwoorde saam met hom op die verhoog.

Four down, two to come.

Mathys Roets is egter kort daarna ook by. Sy mikrofoon word gou reggestel en sy kitaar word aangegee.
“Is jou kitaar aan, Mathys?” wil Frikkie weet.
“Ja, maar hy’s kwaai uit tune uit,” antwoord Mathys.
“It’s not taking off, Frikkie,” kla Leon.
“Giep, hoeveel ticket sales het ons hierso gemaak?” wil Wouter weet.
“Baie, maar nie so baie nie,” antwoord Giep van Zyl, die groepbestuurder, geheimsinnig.
“Het jy ons artikel in Vrouekeur gesien?” vra Blackie. “Hoe het die ou nou weer gesê? O, ja: tokkelgenietinge!”
“En wat van ons interview op Glitterati?,” val Wouter in. “Ek sweer ek het meer gepraat tydens die opname, maar in die uitsending sê ek dan niks!”

Dan is alle grappies skielik op 'n stokkie, hul stemme raak stil en instinktief neem die klank van die vyf kitare oor – die note van Call me the breeze laat jou vergeet dat hulle 'n oomblik gelede nog soos stout skoolseuns gelag en gesels het.
Elkeen van die manne is 'n talentvolle solokunstenaar, elk met 'n unieke styl, maar hiér raak hulle een in musiek.
Leon geniet dit duidelik: hy glimlag breed en speel met gevoel.
Wouter oefen met 'n ernstige uitdrukking op sy gesig, sy hare – soos gewoonlik – woes.
Thean en Blackie jam rustig, soos twee vriende wat by die huis die tyd met die kitaar verwyl.
Mathys lyk gedetermineerd, hard aan ’t oefen.

Die tweede liedjie, Ek is nie lus nie, gaan oor die sorge van die lewe met 'n luilekker piña-colada-eiland-klank. Maar hy wil nie so lekker vlot nie.
“Julle is nie driven nie,” kritiseer Leon dadelik.
“Die belangrikste is om iemand te kry wat shake,” is Blackie se advies.
Thean gooi die beat en die groep probeer weer.
“Moenie worry nie,” sê Blackie, “ons moet net vinniger speel . . . ”
“Yes! Yes! Yes! That’s the shit!” sê Leon, nou meer tevrede.
“My amp is nog nie reg nie, Frikkie,” kla Mathys.
Frikkie doen dadelik 'n paar verstellings aan die klank.
Met die volgende liedjie klink die kitaarklanke steeds nie heeltemal reg nie.
“Is dit 'n nuwe song? Ek onthou dit glad nie!” lag Blackie.

Maar daar is nie meer tyd oor om te oefen nie, want die gehoor staan buite in die foyer en wag; gereed om hul sitplekke in te neem. Die vyfstuks verdwyn na die kleedkamer om gereed te maak.

Blackie bevestig dat die groep nie eintlik saam oefen nie. Hulle individuele programme is te besig en dis daarom moeilik om die span bymekaar te kry vir repetisies. Wie waar inval, en wanneer wie sing, word soms net voor 'n vertoning vasgelê. En soms ken almal nie eers die woorde heeltemal nie.
Dis reeds 'n halfuur voor die vertoning moet begin, maar die laaste lid van die Ses Snare is steeds soek. Volgens Giep is Mel Botes nog besig met 'n opname van 'n TV-program, maar hy verseker daar sal wel ses snare in die vertoning wees.
Mel sny dit fyn: met slegs 20 minute oor voordat die vertoning moet begin, daag hy op.
Hy het verkoue en sluk gou 'n Berocca af. Die atmosfeer in die kleedkamer is ontspanne: Blackie en Leon vertel nog 'n laaste grappie en Wouter skiet die ander met 'n pea shooter.

Foto's deur Rozanne Myburgh

Dan is dit agt uur. Die ouditorium se ligte doof uit, en die Ses Snare word oor die interkom verhoog toe geroep.
“Waar moet ek my sleutels los?” wil Thean nog weet.
“Gaan werk!” berispe Blackie hom speels.
Dan stap die vyf kunstenaars op die verhoog, met Mathys wat vooruit in sy rystoel rol. Die geruis van die gehoor word stil as hulle met 'n spontane handeklap uitbars. Die musikante staan gereed met hul kitare in hul hande: hulle kyk vir mekaar en knik hul koppe. Blackie pluk die eerste drukke op sy elektriese kitaar, en Leon lê weg met die bas. Dan volg die res; skielik voel hulle mekaar aan en die musiek vloei.
Die eerste vertoning van die Ses Snare se 2010-seisoen het sopas begin.

jougeskenke

3 Gelukkige lesers kan elk 'n kopie van die Ses Snare se DVD wen.
SMS die woorde JW SES, tesame met jou naam en e-posadres,
aan 36545 voor 30 April 2010.
SMS’e kos R5.00 elk.

Lees ook die kompetisiereëls.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouapplous
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend