Slaai vir die braaijoutafel
Vat die vraag uit braaityd deur een van dié bykos-slaaie te maak wanneer julle weer braai.
deur Wilna Myburgh
Slapelose nagte. Dís wat bykosse vir braaivleis my nou al maande lank besorg.
Daar is nie ‘n mens wat nie nuwe resepte vir hul braaivleisetes soek nie. En almal het dieselfde kriteria: “iets anders, vinnig om te maak, moet voor die tyd gemaak kan word” . . .en het enigeen van hulle voorstelle?
Nee, g’n niks!
Uiteindelik was dit nie ‘n slapelose nag wat die begin van die oplossing was nie. Nee man, dit was ‘n braai, natuurlik.
“En die bykosse?” kan ek almal luidkeels hoor wonder.
Daar was heerlike steak, sappige hoenderstukke, die alomteenwoordige boerewors, brood en slaai.
Ja, een brood en een slaai.
En dít is die antwoord. Braaivleis is tog nie bedoel om moeilik te wees nie.
Al wat jy eintlik nodig het is een stysel – soos brood, paptert of ‘n aartappelgereg – en een slaai. Ek sê nie mens hoef nie moeite te doen nie, allermins. Gee net eerder aandag aan die kleiner details, soos om regtig ekstra vars slaaibestanddele te koop en ‘n interessante brood te koop of self te maak. Jy kan dan natuurlik na gelang van die geleentheid jou stysel of slaai interessanter maak, of selfs meer soorte maak.
Probeer met jou volgende braai een van die variasies op die reeds bekende tema van slaai:
Aartappelslaai met feta en olywe
Griekse slaai-rysslaai
Soetrissie-botterskorsie en kekerertjie-spinasieslaai
Rysslaai met mielies en kaas
Put nog braai-inspirasie uit jouwêreld
* Probeer hierdie heerlike resep vir paptert.
* Kry ‘n hele braai-spyskaart en ook idees vir ‘n vegetariese braai.
* Vind resepte vir heerlike anderste brode vir jou braai-spyskaart.
* Nog idees vir steak nodig? Moenie verder soek nie!
Aartappelslaai met feta en olywe
Hierdie is ‘n heerlike slaaisous vir aartappelslaai. Indien jy nie jogurt het nie, kan jy net mayonnaise ook gebruik.
Vir 6 persone.
500 g jong aartappeltjies
sout
sout en varsgemaalde swartpeper
handvol varsgekapte Italiaanse pietersielie
75 g fetakaas
ongeveer 8 swart olywe, ontpit en gehalveer
Vir die slaaisous:
50 ml Griekse jogurt
50 ml mayonnaise
20 ml strooisuiker
2.5 ml Engelse mosterdpoeier
25 ml witasyn
Kook die aartappeltjies tot gaar.
Spoel af onder lopende koue water.
Meng al die slaaisousbestanddele saam.
Gooi sout en die slaaisous oor die aartappels en meng deeglik. Proe gou om seker te maak of daar nie aan iets te kort is nie. Voeg ook varsgemaalde swartpeper en die pietersielie by.
Sny die fetakaas in blokkies en voeg dit saam met die olywe by die aartappels.
Hou in yskas totdat dit tyd vir opdien is. Sprinkel nog pietersielie oor vir garnering.
Griekse slaai-rysslaai
In plaas van ‘n normale Griekse slaai, sny jy hiervoor al die gewone bestanddele effens kleiner en gooi dit by rys vir ‘n heerlike koue rysslaai.
Vir 4 persone.
1 koppie rou rys
4 sprietuie, gekap
1 koppie gerasperde komkommer
ongeveer 300 g kersietamaties, gehalveer
75 g fetakaas, in klein blokkies gesny
6 swart olywe, ontpit en in kwarte gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
paar handevol varsgekapte basiliekruid
Kook die rys met ‘n knippie sout tot gaar. Gooi dit uit in ‘n mengbak om af te koel.
Voeg die res van die bestanddele en sout en swartpeper na smaak by.
Vir die slaaisous:
5 ml aangemaakte heelkorrel- of Engelse mosterd
25 ml olyfolie
25 ml vars suurlemoensap
25 ml rooiwynasyn
Meng al die slaaisousbestanddele en gooi dit by die rys.
Hierdie slaai is op sy beste as dit ‘n paar uur in die yskas gestaan het.
* Wenk: Vervang die rys met gaar koeskoes, Bulgaarse koring of quinoa.
Soetrissie-botterskorsie en kekerertjie-spinasieslaai
Eintlik het die slaai nie ‘n braai nodig nie, net homself! Indien jy dit net so eet, kan jy die slaai gerus nog meer opkikker met gekrummelde fetakaas, of selfs hoenderrepies vir ‘n volwaardiger ete. Bedien dan met ‘n ciabatta of Franse brood, en ek waarborg niemand sal vra waar die braaivleis is nie!
Vir 6 persone.
750 g botterskorsie*
sout en varsgemaalde swartpeper
Vir die sous:
100 ml soetrissiesous
50 ml tamatiesous
25 ml bruinsuiker
50 ml olyfolie
Vir die slaai:
1 blik kekerertjies
jong spinasieblare, of ‘n mengsel van spinasie, waterkers en roketblare
25 g kasjoeneute, gerooster
Verhit die oond tot 190 °C.
Sny die botterskorsie in klein blokkies, van ongeveer 1 x 1 cm.
Kook vir ongeveer 10 minute totdat dit net versag.
Gooi die botterskorsie in ‘n vergiettes dat die water afloop en gooi dit dan in ‘n oondpan.
Meng al die sousbestanddele en gooi die oor die botterskorsie, saam met genoeg sout en varsgemaalde swartpeper.
Bak vir 30 minute, totdat dit gaar en goudbruin is, maar roer dit halfpad.
Maak die blik kekerertjies oop en spoel dit onder lopende water in ‘n vergiettes af.
Voeg dit by die botterskorsie en meng dit om ook met die sous bedek te word.
Plaas in die yskas om af te koel.
Net voor opdiening, pak jy die blare van jou keuse op ‘n opdienbord, skep die botterskorsie-kekerertjie-mengsel bo-op.
Sprinkel kasjoeneute bo-oor as jy wil.
* Wenk: Koop klaargesnyde botterskorsie om jou lewe te vergemaklik.
Rysslaai met mielies en kaas
Die rysslaai lyk vir my al te mooi met sy groen, pers en geel spikkels. En dit proe ook lekker!
Vir 4 persone.
1 koppie rou rys
½ rooi ui, fyngekap
25 ml vars suurlemoensap
1 blik geelmielies (nie geroomd)
100 g Cheddar- of Goudakaas, in klein blokkies gesny
handvol vars, gekapte Italiaanse pietersielie
sout en varsgemaalde swartpeper
Vir die slaaisous:
125 ml jogurt
30 ml suurlemoensap
30 ml olyfolie
Maak die slaaisous deur al die slaaisousbestanddele te meng.
Kook die rys met ‘n knippie sout tot gaar. Gooi dit uit in ‘n mengbak om af te koel.
Gooi die suurlemoensap oor die gekapte uie en laat dit eenkant staan terwyl die rys kook.
Wanneer die rys afgekoel is, kan jy die mielies, uie, kaas, pietersielie, sout en swartpeper en die slaaisous byvoeg.
Meng alles deeglik en skep in ‘n opdienbak.
Bedek en plaas in die yskas totdat dit etenstyd is.
Stuur vir die skrywer ‘n e-pos


Ek dink hierdie slaai en kos lyk fantasties lekker en ek sal dit baie graag wil probeer … more na die rugby eet my gesin lekker!