HANDWERK: ‘n Kussing vir babajouleefstyl
Maak ‘n sensoriese kussing vir jou baba om haar fyn motoriese vaardighede te stimuleer.

deur Karin Bain
Om jou baba sensories te stimuleer is baie belangrik en dit kan ook baie maklik wees. Maak hierdie kussing wat vol sensoriese ervarings is en ook fyn motoriese stimulasie bied.
Loop deur die winkels en kyk watter oulike voorwerpe jy op jou kussing kan vaswerk. Die kussing wat hier gewys word het die volgende:
* plastiese potskuurder
* groen en geel potskuurder
* kou fopspeen
* plastiese armband
* wol wat gespan is soos ‘n wasgoeddraad met twee wasgoedpennetjies
* klokkie wat weggesteek is binne ‘n teddiebeer.
* Wol strik, jy kan ook raffia gebruik
* Haarrekkie wat om ’n knoop kom
* figure uit vilt gesny met ‘n gleuf sodat dit oor knope kan hak
* growwe ritssluier jy kan ook ‘n velcro-strook vaswerk
* drie groot knope
Alhoewel die babas van 4 – 9 maande nie die knope of ritssluiter kan manipuleer nie, geniet hulle dit om aan al die verskillende teksture te vat en te proe. Daarom kan jy jou baba al van vroeg af op die kussing sit om te speel.
Later kan die kind verder ontwikkeling deur die rits oop en toe te maak, die haarrekkie om die knoop los te maak en die wasgoedpennetjies los en vas te maak.
Al hierdie items is met die hand vasgewerk. Ons het ‘n kussing van 60X60cm gebruik. Jy kan ook ‘n speelmat maak. Die kussing is egter veeldoelig, want hy kan regop voor of langs die baba wees en die baba kan ook bo-op hom lê.



Hierdie is voorwaar oulik vir leer en speel! Dit lyk of die kleinding dit geniet. Baie dankie ek gaan dit vir my kleinkind maak. Kan nie wag nie!